Die ongasvrye kerk … toe en nou

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek kom uit ’n geslag van predikante. My pa was ’n predikant, my suster se man was ’n predikant, hulle seun is ’n predikant, my man is ’n predikant en my seun is ’n predikant. My ondervinding en belewing van predikante kom dus van my doekdae af. Ook met die “hiërargie” van predikante is ek goed vertroud. My pa was lid van die moderatuur van die destydse Natalse NG Kerk. My ma was een van die stigters van die “Bond van Dienaresse” wat later die Vrouediens geword het. My man was agt jaar lank skriba van die Algemene Sinode en ook moderator van die Wes-Kaapse sinode. Ek self het in kerkrade gedien en was ’n afgevaardigde na sinodes.

Ek ken die kerk dus deur en deur in al sy vorme en formate en strukture. Van kleins af moes ons drie kinders vrede maak met al die vergaderings waarheen ons ouers altyd op pad was. Ons het ’n wonderlike swart vrou en haar man gehad wat na ons moes omsien as ons ouers by kerkvergaderings moes wees. In die aande het Melina kos gemaak, kleintyd vir ons gebad en stories vertel. Hulle was ons plaasvervangende ouers. Zwempi het voor die hek gewag tot ons pa en ma soms laataand terugkom van hulle kerklike verpligtinge. My pa het dikwels in Zoeloe gepreek en hoewel diep in die apartheidsjare, was die onderlinge verhoudings goed. Dit het my eers later getref dat daar amper onoorbrugbare gapings tussen ons was – juis wat die kerk betref. Zwempi was wagter by die hek, maar ons het nooit saam na dieselfde kerk toe gegaan nie. Hy en sy vrou is wel saans binnegeroep vir huisgodsdiens. So het ek grootgeword.

LEES OOK: ‘NG Kerk bevind haarself in hierdie strik’

Later jare, toe ek met ’n predikant getroud is, het die prentjie nie veel verander nie. Kerkvergaderings was nog altyd aan die orde van die dag. My man was dikwels weg van die huis met in ’n stadium drie kantore – in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria – wat beman moes word. Uit ons huwelik is drie kinders gebore waarvan die een ook predikant geword het. My geskiedenis met predikante en die kerk was op en af – en die laaste deel van my storie was die ergste. My seun, wat ’n gay predikant is, het my die kerk laat belewe soos Zwempi-hulle seker die wit kerk beleef het. Ongasvry.

Die sinodes het hulle grys gepraat oor homoseksualiteit en jare lank nie tot ’n punt gekom nie. Die Wes-Kaapse sinode het uiteindelik ’n besluit geneem wat gay mense in die kerk verwelkom, maar dit was tog bra binnensmonds. Dit het ook die besluit van die Algemene Sinode in 2019 geword. Dat die kerk deur ’n hofsaak daartoe gedwing moes word, is tragies en het ’n wrang smaak in my mond gelaat. Dit het ook beteken dat kerkrade in volle beheer was of hulle ooit ’n gay predikant wil beroep. In my hart het ek geweet min of geen kerkraad sou ’n gay predikant wou beroep nie. Na die “triomfantelike” besluit van 2019 het dit in die praktyk van gay predikante – en “gewone” gay lidmate – se lewe ook so uitgespeel. Weer moes hulle (en moet steeds) verwerping deur kerkmense belewe, al is dit dalk nie meer so blatant soos voorheen nie.

LEES OOK: Oor die reg om te verskil

Toe ons ’n paar jaar gelede in Glentana ’n groep gestig het en gays en hulle mense daarby betrek het, het ons oor en oor die verhale van hulle verwerping deur die kerk gehoor. Ongasvryheid! Deesdae moet gay predikante probeer oorleef deur sonder die kerk se bystand een of ander werk in die hande te kry. Daar word deur sommige Christene en kerklui selfs gesê dat hulle hulle eie kerk moet stig. Ek het soms in Kaapstad na so ’n kerk vir gay mense gegaan, en ek het gedink: Wat ’n aanklag teen die “gemeenskap van die heiliges” dat gay mense apart kerk hou! Selfs die gedagte dat gay predikante op deeltydse basis as tentmakers beroep moet word om hulle sodoende in die kerklike strukture te betrek, het min aftrek gekry.

Die vrese dat die kerk sal skeur, het meegebring dat die kerklike establishment ’n oop deur het vir beswaardes, maar nog baie min gedoen het om herstellende geregtigheid te bewerk en daadwerklik versoening/begrip tussen heteroseksule en homoseksuele mense in die kerk te bevorder. Daar is wel ’n ruk gelede deur ’n gay-afvaardiging met die NG Kerk se moderatuur gepraat oor herstellende geregtigheid … maar dit is al twee jaar na die Algemene Sinode se besluit, en nog niks het in dié verband gebeur nie. Die gepleit het op dowe kerkore geval. Reeds twee prominente kerkleiers het dr Chris van Wyk om verskoning gevra. En die beswaardes van die Kairos Netwerk slaag daarin om die kerklike establishment se aandag gevange te hou.

Ongelukkig, na ’n leeftyd in die kerk, het ek die kerklike strukture afgeskryf. Hulle is meestal aan die retireer en is huiwerig om moedig die regte ding te doen. Maar my Here is nog altyd die Koning van die kerk wat, toe Hy op aarde was, besondere deernis vir verontregtes en randfigure gehad het. Onthou jy? Hy het saam met hulle geëet en vrolik gewees. Die beswaardes het gemor en sy dood beplan, maar Hy het geweet wat gasvryheid is. Vir Hom volg ek.

Word 'n vriend van Kerkbode