Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Masedoniërs groet mekaar met die woorde “каде си?” (uitgespreek “kade si?”) wat beteken “waar is jy?” Danie en Esther van Niekerk het besluit om doelbewus met hulle lewe hierop te antwoord: “Ons sal wees waar die moeilikheid is!” skryf Jaco Strydom. Foto's: Verskaf

Jaco Strydom gesels met Danie en Esther van Niekerk: Die paradoks van witblits in ’n bottel in die vorm van ’n kruis

“Waar is Danie … en waar is ons kruiwa?” het Esther gewonder.

Meer en meer desperate, moeë, moedelose vlugtelinge uit Sirië het elke dag deur hulle stad beweeg. En waar was Danie? Hy was besig om oumense wat te swak is om te loop oor die grens te stoot in hulle kruiwa.

Masedoniërs groet mekaar met die woorde “каде си?” (uitgespreek “kade si?”) wat beteken “waar is jy?” Danie en Esther van Niekerk het besluit om doelbewus met hulle lewe hierop te antwoord: “Ons sal wees waar die moeilikheid is!”

Toe die oorlog in Sirië ’n paar jaar gelede op sy ergste was, het vlugtelinge deur Masedonië na die res van Europa gestroom, verdwaasde enkellopers, gesinne, bejaardes, kinders …

Danie en Esther het geweet die mense is lief vir tee en het ’n plek langs die straat ingerig waar vlugtelinge kon rus en gratis tee drink. “Ons het in totaal meer as sewentig duisend liter tee bedien in daai tyd,” sê Danie, en vertel hoe hulle hulle amper doodgewerk het, maar ook oor hoe “die moeite werd dit was”.

Later toe daar ’n vloed in ’n ander stad was, is hulle daarheen om te gaan help. So ook met ’n aardbewing op ’n ander plek. Hulle het ook al groentetonnels opgesit en is tans saam met ’n ander sendeling besig om ’n melkplaas te ontwikkel – om net ’n paar goed te noem. Vervelig bestaan duidelik nie in hulle woordeskat nie.

Die Van Niekerks woon al meer as agt jaar in Masedonië en hierdie is hulle eerste besoek aan Suid-Afrika in vyf en ’n half jaar. Ons gesels eers in my woonstel (stilte vir die podgooi-opname), en gaan eet dan middagete by ’n koffiewinkel. Ek het baie vrae.

Dit is niks vreemds deesdae dat mense na ’n plek oorsee trek nie, veral Afrikaanse mense, dink ek. Maar na Skopje in Masedonië? Van alle plekke! En dit met ’n kleiner inkomste as hier.

Waarom sou ’n mens so iets doen?

“Wat anders sal ons doen?” vra Danie. Hulle is oortuig die Here het hulle geroep om te help waar daar nood is, ’n lig te wees waar dit donker is. Uiteindelik doen wat hulle doen en is waar hulle is omdat hulle vir Jesus volg, verduidelik hulle. Hulle is lief vir die Here en lief vir mense.

“Ons probeer net gehoorsaam wees,” sê Danie. Dít is hoe eenvoudig dit vir Danie en Esther is.

Lees ook: Ontdek nuwe hoop op ou plekke: Jaco Strydom gesels met De la Harpe le Roux

Hierdie manier van dink is duidelik niks nuuts vir hulle nie. Jare gelede toe hulle nog in Suid-Afrika gewoon het, het Esther gekies om in Hillbrow by MES te werk – juis omdat daar nood is.

Hulle het ook vroeg reeds besluit om kinders aan te neem, sou die nood op hulle pad kom. In Hillbrow het hulle Zane, hulle eerste kind, aangeneem. Chereni, hulle vierde kind, is in Masedonië aangeneem. Hulle het ook twee biologiese kinders.

“Ons voel om met mense te werk, where ever, veral mense wat nie inpas in die kerk nie en mense wat die kerk nie wil hê nie. Nou sit ons ook met ’n verskeidenheid van daai mense in een gesin!” sê Esther.

“Twee van ons kinders het uitgekom dat hulle gay is,” sê sy en vertel hoe maklik dit vir haar en Danie was. Hulle is nog altyd lief vir mense met ander seksuele oriëntasies, selfs nog voor hulle mekaar ontmoet het. Wat wel moeilik is, is wanneer die mense rondom hulle, mense vir wie hulle lief is, sukkel om dit te aanvaar.

Hulle vertel hoe dikwels hulle al kritiek moes verdra. Eers in Suid-Afrika omdat hulle ’n Afrikaseun uit Hillbrow aangeneem het. Mense sou vir Esther soms in ’n winkelsentrum stop en vra of sy probeer in wees, of ’n punt probeer bewys, of hulle sou dink dit is haar bediende se seun en dan moes sy verduidelik.

Later wou kerkmense weet waarom hulle dan oorsee gaan werk as hier soveel nood in Suid-Afrika is. Mense is gewoonlik heel beïndruk wanneer iemand oorsee gaan om groot geld te verdien of ’n veiliger gemaklike lewenstyl op te soek, minder so wanneer iemand gaan om mense in nood te gaan help.

Lees ook: Amos sal vir jou uitnooi en tuis laat voel: Jaco Strydom gesels met Amos Petersen

Hulle was ook al té ekumenies vir van hulle evangeliese medewerkers, want hulle sien die mooi raak in wat die Evangeliese Christene doen, maar veral ook toenemend die Katolieke en Ortodokse kerke.

“Die Roomse Kerk se Pous was in Masedonië en dit was amazing om te sien. Alhoewel ons die enigste Protestantse mense daar was waarvan ons weet. Die pous het uitgereik na die Ortodokse kerk en begin brûe bou. Dit is wat ons ook wil doen. Brûe bou tussen gelowe en mense van verskillende agtergronde en rasse,” sê Danie.

Hy en Esther voel hulle het juis iets om by die mense wat in ander tradisies as hulle staan te leer – en eenheid was vir Jesus baie belangrik.

“Seker die grootste les wat ons die afgelope tien jaar geleer het, is dat ons nie beter is as die ander mense nie,” sê Danie, en vertel van die dikwels pynlike groeiprosesse wat hulle deur is.

Een van hulle grootste inspirasies is Moeder Teresa, ’n Masedoniese Albanees wat in Skopje gebore is.

Na ons gesprek ry ek huis toe en dink: So, dís hoe dit lyk as mense “Neem my lewe, laat dit, Heer …” sou sing en actually bedoel wat die woorde sê.

Die Van Niekerks het my ’n geskenk gegee uit Masedonië: ’n tipe witblits (of iets heelwat erger, vind ek later uit) in ’n bottel in die vorm van ’n kruis.

“You can do an exorcism with that!” lag iemand wat nou die dag die bottel op my kombuiskas sien staan.

Danie en Esther is passievolle, vrolike, dapper, soms deeply troubled mense, sonder pretensie, soos die paradoks van witblits in ’n bottel in die vorm van ’n kruis – jy sou selfsug en liefdeloosheid met mense soos hulle kon uitdryf.

 

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top