Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Dr Dewyk Ungerer skryf: “Beste Kollega, kerkraad en gemeentes van die Noordelike Sinode, Nuwejaarsoggend – 1 Januarie 2023 – sit ons as gesin (al my kinders, kleinkinders en my 86-jarige moeder) vir die eerste keer in baie jare saam om die ontbyttafel. My seun vra toe wat elkeen se nuwejaarsvoorneme vir 2023 is. Hy maak graag tuisvideo’s en wil graag elkeen se voorneme digitaal vaslê. Skielik moet jy dink – ’n voorneme wat jy 365 dae moet kan volhou. Ek kon nie anders as om dadelik te reageer nie. My 2023-voorneme is om elke dag met HOOP – nuwe Hoop – te leef. En om so te leef dat ander ook die Hoop in my kan sien. Kort daarna lees ek die volgende op sosiale media en besef dit is hoekom my voorneme is om met Hoop te leef: Hoop is die wete dat
- elke dag ’n nuwe begin is;
- niks vir altyd is nie;
- dit vasbyt is en nie-moed-opgee nie;
- die verwagting skep van iets goeds wat voorlê;
- dit ’n realiteit is wat ons op die toekoms laat vertrou;
- dit jou krag gee om enige struikelblok te oorkom;
- jy nooit weet of dit waarop jy hoop gaan realiseer nie, maar jy klou steeds daaraan vas. JY MOET! Mag jy nooit hopeloos voel en wees nie.
Les uit die sportwêreld
Hierdie jaar is ook die jaar van die Wêreldbeker-rugby. Kom ons leer ’n les uit die sportwêreld: jy kan net wen as jy punte aanteken en speel tot die eindfluitjie blaas. Dit is my bede vir jou. Ek en jy kan net hierdie wonderlike jaar wen as ons punte aanteken. Mag jy hierdie jaar elke doel wat jy gestel het verwesenlik, mag elke droom waar word en mag elke wens vleuels kry. Elkeen van ons se grootste droom is om voorspoedig te wees. Ek deel met jou ʼn stukkie uit die biografie van Koning Hiskia oor sy voorspoed en sukses: “20 So het Hiskia dwarsdeur Juda gedoen. Hy het gedoen wat goed en reg en eerbaar is in die oë van die Here sy God. 21 In alles wat hy onderneem het ter bevordering van die tempeldiens en die gehoorsaamheid aan wet en gebod, het hy met sy hele hart gevra na die wil van sy God, en daarom was hy voorspoedig.” (2 Kronieke 31:20-21) Mag hierdie verse ook in jou biografie van 2023 geskrywe word. ʼn Wonderlike en geseënde jaar word elkeen van julle toegebid. Ek bid dat jy – kollega; kerkraad, lidmaat van hierdie mooi land in hierdie jaar onvoorwaardelik sal glo en bely – maar ook uitleef – dit waarmee Paulus sy liefdesbrief vir die gemeente in Korinte afsluit (I Korintiërs 13:13): En nou: Geloof, hoop en liefde bly, Hierdie drie, En die grootste hiervan is die liefde!
- Bron: Hierdie skrywe het verskyn in die 13 Januarie-uitgawe van Verskil (Noordelike Sinode se nuusbrief) https://noordsin.ngkerk.net/verskil-argief/
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
- Hierdie artikel is ’n mediavrystellings of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.