Verstaan, vertaal, vertrou?

Die derde amptelike vertaling van die Bybel in Afrikaans word vanjaar deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vrygestel en dié organisasie vier boonop hulle 200ste bestaansjaar. G’n wonder 2020 word as die “Jaar van die Bybel” gedoop nie. Maar het jy al ooit gewonder deur watter proses die teks is voordat dit by jou in jou moe­dertaal beland het? JACOBIE M HELENA doen verslag.


“Dit is belangrik om tussen kommersiële vertalings en vertalings wat deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gepubliseer is te onderskei.”

Só waarsku prof Christo van der Merwe, professor in Hebreeus en direkteur van die Sentrum vir Bybelinterpretasie en -vertaling in Afrika (CEBITA) aan die Universiteit Stellenbosch (US), Bybellesers.

“Die kommersiële vertalings is meestal nie gepla oor kwaliteitsbeheer nie en die proses van vertaling is van korte duur,” meen Van der Merwe.

Prof Louis Jonker, professor in Ou Testament aan die US en voorsitter van CEBITA, beaam dit: “Daar is by kommersiële vertalings befondsing aan verbonde en bepaalde verwagtinge, dikwels teologiese vereistes, waaraan die vertaling moet voldoen. Ek is skepties oor vertalings waar die teologiese raamwerke die vertaling bepaal,” sê Jonker.

Daarteenoor, gaan vertalings wat deur die Bybelgenootskap van Suid-­Afrika (BSA) gepubliseer word, deur ’n verta­lings­proses van 15 tot 20 jaar. Die Bybel­genootskap se nuwe vertaling Die By­bel: ’n Direkte Vertaling (BDV) word volledig einde 2020 gepubliseer. Die Nuwe Testament en Psalms is reeds in 2014 gepubliseer. En daar is ’n reeks kundiges by dié proses betrokke.

Dr Elma Cornelius, dosent in Nuwe Testament aan die Noordwes-Universiteit, verduidelik: “By dié vertaling is daar verskillende kundiges betrokke: brontaalkenners van Hebreeus, Aramees en Grieks, eksegete, Afrikaanse vertalers, letterkundiges en taalkundi­ges.”

Bybelvertaling as wetenskap

Cornelius sê Bybelvertaling is ’n wetenskap. “Bybelvertaling is ’n ingewikkelde en omvangryke proses wat beïnvloed word deur baie faktore en tred moet hou met baie ander wetenskappe. Om mee te begin moet Bybellesers besef dat Bybelvertalers nie eens met die oorspronklike tekste van die Bybel werk nie. Die materiaal waarop die oorspronklike tekste geskryf is, het nie die tyd oorleef nie. Daarom moes hierdie tekste gedurig oor en oor gekopieer en vervang word. Dit was ook deels so omdat dit die manier was hoe die tekste versprei is. Die noodwendige gevolg was dat kopiëringsfoute ingesluip het, en soms het kopieerders hulle eie korreksies aangebring. Al wat oorgebly het vir Bybelvertalers is kopieë van kopieë van kopieë. ’n Ander faktor is die feit dat die Bybel oorspronklik in Hebreeus en Aramees (die Ou Testament) en in Grieks (die Nuwe Testament) geskryf is. Taalwetenskappe ontwikkel voortdurend en daarom neem Bybelvertalers se kennis van hierdie grondtale ook toe. Dit maak voortdurende Bybelvertaling noodsaaklik.

Dan speel die tyd waarin die teks geskryf is boonop ook ’n rol.

“’n Volgende faktor is die antieke kulture waarin hierdie dokumente geskryf is. Bybelvertalers moet hulleself gedurig vergewis van nuwe kennis op hierdie terrein en dit mag ook vertalings beïnvloed. Hoe meer van die antieke kulture ontdek word, hoe meer moet daaraan aandag gegee word in verta­lings. In Bybelvertaling is vertaalteorie en vertaalmetodes belangrik en wanneer hierdie teorie en metodes verbeter, moet Bybelvertalers daarby aanpas. Bybelvertaling is dus nie net ’n lukrake vertaling nie, maar ’n wetenskaplike proses,” sê Cornelius.

Die proses

Die vertaling van ’n Bybel is ’n uiters omvangryke proses.

Prof Bernard Combrink, projekbestuurder van die BDV, verduidelik: “Die nuwe vertaling wat deur die Bybelgenootskap vertaal word, gaan deur ’n vertalingsproses van vyf fases. Die eer­ste fase behels om kundiges vir elke Bybelboek te identifiseer. In elke span van kundiges is daar ’n eerste en tweede eksegeet, een brontaalkenner en ’n intravertaler, wat moet seker maak die vertaling is in goeie Afrikaans. Ná die vertaling deur die hande van al die kundiges is, word dit terugverwys na die eerste eksegete om seker te maak die vertalings het nie wegbeweeg van die bronteks nie.

