Ds Rodney van Wyk is in Maart as die nuwe uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) aangestel. Hy sal vir die volgende twee jaar die posisie beklee tot 2025 wanneer hy op 65 aftree*.
Dit is sy droom dat die BSA, onder sy leierskap, instrumenteel sal wees om Suid-Afrikaners te laat terugkeer na die Woord van God, deel Van Wyk in ’n verklaring wat die BSA onlangs uitgereik het.
“Ons glo die Bybel is die antwoord vir al die probleme wat ons land en die wêreld tans in die gesig staar. Dit is dus absoluut krities dat elke persoon ’n Bybel moet hê sodat hulle God met hulle kan hoor praat – in hulle hartstaal,” sê Van Wyk, ’n geordende dominee van die Gereformeerde Kerke in Suider-Afrika.
“Die Bybel is beskikbaar in al die amptelike tale van Suid-Afrika. Tans is die BSA besig met nuwe Bybelvertalings in nog vier tale om die Woord van God vir mense in hulle moedertaal beskikbaar te maak,” voeg hy by.
Die BSA bestaan reeds meer as 200 jaar en dien Suid-Afrikaners deur die vertaling, produksie en verspreiding van bekostigbare Bybels in verskeie tale en formate.
Lees ook: Bybelgenootskap soek nuwe maniere om missie te vervul
Van Wyk dien reeds 11 jaar op die BSA se raad van direkteure, insluitend ses jaar as voorsitter. Hy is op 16 Maart, tydens die Algemene Jaarvergadering by die Bybelhuis in Bellville, eenparig as die nuwe hoof aangewys. Dit volg na hy sedert 1 November 2022 in hierdie posisie waargeneem het ná die bedanking van die vorige hoof, ds Dirk Gevers, wat die rol van sekretaris-generaal by die Wêreldbond van Bybelgenootskappe aanvaar het.
Dr Paul du Plessis, die BSA se raadsvoorsitter, vertel die Raad is oortuig dat ds Van Wyk se ondervinding en deeglike kennis van die BSA en sy missie die organisasie vir die volgende twee jaar goed sal dien. “Ek dink dat al die gawes waarmee die Here ds Van Wyk geseën het, presies is wat die Bybelgenootskap nou benodig,” sê hy.
Hy voeg by dat Van Wyk ook ’n integrale rol gespeel het tydens die herstruktureringsproses van die BSA. “Hy is dus die één wat ons kan help om die momentum te behou en ons vorentoe te neem,” voeg hy by.
- Berig aangepas na plasing.
