Hiert! Daar staan Siener van Rensburg … darem nie in persoon nie – net sy vurige staar van onder ’n velhoed op die voorblad van ’n 1921-nuwejaarsuitgawe van De Burger. Dít is die verrassing wat Conrad Jamneck gekry het toe hy onlangs ’n keldervertrek ontdek het onder die houtvloer van sy en sy vrou Jessica se huis in die Strand.
“Mind-boggling!”

Só beskryf Jamneck op Dinsdag 14 Maart dié ontdekking vir Kerkbode. Hy het ingebel oor sy vonds want, benewens die afbeelding van die ou boereprofeet was daar ook ’n pak Kerkbodes en ’n paar eksemplare van De Kindervriend uit die tydgleuf 1920-25 ongeveer. Alles verpak in ’n groot gehawende kartonboks onder ’n trapdeur waarvan hy en sy vrou salig onbewus was, al bly hulle al sewe jaar in die huis.
Deur nuuskierigheid geprikkel na so ’n ongewone oproep, bekyk en bewonder Kerkbode die volgende dag saam met hierdie seun van wyle komediant en musikant Jammies Jamneck hierdie vonds. In die boks was ook onder meer bottels Lewensessens, ’n pak onoopgemaakte briewe, sambrele en ’n Homestead Journal uit 1918. Ons bespiegel oor wat dit ’n mens dan vertel oor die vorige inwoner wat meer as ’n eeu terug dié boks geberg het in ’n 1,8 m hoë kelder onder die vloer van sy slaapkamer.
Die Jamnecks se skakelhuis, wat uit 1902 dateer, is dolleeg, want die egpaar is besig om hulle huis te restoureer. Conrad het die trapdeur ontdek toe hy die mat oplig wat die houtvloer al die jare toegemaak het.

“Kom kyk,” nooi Conrad en gaan wys in ’n agterkamer ’n wit hangkas waarop in kronologiese volgorde al die vorige eienaars se name netjies met swart pen neergeskryf is. Elk met ’n datum langs sy naam, waarskynlik toe die persoon eienaarskap geneem het.
Ene John Leopold Weich het 1919 langs sy naam. Dalk die een wat destyds by Kerkbode ingeteken was? wonder ons.
Die besoek lewer nog verrassings op. Tussen die lys name staan ook in groen Koki-pen geskryf “Marike de Klerk het hier aan Plek waar die son weer skyn kom werk”. Ja, dit is dié Marike, eerste eggenoot van oudpresident FW de Klerk, bevestig Conrad. Sy buurman oorkant die pad het vir hom kom vertel sy was hier en meer nog, die lys is opgeskryf deur niemand minder nie as die bekroonde skrywer Maretha Maartens. Sy vertel by navraag vir Kerkbode dat sy en haar predikantman Hennie baie gelukkige tye saam met familie en vriende geniet het daar in hulle strandhuis, skaars ’n blok van die see af.

En ja, hulle het geweet van die “luik”, maar dit nie goed ondersoek nie, vertel sy. “Dit is soos ’n skatkamer waarop ons gebly het en nooit ontdek het nie.”
Sy sê die huis het haar van die begin af gefassineer. “Dit is ’n huis met baie stories,” daarom dat sy die lys name neergeskryf het. En ja dit ís so, wyle Marike het in hierdie huis kom bly om haar egskeiding van De Klerk te verwerk “met ’n stapel boeke waaruit sy nota’s gemaak het”. Maretha was alleen saam met haar en het haar gehelp met die skryf van die boek waarvan die titel in groen Koki geskryf is – “een van die diepsinnigste boeke ek nog ooit gelees het hoe ’n gelowige deur die pyn van ’n egskeiding werk,” sê dié skrywer van vele Christelike dagboeke en boeke soos ’n Pot vol winter en Ruitevrou: ’n Ware verhaal en vele meer.
Sy vertel hulle laaste seevakansie in die huis was in Desember 2016. ’n Maand later was by die huisie ingebreek en is dit vreeslik gevandaliseer. Die Afrikaanse rocksanger, Piet Botha, op daardie stadium ’n buurman, het saam met ’n nutsman na die skade kom kyk. Kort hierna het hy gevra of sy dogter Jessica die huisie kan huur, want sy wou Kaap toe trek.

Dieselfde Jessica wat ’n paar jaar later vir Conrad ontmoet en met hom getroud is. Conrad vertel hy onthou nog goed die onderhoud wat oud-minister Pik Botha eers met hom wou voer omdat hy met sy kleindogter wou trou, “ek het gesweet”, vertel Conrad, deesdae ’n bekende klankingenieur in die Afrikaanse musiekbedryf.

Met hom én sy agentvrou bekend in die vermaaklikheidswêreld (hy besit ook ’n gewilde musiekvenue op Stellenbosch), het dit dadelik groot aandag getrek toe hy die nuus en foto’s van sy vonds op sosiale media deel. Die akteur Neil Sandilands het laat weet hy soek vir Siener. Onder die honderde kommentare was ’n paar wat wonder of daar dalk Krugerrande ook versteek is (maar dit sal nie iets wees wat hy bekend sal maak nie, spot Conrad).
En ene Riaan van Staden hoop darem die Kerkbodes was inspirasie.
’n Paar dae later deel Maartens met Kerkbode dat hierdie ‘nuwe’ storie “die hartseer van ’n plek met soveel herinneringe aan ’n volgende eienaar afstaan, opeens weggeneem (het)”.
“Wie anders as die Here sou die ontdekking van ’n lieflike vonds as storie vir ‘n storievrou kon beskik het?” skryf sy in ’n e-pos.
Kerkargief stel ook belang
Dr Andrew Kok, by die NG Kerkargief op Stellenbosch, het by navraag aan Kerkbode gesê mense wat op ou kerklike publikasies afkom is welkom om hulle te kontak. “Ons hoor graag van mense en sal dit opneem waaroor ons nog nie beskik nie,” was sy woorde.
Kontak die NG Kerkargief op Stellenbosch by argief@kaapkerk.co.za of 021 882 9923.

