Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Ons is oop daarvoor dat die Gees ons verras by #imagine soos in Asbury, maar ons moet versigtig wees om nie die Gees se werk te beperk tot bonatuurlike verskynsels of gedrag nie,” sê ds Anriëtte de Ridder, een van die organiseerders van vanjaar se 7de #imagine-jeugfeeste. Foto: Argief .

Oor herlewings, #imagine en oop wees vir Goddelike verrassings

“Het julle iets oor die gebedsgeleentheid gedoen?”

Dié onlangse WhatsApp-vraag aan Kerkbode het verwys na die kapeldiens op die kampus van ’n Christelike universiteit in Amerika wat spontaan oorgevloei het in ’n massa-gebedsbyeenkoms wat van 8 tot 23 Februarie (byna 400 uur) aangehou en wêreldwyd aandag getrek het.

Derduisende mense het in dié tyd op die klein dorpie Wilmore in Kentucky toegesak om te sien en te beleef wat gebeur by Asbury Universiteit – ’n privaat universiteit met ’n “herlewingstradisie en ’n teologie wat mense leer om te wag en te let op ’n Goddelike wind om te waai”, skryf Daniel Silliman in Christianity Today.

Hy skryf daar is moeite gedoen om te keer dat die gebeure gekaap word. ’n Sin wat gereeld gehoor is, was “There are no celebrities here, no superstars, except Jesus”.

“The term ‘radical humility’ was used regularly,” skryf Silliman.

Na die uitgeputte leierskap by die universiteit halt geroep het, het soortgelyke urelange gebedsbyeenkomste by ander universiteitskampusse ook gebeur.

Die reaksie op die gebeure was gemeng. Sommige is positief daaroor soos prof Tom MacCall wat teologie by Asbury doseer. Hy skryf vir Christianity Today: “When I arrived, I saw hundreds of students singing quietly. They were praising and praying earnestly for themselves and their neighbors and our world – expressing repentance and contrition for sin and interceding for healing, wholeness, peace, and justice.”

Ander weer was skepties. Vrae is gevra of hierdie ’n ware ‘herlewing’ is of bloot emosionele opsweping.

Die gebeure het ook die aandag getrek van ds Danie Mouton uit die leierskap van NG Kerk Oos-Kaapland wat daaroor in hulle gereelde sinodale nuusbrief Grens.Pos berig het. By navraag oor wat hy van die gebeure by Asbury maak, deel hy onder meer dat dit vir hom lyk of wat daar gebeur het gespreek het tot mense se behoefte aan konneksie met God en met ander, maar hy meen ook wat hierna gebeur moet ’n mens na oplet.

 

Hy verduidelik dit so: “Ek bespeur ’n diep honger by mense na konneksie met God en mekaar. Mense het nodig om in gemeenskap ingetrek te word met God en met mekaar. Dit lyk my dit (het) gebeur by Asbury. Die vrug van herlewing is sterker getuienis oor God se werk in die wêreld, ’n groter bewussyn van sonde en mislukking, en die belewing van bemagtiging en die strewe na ’n lewe toegewy aan God. Wanneer mense getuig van God se helende werk in hulle lewe word dit ’n uitnodiging om hulleself aan Jesus toe te wy en aan te sluit by Jesus se voortgaande bediening in die wêreld.”

Een van die dae word ongeveer 4 000 tieners verwag by twee #imagine-jeugfeeste in onderskeidelik Bredasdorp in die Wes-Kaap en Bothaville in die Vrystaat. By navraag aan ds Anriëtte de Ridder, PSD vir Jeug- en Familiebegeleiding in Sinode Wes-Kaapland en een van die organiseerders, oor haar verwagtinge dat jongmense daar net sal wil aanhou bid en sing, antwoord sy dat hulle oop is vir Goddelike verrassings, maar versigtig is dat dit nie beperk word tot “bonatuurlike verskynsels of gedrag nie”.

Imagineers ontmoet God in Bothaville tydens lofprysing by #imagine-jeugfees. Foto: Argief

Sy skryf: “Ons is oop daarvoor dat die Gees ons verras by #imagine soos in Asbury. Die Gees werk telkens kragtig by #imagine tydens die sang, die kleingroeptyd, die gebedstasies, deur die sprekers en in die werkswinkels. Selfs oor etenstye en aftye. Die Heilige Gees verander lewens en steek harte aan die brand ook daar waar ons iets “doodgewoon” doen soos waar ons met mekaar gesels oor gebeure van die dag, vrae oor die Woord deel, of saam eet en brood breek. Dit leer Hy ons in die verhaal van die Emmausgangers (Lukas 24). Dit sluit ook aan by ons tema op #imagine dié jaar – brandende harte!”

Lees ook: Elders gelees: #imagine | 10 redes om jou tiener vanjaar te stuur

Haar waarneming dat die Gees ook werk in die “doodgewone” sluit aan by opmerkings wat geskiedenisprofessor Aaron Griffith maak oor die gebeure by Asbury vir die tydskrif Time, “Christians have always been comfortable with the notion that God is present and active amidst the mundane and the material (think the bread and wine of the Eucharist), even if the how remains a mystery.”


Meer oor #imagine: Dit is vanjaar 10 jaar sedert die droom vir ’n nuwe jeugbediening vir ds Gielie Loubser van die Wes-Kaap en Louis Brittz van Pretoria gemobiliseer het om met die #imagine-jeugfeeste te begin. In 2016 is dit geregistreer as ‘n nie-winsgewende organisasie. Sedertdien het duisende jongmense uit verskillende denominasies die jaarlikse geleenthede bygewoon tot dit in 2020 tydelik gestop is as gevolg van die Covid-19-pandemie se beperkings op getalle by samekomste. Vanjaar is die eerste keer wat die geleenthede weer gehou word.

Lees meer: #imagine – verbeel jou ‘n beter Suid-Afrika

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.