In fase twee gaan die vertaling na ’n ander Afrikaanse taalkundige asook ’n Afrikaanse letterkundige toe. Daarna gaan die vertaling weer terug na die eer­ste eksegeet. Aan die einde van fase twee, gaan die vertaling na ’n redaksionele komitee, wat uit agt kundiges bestaan, om wéér die vertaling na te gaan. Die vertaling gaan in fase drie na kerklike lesers toe. Die kommentaar van die kerklike lesers word deur die redaksionele komitee verwerk. In fase vier word daar konsekwentheidsbeheer van die vertaling gedoen. In fase vyf word die vertaling na ’n begeleidingskomitee verwys wat die vertaling finaal moet goedkeur vóór dit gepubliseer word.”

Combrink verduidelik die begeleidingskomitee moet hulleself vergewis of die vertalers by die oorspronklike vertaalopdrag gebly het én of daar genoeg prosesse en kontroles in die proses betrokke was om getrou te bly aan die Bybelse bronteks.

Bybelvertaling en die kerke

Kerke van verskillende denominasies regoor Suid-Afrika gee aanvanklik die BSA opdrag om ’n vertaling aan die gang te sit.

Prof Combrink brei uit: “Bybelvertaling was nog altyd vir die kerk baie belangrik. Dit is ook die rede dat die kerke, wat verteenwoordig word by die Bybelgenootskap se Kerklike Advies­komitee vir die Bybel in Afrikaans (KABA), die opdrag vir nog ’n Bybelvertaling in Afrikaans gegee het. Die behoefte is reeds in 1997 by die advies­komitee vir die BDV uitgespreek. Daar was onmiddellik na die 1983-vertaling ’n behoefte aan ’n soort vertaling wat nader aan die bronteks is en wat gelo­wiges vir Bybelstudie kan gebruik. Die kerke het iets nader aan die woord-vir-woord 1933/53-vertaling in gedagte gehad, maar iets wat in meer verstaanbare en moderne idiomatiese Afrikaans is,” sê Combrink.

Lees ook Die Bybel: hoop vir almal

Jonker sê ’n Bybelvertaling moet die antieke teks toeganklik vir mense in hulle moedertaal maak. Eksegese (we­tenskap om die teks te ontleed) en hermeneutiek gaan verder maar wil ook ’n brug slaan na kontekste van resepsie. Die soort brug word geslaan met mense se persoonlike oortuigings van die Bybel. In die geloofsgemeenskappe waar­aan gelowiges behoort, funksioneer die Bybel volgens ’n bepaalde manier en word hulle gekonfronteer met die Bybel. In daardie verskillende kontekste heers daar verskillende idees oor wat met inspirasie van die Bybel bedoel word. Die feit dat die Bybel as Woord van God beskou word rus nie op die ­skouers van vertalers en eksegete nie, maar rus op die skouers van die kerklike interpreteerders wat vir hulleself die vraag moet afvra of hulle verantwoordelik die Bybel in hulle eie tradisie interpreteer.

Van der Merwe brei uit met ’n voorbeeld oor hoe só ’n verantwoordelike vertaling van die woord “vreemdeling” in die hedendaagse Afrikakonteks sou lyk: “In die 2020-vertaling word die woord ‘vreemdeling’ met ’n kol gemerk. Dit wys dat die woord met meer detail in die woordelysinskrywing van die nuwe vertaling omskryf word. In Genesis 20:6 word die vreemdeling as ’n persoon omskryf wat om politieke of ekonomiese redes sy eie land verlaat en tydelik in ’n ander land gaan woon het. Vreemdelinge was, in die antieke konteks, geregtig op die beskerming van die plaaslike leiers. In Israel moes hulle saam met vaderlose kinders en weduwees (vgl Deut 27:19) beskerming ge­niet, omdat hulle niemand gehad het wat hulle in die stadspoort tydens hofsittings kon verteenwoordig om hulle regte te handhaaf nie. Die Israeliete moes ook na vreemdelinge omsien, omdat hulle self vreemdelinge was in Egipte (Lev 19:34; Deut 10:17-19). Dié verstaan van vreemdeling in die antieke Bybelse konteks probeer misverstande uit die weg ruim,” verduidelik Van der Merwe.

  • ’n Vorige weergawe van hierdie arti­kel het in Kerkbode se susterpubli­kasie, LiG-tydskrif, se Augustus 2018-uitgawe verskyn.

‘G’n lukrake proses’

Dr Elma Cornelius verduidelik: “Ons weet dat Bybelvertaling nie maar net ’n lukrake proses is nie, maar werklik ’n gekontroleerde wetenskap waarby kundiges betrokke is. Ons kan as kerk vertrou en bid dat die Heilige Gees die kundiges betrokke by Bybelvertaling sal lei en seën sodat die Woord van God vir ons nageslag behoue sal bly.”


Wat beteken dit?

Eksegese: Die bestudering van die Bybelse teks vanuit verskillende hoeke en met verskillende metodes om die betekenis daarvan te bepaal.

Eksegete: Diegene wat die Bybel bestudeer ten einde die betekenis van tekste te bepaal soos byvoorbeeld Bybelwetenskaplikes van die Ou en Nuwe Testament.

Bybelse hermeunetiek: Die beginsels en praktyk ten opsigte van die interpretasie en verstaan van tekste.
Bronteks: Die oorspronklike teks van die Bybel in Hebreeus (en dele in Aramees) en Grieks.