Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Paasfees – van krip tot kruis

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Christo Jansen van Vuuren skryf: Dit is amper Paasfees en ons stap in die Sederberg. Dié deel van ons mooi land het eers die laaste vyf jaar vir ons ’n werklikheid geword. Wat ’n belewenis! Hier voel dit nog plek-plek of die tyd wil stilstaan. Die woeligheid van die land en wêreldgebeure is diep weggebêre in die agterpaaie van ons gedagtes. Die byna aanvoelbare teenwoordigheid van God is ’n werklikheid op elke wandelpad, in elke rotsskeur, by elke blommetjie, op elke
bergpiek, in die wolkformasies, geniepsige wind, sonskyn en sommer orals. Wat ’n voorreg om hier te mag wees.

Die ons waarvan ek melding maak is natuurlik ek en my ander helfte van so 40 jaar plus. Ons stap graag. Oral. Daar is nog baie stap vir ons oor in die Sederberge – ons eie Camino.

By Dwarsrivier kry ons die permit en ry die agt kilometer tot by die parkeerterrein. Die stap begin op gelyk grond en klim dan steil na regs. So vier ure se stap lê voor. Ongeveer 4 ure se stap tot bo en terug tot by die parkeerterrein. Ons is op pad na die Maltese kruis.

Ons is redelik fiks en vorder goed. Waar die paadjie begin opwaarts neig rus ons gereeld. Hier en daar klim ons oor klippe/rotse. Die son skyn helder. Die rotsformasies is mooi. Soos wat dit steiler word, rus ons meer.

Ons is bewus van die feestyd waarin ons ons bevind. Dit is Paastyd.

Ons moeg word laat my aan Jesus dink. Hier is natuurlik geen vergelyking met Hom nie. Sy moeg wees, sy seer geslaande lyf, sy stadig aanstap met die hulp van Simon, is so uniek, so onvergelykbaar. En tog vereenselwig ons met Hom op ’n eenvoudige, maar tog egte belewenisvlak. Elke tree na bo – na die kruis, word een van dankbaarheid.

Ongesiens verander die weer. Ons is naby aan bo. Die wolke het dig saamgepak. Daar is ’n stewige wind wat waai. Ons uitsig is belemmer. Die onstuimigheid van die Kruisgebeure word in ons gedagtes ’n al groter werklikheid. Ons kan nog nie die kruis sien nie – maar ons sien Die Kruis al duideliker.

Die paadjie word effe gemakliker. Hier en daar weer ’n opdraande. Dan breek die son deur die wolke en in die helderste son denkbaar staan die Maltese kruis daar. So skielik en effens onverwags. Die laaste 400 meter of so is byna gelyk pad. Die kruis staan daar in al sy glorie. Vyf verdiepings hoog. Teen die tyd wat ons by die kruis kom, is daar nie meer wolke nie. Ek meen dit is dieselfde ervaring wat iemand kan hê wat lank die duisternis in hulle lewe beleef het en dan skielik en onverwags by die Kruis uitkom. Oorweldig deur genade, vrede en vreugde.

Ons vertoef ’n rukkie hier by die kruis. Eet en drink en rus. Neem foto’s. Dan kyk ons terug op die pad soos ons gekom het. Die pad tot by die kruis en die Kruis. By die beginpunt van die laaste 400 meter, sien ons ’n ander rotsformasie. Ons neem weer foto’s. Die formasie is nie baie duidelik nie, maar met ’n sekere hoek lyk dit soos ’n klompie figure wat rondom iets vergader. Dit kan net sowel ’n krip met ’n klompie skaapherders daar rondom wees.

Die stap word al meer ’n Paasfeesbelewenis van die Krip tot by die Kruis. Sonder die Krip het die Kruis geen betekenis nie en so ook het die Kruis sonder die Krip geen betekenis nie. Paasfees het net betekenis as beide gebeurtenisse betekenis het. Wat beteken dit vir my? Vir ons? Met dit in gedagte begin ons die terugtog.

Terug na die parkeerterrein is dit meestal afdraande. Ons stap sonder moeg word. Afdraande oor effe los klippe hier en daar is egter nie die maklikste terrein vir moeë bene nie. Dit is amper soos ’n ongeluk wat ’n plek soek om te gebeur. Los klip onder die voet … gly-val-hardloop-stop ek net betyds. Dit is ’n ver val oor die afgrond. My een hand bly in die slag. Nie te seer nie, maar daar is ’n plekkie wat aanhou bloei. Met geen pleister naby nie is aanhou stap die beste raad. Elke paar tree, as my voet die grond tref, val daar ’n druppel bloed op die grond. Hier een op ’n rots, daar een in die stof of ’n ander een op een van die bossies langs die pad. Dit hou net aan met drup, drup, drup …

Natuurlik is dit weereens nie te vergelyk met Jesus se bloed wat gedrup het op pad na die Kruis nie. Of met die druppels bloed wat oor sy gesig moes loop as gevolg van die doringkroon op sy kop nie. Of die bloed wat uit die spykerwonde moes vloei nie. Maar tog …

Jou eie bloed wat wegsyfer in die grond of hard word op ’n rots, die werklikheid van bloed wat lewe verteenwoordig en jou eie belewenis van die Krip tot by die Kruis maak hiervan ’n ervaring, ’n Camino-belewenis soos min.

Miskien moet ’n mens eers by die Kruis uitkom voor jy die Krip kan raaksien. Op die pad na die kruis is ons by die kriprotse verby sonder om dit as iets besonders te beleef. Dit was eers toe ons terugkyk van die kruis af – padlangs soos ons gekom het – dat ons die kriprotse kon sien.

Oë oopmaak. Dit is wat stap in die Sederberg vir ons doen.

  • Ds Christo Jansen van Vuuren is emeritusleraar voorheen van NG Sesmylspruit.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top