‘Ons vra God vir jong mannetjies soos vader Claerhout’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die laaste keer toe ek hier by va­der Frans Claerhout se Katolieke sendingstasie buite Twee­spruit in die Vrystaat was, het hier kin­ders gespeel en mense rondgestap. In die kombuis het vroue groot potte geroer en snye brood gesmeer, die gras was gesny, die stoepe gevee en blinkgevryf. Twee jaar gelede.

Vader Claerhout was toe al oorlede, maar Maria Makoa het die plek bestuur. Die ateljee was nog hier. Jy kon die helderkleurige figure sien wat hy sommer teen die muur geskilder het.

Ek stap soontoe. Die ateljee se deur is afgebreek. Dikwels sou jy vader Claerhout voor sy esel hier aangetref het. Iewers het die pers bank gestaan waarop hy graag gesit het. Sy hond, ’n labrador, sou ook hier lê.

In soveel huise hang ’n Claerhout-skildery. Sekere kunskenners ag sy werk nie baie hoog nie, maar veral sy vroeëre skilderye is gesog.

Nou lyk dit of hier soms beeste in v­ader Claerhout se ateljee kom skuiling soek. Op die vloer lê beesmis, soos in ’n kraal. As dit maar donkiemis was. Va­der Claerhout was lief om donkies te skilder.

Donkies en sonneblomme en vroue met baba’s en vrugtebome vol bloeisels.

LEES OOK: Só kan ons kalm oor die Covid-entstof met verskil

Omtrent al die geld wat vader Claerhout met sy kuns verdien het, het hy gebruik om hierdie sendingstasie aan die gang te hou: ’n kerkie, ’n kleuterskool en ’n koshuis vir die laerskool hier naby. Hy het vir vele kinders se opvoeding betaal.

Die Katolieke Kerk het glo nie geld om die sendingstasie aan die gang te hou nie.

Langs die deur kan jy nog een van vader Claerhout se muurskilderye sien: ’n Madonna-figuur in swart en rooi. Hy het graag Madonna-figure geskilder. Ook moeders en kinders. Party vroue het naak vir hom kom poseer.

Vader Claerhout is in België gebore en het in 1946 op die ouderdom van 27 as ’n Katolieke sendeling Suid-Afrika toe gekom. Hy het homself leer skilder en is nooit terug België toe nie.

Hy het graag mense hier ontvang en soms sou hy ’n glas whiskey vir hom en die besoeker skink. Vader Claerhout was lief vir sy whiskey. Ook ander skilders en skrywers het hom besoek. Etienne Leroux en sy eerste vrou, Renée, ook ’n skilder, was meer as een keer by vader Claerhout. Toe die Britse skrywer, Graham Greene, in 1973 by die Lerouxs in Suid-Afrika kom kuier het, het hulle hom gebring om vader Claerhout te ontmoet.

Saam met Greene, ’n verloopte Katoliek, het hulle ’n Roomse mis van vader Claerhout op Thaba Nchu bygewoon.

“Hy was ’n sagte man, baie sag, baie sag,” het Maria Makoa my vertel toe ek die vorige keer hier was. “Ek verlang baie na vader Claerhout. Ons bid ge­reeld … to God to send us more boys to become priests. Ons vra God vir jong mannetjies soos vader Claerhout.

“As ons nog mannetjies soos vader Claerhout kan kry, sal die land opstaan. Sonder mense van vader Claerhout se kaliber sal ons nie meer kan nie. Daar gebeur baie dinge in die land wat ’n mens nie meer hoop gee nie.

“Ons raak moedeloos, ons raak bang. Ons worry oor ons kinders se toekoms. Dit lyk of die toekoms ’n bietjie dood is. Die leiers doen bedrog, hulle lewe net vir hulle self. Vader Claerhout het ons geleer ’n mens lewe vir ander mense. Ek is wie ek is vandag deur vader Claerhout.”

LEES OOK: #Covid: Oos-Randse gemeente verloor leraar én orrelis in een week

Vergeefs, alles vergeefs, kom fluister die Prediker in my oor terwyl ek tussen die verlate geboue deur stap in die rigting van die kerkie wat onder vader Claerhout se toesig gebou is. Die gras is enkelhoogte. Ruite makeer. Nóg deure uitgebreek.

In ’n leë vertrek in vader Claerhout se huis staan ’n geroeste Westclock Zobo-wekker op ’n vensterbank. Op die vloer is ’n hoop dokumente en inkleurboeke vol Bybelse figure. Ook ’n almanak van ’n Katolieke gemeente in Bloemfontein, met ’n afdruk van een van vader Claerhout se sonneblom-skilderye daarop. Baie vroliker as die kerkalmanakke wat ek ken.

Hier en daar is vader Claerhout se hand nog te sien: Teen ’n muur sprei een van vader Claerhout se Jesus-figure sy arms wyd oop. Naby die kerkie is ’n beeld van ’n donkie wat hy gemaak het. Teen ’n ander muur blom een van vader Claerhout se sonneblomme blekerig.

Beteken dit kuns is meer durend as ons pogings tot goeie dade?

Die kerkie is leeg binne. Die altaar is verwyder en nêrens is ’n blaker en ’n kers om aan te steek nie. Die kruis is van die muur gebreek. Wat van Maria Makoa geword het, weet ek nie.

Op die vloer lê ’n Bybelprent met die Heilige Maria daarop. In die lug is die reuk van vlermuismis. Ek steek ’n kers in my hart aan en probeer die stilte in myself vind.

“When we are not sure, we are alive,” skryf Graham Greene iewers.

Ek stap buitetoe. In die verte, na Clocolan se kant toe, is die sonneblomlande nog geel in die blom.

Word 'n vriend van Kerkbode