Bybelgenootskap soek nuwe maniere om missie te vervul

Ná hulle landwye 200ste verjaardagvieringe laasjaar, vertel ds Dirk Gevers, wat al sedert 2014 aan die hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) staan, vir Heléne Meissenheimer dié Bybelverspreider is nou besig met ’n omkeerplan wat hulle bestuur en manier van doen in pas moet bring met die eise van die digitale wêreld.

LEES OOK: Bybelgenootskap vier 200 jaar: Ook NG Kerk vol lof

Sondag 29 Augustus is Bybelsondag. Dan fokus kerke regoor die land op die Bybel en die voorreg om die Bybel in jou eie taal te kan lees – hetsy in gedrukte vorm of soos al meer mense dit verkies, as ’n toepassing op jou slimfoon.

Ds Dirk Gevers. Foto: Verskaf

Dit is ’n feit dat digitale kommunikasiemedia Bybelverspreiding op ’n ongekende skaal moontlik maak, maar dit stel ook uitdagings aan Bybelverspreiders soos die BSA in terme van finansiële volhoubaarheid. “Die norm is vasgestel dat die Bybel vrylik aanlyn beskikbaar moet wees. Digitale Bybelverspreiding lewer dus geen inkomste nie, ten spyte van die feit dat digitale ontwikkeling uitgawes meebring,” verduidelik Gevers.

In ’n onlangse omsendbrief is BSA-lidkerke ingelig dat dié Bybelverspreider na ’n uitgebreide konsultasieproses besef het “wesenlike verandering” is nodig soos blyk “uit die feit dat die omgewing vir die Bybelmissie ’n geweldige verandering ondergaan het (in Suid-Afrika en ook internasionaal)”.

Dit was nie ’n enkele gebeurtenis wat hulle by hierdie besef gebring het nie, meen Gevers, maar die impak van die Covid-pandemie het die feit beklemtoon dat “geleidelike verandering net nie meer genoeg is as ons relevant en volhoubaar in ’n veranderde wêreld wil bly nie”.

Nuwe maniere van doen is nodig om op volhoubare wyse uiting te gee aan hulle fundamentele visie, naamlik om bekostigbare Bybels aan elkeen te voorsien in sy eie taal en in geskikte formate. Daarmee saam moet hulle struktuur aanpas om effektiewer en goedkoper te wees as die huidige model. Ten einde dit te laat gebeur, is Gevers opdrag gegee om ’n “omkeerplan saam met eksterne proses- en regsadviseurs op te stel en dit so spoedig moontlik aan die Raad voor te lê,” aldus die omsendbrief.

LEES OOK: 2020-Bybelvertaling verskyn binnekort in groter letters

Die BSA bestaan vanjaar op 23 Augustus al vir 201 jaar. In hierdie tyd is meer as 45 miljoen Bybels regoor Suid-Afrika versprei, grotendeels te danke aan vrywillige bydraes aan die BSA. Die BSA vorm deel van ’n wêreldwye netwerk van 150 Bybelgenootskappe wat saam die Wêreldbond van Bybelgenootskappe (United Bible Societies) vorm.

Vir die eerste 185 jaar van hulle bestaan kon die BSA hulle werksaamhede geleidelik aanpas soos wat tye verander het. Dit sluit in verbetering in druktegnologie, vertaling- en publikasie-instrumente, vervoer, kommunikasietegnologie, ensovoorts, asook aanpassings aan veranderde sosiopolitieke omstandighede.

Die laaste 15 jaar het die koms van die internet en daarna selfone die tempo grootliks versnel. “Dit het die manier waarop mense die Bybel lees en daarby betrokke is verander. Alhoewel gedrukte Bybels steeds in aanvraag is, is dit nie meer die enigste opsie nie (en vir ’n toenemende aantal mense nie meer die eerste keuse nie). Ons sien dit in die impak op die verspreiding van gedrukte Bybels,” gaan hy voort.

Ds Charl de Kock wys die BibleSA-platform op sy foon aan ’n onderwyseres tydens die Word Riders-toer. Foto: Verskaf

Selfs die manier waarop ons kerkhou het verander. Voorheen het baie kerke, voor die diens begin, ’n skyfie gewys wat lidmate vra om hulle selfone af te skakel. Soms was dit in die vorm van ’n grap – ‘God roep jou, maar waarskynlik nie op jou selfoon nie’. Dit werk nou nie meer nie omdat so baie gelowiges verkies om die Skrifgedeeltes op hulle selfoon te lees.

Só wat kan jy vertel oor die omkeerplan?

Op hierdie stadium kan hy nie die detail van die plan bespreek nie behalwe om te bevestig, soos genoem in die omsendbrief, dat die BSA se missie dieselfde bly, maar dat die organisasie hulle benadering en metodes moet aanpas vir die huidige konteks waarin die Bybelgenootskap nou werk.

Daarvoor is die volgende belangrik:

  • Digitale vaardigheid vir die totale omvang van die BSA se aktiwiteite.
  • Toepaslikheid vir die huidige Skrifbehoeftes en -praktyke van die kerke en Christengelowiges in Suid-Afrika.
  • Die nuwe struktuur moet effektiewer en goedkoper wees.

Hy sluit af met die versekering dat die proses nie oorhaastig hanteer sal word nie, maar noukeurig en deeglik benader word. Intussen gaan alle aktiwiteite en bedrywighede (intern en ekstern) normaal voort.

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Bybelgenootskap soek nuwe maniere om missie te vervul

  1. Muller Oosthuizen says:

    Die uitdagings aan die etiek en besorgdheid van Christene wat dit kan bekostig om te vergoed vir aanlyn-Bybels, ter wille van hulle wat dit nie aanlyn of op papier kan lees nie, is voor die hand.

Comments are closed.