“Sing en dans vir die Here!” “Peppermint roomys!” “Werkswinkels” “Nuwe vriende maak” “…dat ek nie moet worry oor ander se opinie van my nie, dat God saam met my is op my journey …” Dit is van die hoogtepunte wat tieners in ’n kort video uitlig oor die 2023 #imagine-jeugfeeste.
“Wild en lekker!” “Gelooflik!” “Soveel mooi stories …” Só som drie moeë maar blye predikante die verloop van 2023 se #imagine-feeste op tydens ons Zoom-gesprek net ’n dag of twee na hierdie unieke kampervaring saam met meer as 2 000 jongmense (13-18 jaar) vanuit 132 dorpe oor die naweek van 28-30 Maart.
Die moeg wil wys op die gesigte van ds Anriëtte de Ridder, Tilana Meyer-Morkel en Christo Nel, maar verdamp soos ’n miswolkie as hulle begin vertel wat hulle beleef het tydens hierdie gewilde jeugsaamtrekke wat vanjaar vir die sewende keer aangebied is.
Anriëtte en Tilana was deel van die organisasiespan by die Bredasdorp-saamtrek in die Overberg terwyl Christo op Bothaville in die Vrystaat uitgekamp het.



Al drie het al ’n paar #imaginefeeste agter die blad, maar dié ervaring bly een wat hulle betower. Vanjaar is geen uitsondering nie. Hoogtepunte is daar baie. Vir Tilana is dit dat tieners wat dalk anders nooit oor hulle seer sal praat nie, veilig genoeg voel om dit op hierdie kamp te doen. Daar is ’n span beraders, bekend as die Care Team, met wie die tieners individueel of in groepe kan gesels. So het een meisie vir die eerste keer oor haar verkragting kon praat …
“Ek was kort-kort in trane oor die hoeveelheid seer wat van ons tieners ervaar,” vertel Tilana, self ’n ma én leraar by Paarl-Vallei-gemeente in die Paarl. Sy voeg by dat die beraders vir predikante laat weet as daar opvolgwerk na hierdie gesprekke nodig is. Sy het ’n paar jongmense met wie sy gaan opvolg.

Tussendeur die naweek se vol program van lofsang saam met ’n band, prettyd en geselstyd, was daar ook werkswinkels oor verskillende onderwerpe soos hoe lees of bid ek, hoe bied ek ’n kinderprogram aan of hoe begin ek herwin. Christo vertel hy is verras dat die werkswinkel oor hoe om Bybelstudie te hou oorvol was.
Die belangrikste vir hom is juis wat gebeur met die kinders na die kamp. “Vir my gaan dit juis dat ons kinders toerus dat hulle teruggaan na hulle skole, kerke en vriendekringe om dit (wat hulle leer) daar te gaan uitlewe.” Soos hy dit stel “as dit net was om ’n lekker naweek te hou was ek nie daar nie …”
Hy gebruik die beeld van ’n tsoenamigolf om dit so te verduidelik: “Die naweek is die aardbewing en die uitrol na die mense toe is soos wat ’n tsoenamigolf volg op ’n aardbewing”.
Anriëtte stem met hom saam. Die idee is beslis nie om jongmense van hulle gemeentes te vervreem nie. Soos sy dit stel: “Ons mission statement is ons is daar om gemeentes te ondersteun”. Elke kind kry ’n Bybelstudieboekie persent en daar is ook aanlyn hulpbronne beskikbaar vir gemeentes om tienergroepe aan te bied en selfs hulle eie naweke of eendagprogramme te reël. Die jongmense word ook aangemoedig om by hulle gemeentes en gemeenskappe betrokke te raak.
Sy voeg by: “Hulle hoor meer as net tot bekering kom … daar is verdieping en (’n oproep) om met ’n droom te leef vir Suid-Afrika. Om ’n verskil te maak.”
’n Opname wat sy gedoen het wys 68% van lidmate wat hulle kinders na #imagine stuur doen dit met die hoop dat dit groei en verdieping in hulle geloofslewe sal bring. