“Aan God al die eer vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA), en die Bybel wat Afrikaans praat!”
Met hierdie woorde wens dr Gustav Claassen, namens die NG Kerk, die BSA geluk met hulle 200 ste verjaarsdag wat op 23 Augustus plaasgevind het. Dít byna 90 jaar na die BSA die eerste Bybelvertaling in Afrikaans op 27 Augustus 1933 tydens ’n feesgeleentheid in Bloemfontein bekend gestel het. Claassen loof die BSA in ’n skrywe aan dié nie-winsgewende organisasie vir die instrumentele rol wat hulle in die beskikbaarheid van die Woord van God in Suid-Afrika gespeel het. Kerkbode het vroeër vanjaar, ter viering van die BSA se 200ste bestaansjaar, oor die stigtingsverhaal van die BSA berig. Die organisasie se doel is om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hulle eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar. Volgens die BSA se amptelike verklaring is hulle op 23 Augustus 1820 in die destydse ‘Government House’, vandag Tuynhuys, as die “South African Bible Society” gestig.
LEES OOK: Die Bybel: Hoop vir almal
“Die Genootskap is as ’n hulpvereniging van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap begin met die doel om te verseker dat die Bybel vir die inwoners van die Kaap in hulle eie tale, hoofsaaklik Engels en Nederlands, teen bekostigbare pryse beskikbaar sou wees. Reeds van die vroegste tye, het die Genootskap ook Bybels in ander tale ingevoer, onder andere Nuwe Testamente in Maleisies vir van die slawe en Franse en Duitse Bybels vir soldate. Die eerste Skrifgedeelte in ’n plaaslike taal wat te koop aangebied is, was die Nuwe Testament in isiXhosa in 1858,” luidens die BSA se verklaring.
Claassen loof in sy skrywe die BSA spesifiek vir die eerste Bybel in Afrikaans. Hy skryf: “Die 1933-vertaling het die Bybelse boodskap vir Afrikaanssprekendes verstaanbaar gemaak. Daardeur het die Bybelgenootskap ’n veel wyer invloed uitgeoefen. Die verskyning van die Bybel het ’n veel wyer impak gehad as die kansel en persoonlike geloof. Dit het ook ’n impak gehad op die vorming van die identiteit van Afrikaanssprekendes en die vestiging van Afrikaans in die gemeenskap, literatuur en akademie,” volgens Claassen. Hy bedank die organisasie ook vir hulle passie en ywer om die Bybel in ander inheemse tale van Suid-Afrika beskikbaar te maak en te versprei.
Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode en die Sinode van Wes-Kaapland in die NG Kerk het in 2019 tydens die Algemene Sinodesitting in Benoni spesiaal sy dank vir die werk van die BSA betuig. Kerkbode het vroeër in Augustus oor die vertalingsproses en vrystelling van die jongste amptelike vertaling van die Bybel in Afrikaans berig.
