Amos sal vir jou uitnooi en tuis laat voel | Jaco Strydom gesels met Amos Petersen

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“As jy vir vlugtelinge uit Afrika in Malta sou vra, nou waarom kom jy Europa toe, sê hulle presies dieselfde as wat iemand sê as jy vra, waarom kom swot of werk jy op Stellenbosch: ‘Ek wil my pa trots maak, ek wil ’n beter lewe hê, ek wil vir my familie sorg’,” vertel Amos.

“Ek like dit mos om mense te gather en te invite, dis wat ek maklik doen. Ek gaan nou nie maklik ’n sisteem create nie, moenie vir Amos vra nie,” lag hy, “ek is horrible met dit, maar ek gaan vir jou invite, hoor!”

Ons gesels op Stellenbosch, hy is pas terug uit Malta waar hy onder vlugtelinge gewerk het.

Amos Petersen se pa was ’n VGK-predikant op Vredenburg in die Wes-Kaap, sy beste vriend Derik Basson se pa was die NG dominee op die dorp.

Hulle vriendskap kom ’n lang pad, reeds van kleuterskooldae af. Dit is dieselfde Derik wat hom jare later sou saamnooi na ’n hoërskoolkamp op Dwarskersbos, een van die groot draaipunte in sy lewe.

“Ek was altyd keen vir ’n kamp,” sê Amos, “en ek het op daardie stadium reeds geweet die Here wil my gebruik in die bediening, maar my aanvanklike motief was, ek wil soos my pa wees, soos ’n Christen-rockstar rol, daar in die woongebied rondry in die Corolla en net waai vir almal. En toe op die kamp, kry die Here my hart beet en sê, ja, ek wil jou in die bediening hê, maar moenie vir ’n oomblik dink dit gaan oor jóú nie.”

Lees ook: Dana Snyman | ‘Ons vra God vir jong mannetjies soos vader Claerhout’

Amos vertel dat hulle vriendskap ’n effek gehad het op hulle pa’s, die twee dominees van uiteenlopende gemeentes op die dorp, dat hulle nader aan mekaar beweeg het en uiteindelik ook hulle gemeentes.

Juis hierdie “nader beweeg aan mekaar”, is Amos se groot passie. Jy hoor dit as hy praat oor ekumene en sien dit in sy passie vir vlugtelinge, die mense wat sekerlik in enige samelewing die meeste uit voel.

Amos het na skool teologie studeer op Stellenbosch waar hy later ook vir ’n tyd lank jeugleraar was by die studentegemeente, Kruiskerk.

Ek vra hom oor die mense wat ’n invloed op sy lewe gehad het. “Oom Erik van Moederkerk Vredenburg is in die diepste sin van die woord ’n geestelike pa. Ek ken hom al van ouderdom vyf af. Hy is net nog altyd in my corner. Hy is so konstant en help my net so om uit my eie kop te kom,” sê Amos.

Lees ook: Die ongasvrye kerk … toe en nou

Hy vertel ook van die invloed van sy ma wat destyds dapper opgestaan het teen ongeregtigheid, sy diep geestelike ouma wat altyd vertel het dat sy op ’n sendingstasie grootgeword het en van Jan van Zyl, een van die dominees by Moedergemeente op Stellenbosch wat vandag steeds ’n mentor is na wie hy opkyk.

Jan van Zyl het hom destyds gewaarsku dat hy versigtig moet wees om nie in die strik te val om homself te begin meet aan die grootte van sy inkomste nie. “’n Belangrike les veral vir ’n student op Stellenbosch waar ’n mens jouself maklik begin meet aan jou status en materiële besittings,” sê Amos.

Voor ons gesprek drink ek koffie saam met Irénée Heyns, een van die ander dominees by Kruiskerk. “Amos het nog altyd ’n ekumeniese hart,” sê hy toe ek hom vertel van my volgende afspraak.

Amos is tans deel van Africa Inland Mission en werk saam met All People Church op Stellenbosch onder vlugtelinge in die omgewing. Van hulle kom uit Somalië, ander uit Malawi, Zambië en ander Afrikalande.

Wat dink hy van die groeiende xenofobie in Suid-Afrika?

Lees ook: ’n Dokter wat sing en skryf oor hoop | Jaco Strydom gesels met Ansa van Geest

“Ons is Africans, maar ons like nie die ander Africans in ons land nie?” sê Amos. “Ek kan nie insien dat ons so hostile is teenoor ander Africans nie. Iets gebeur wanneer jy saam met hierdie mense Bybel lees en eet en saam kuier.” Een van die dinge wat hy saam met Africa Inland Mission aanbied, is die Discovery Bible Study. Amos sê vlugtelinge van ander gelowe, selfs Moslems, is oor die algemeen verbasend gretig om saam te ontdek wat in die Bybel staan.

Hy het groot lesse geleer toe hy die afgelope twee jaar in Malta gaan woon het waar hy saam met ’n plaaslike gemeente onder vlugtelinge gewerk het.

Malta is een van die eerste plekke waar vlugtelinge uit Afrika land wanneer hulle na Europa vlug.

Lees ook: VGKSA groet twee ‘brugbouers’

Amos vertel van die wonderlike vriende wat hy gemaak het op die eiland en ’n groep Christentieners, saam met wie hy bedien het … én van ’n plaaslike meisie wat sy hart gesteel het.

“Ek het nou die dag in Maltees ouers gevra!” sê Amos. Die meisie, Maria, is steeds in Malta waar sy tans besig is met ’n meestersgraad in verpleging, maar sy trek binnekort Suid-Afrika toe.

Ek vra Amos oor sy droom vir die kerk in Suid-Afrika.

“Ons moet lekker hande vat, man! Ouens van Moederkerk en ander kerke moet by ’n staff meeting kan sit en sê: ‘Jis man, dis amazing wat Every Nation doen, kom ons raak excited oor wat die Here doen daar in die Kongolese kerk in Bellville,’ en ons moet daai theology van suspicion net so in die pit in gooi en opgewonde raak oor hoe ons op grondvlak lief kan wees vir mekaar en na mekaar se stories begin luister. Banish daai theology of suspicion!

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria in Pretoria en stigter van die Echo-jeuggemeenskappe.
Word 'n vriend van Kerkbode