Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die Kemptonpark-gemeente se tentmakerleraar ds Nico Bekker en hulle orrelis Hettie Viljoen is binne dae van mekaar aan Covid-verwante oorsake oorlede. Foto’s: Verskaf

#Covid: Oos-Randse gemeente verloor leraar én orrelis in een week

Die NG gemeente Kemptonpark is ’n dubbele hartseer toegedien. In een week het dié klein gemeente op die Oos-Rand beide hulle geliefde tentmakerleraar Nico Bekker én hulle orrelis Hettie Viljoen weens Covid-verwante oorsake aan die dood afgestaan.

“Nico se hart was opreg. Hy kon moeilik wees, maar hy was opreg. Hy het sy geloof diep uitgeleef en het soos ’n kind geglo in die Skrif,” sê sy jarelange vriend ds Bert van Zyl, leraar by die buurgemeente Kemptonpark-Noord. Van Zyl het op Vrydag 27 Augustus Bekker se intieme roudiens vir familie en nabye vriende waargeneem.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2021/09/Kemptonpark-2-Ds-Nico-Bekker-web.jpg” caption=”Ds Nico Bekker” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

“Ek sal Nico onthou vir sy toewyding aan die kerk en sy helder roepingsbewustheid, veral in tye toe dit swaar gegaan het en hy vir ’n tyd sonder ’n standplaas op ’n beroep gewag het. Nico was passievol oor sy gesin en baie lief vir sy drie dogters,” onthou dr Johan Botha van Hoëveld Sinode wat ook by die roudiens was.

Weens die Covid-beperkings op getalle kon die gemeente, wat uit meestal ouer mense bestaan, nie sy roudiens bywoon nie. ’n Deurry-diens is gehou waar lidmate blomme op sy kis kon sit.

“Ek kon nie glo hoeveel lidmate gekom het om vir ‘ons dominee’ totsiens te sê nie,” vertel sy vrou Adri wat saam met hom al 17 jaar by dié gemeente is, Nico se tweede gemeente, waar die lidmate soos familie is.

“Nico was op sy gelukkigste as hy met kerksake besig was. Hy het die gemeente en sy gesin altyd eerste gestel. Hy was ’n omgee-mens … en hulle kerkorrelis Hettie Viljoen ook,” vertel sy.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2021/09/Kemptonpark-3-Hester-Viljoen-web.jpg” caption=”Hettie Viljoen” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Die 79-jarige Hettie is ’n paar dae voor Nico (63) oorlede en is op Donderdag 26 Augustus op haar geboortedorp Warden in die Vrystaat begrawe. “Sy was een wat gemaklik met mense gekommunikeer het … partykeer moes sy haar orrelspel voor die diens stop soos mense haar kom groet het,” vertel Christo, haar eggenoot vir die afgelope 57 jaar. Die egpaar het einde Junie saam Covid opgedoen, skaars ’n dag ná hulle by die Village Walk-aftreeoord in Benoni ingetrek het, en moes toe twee weke in isolasie deurbring.

Hulle het beide op 1 Junie hulle eerste Pfizer-entstof-inenting gehad.

LEES OOK: Predikant-kunstenaar sterf aan Covid-19

Christo het goed herstel maar nie sy vrou nie, wat op haar dag ’n raakvatter in die gemeente en voorsitter van die vrouediens was. Hettie het eers longprobleme en toe hartversaking ontwikkel. Sy is tuis oorlede enkele dae ná sy die tweede keer uit die hospitaal ontslaan is.

Nico is ’n paar dae later, op Vrydag 21 Augustus, met longinfeksie, lae suurstofvlakke en water om die hart na Life Glynwood-hospitaal in Benoni se intensiewe sorgeenheid gehaas om op hoëvloeisuurstof geplaas te word. Hy is die volgende middag in dié hospitaal oorlede.

LEES OOK: Covid-19: Twee sterf in een week

Sy gesondheid het ’n knou gekry na hy einde Maart vanjaar Covid-longontsteking opgedoen het. Hy is ’n diabeet en het hoë bloeddruk, maar was gesond vóór dit, sê Adri.

Kemptonpark-gemeente is die oudste NG gemeente van dié Oos-Randse dorp in die Hoëveld Sinode. Die laaste twee dekades het lidmaatgetalle en bywoning egter drasties afgeneem soos al meer Afrikaanse gesinne weggetrek en die demografie van die omgewing verander het.

Nico is sedert 2003 leraar by Kemptonpark-gemeente. In 2012 moes hy op vroeë aftrede gaan omdat die gemeente nie meer sy salaris kon bybring nie. Hy het as tentmakerleraar voortgegaan terwyl hy voltyds skoolgehou het en Adri as maatskaplike werker gewerk het. Met fondsinsamelings het hy kliphard saam met die gemeente gewerk. “Hy moes altyd die kerrie maak en sou al soggens vieruur begin kook om seker te maak die kerrie is reg as die basaar begin … en hy het tot die laaste gebly om te help opruim,” onthou Adri.

LEES OOK: Vredendal: Verslaenheid ná Covid dorp tref

“Ons twee buurgemeentes het mekaar ondersteun … en ek het by hom kom huil en hy by my,” vertel Van Zyl. Hy en Nico was saam teologiestudente op Tukkies (Universiteit van Pretoria). Van Zyl deel sedert sy vriend se afsterwe sy preke op WhatsApp met beide hulle gemeentes.

Die kerk se pastorie is ook later aan die Christelike welsynsorganisasie MES verkoop wat ’n oornagskuiling vir haweloses die afgelope dekade daaruit bedryf. Die Bekkers bly in hulle eie huis.

Die Kemptonpark-gemeente het vanjaar sover vier sterftes weens Covid gehad.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top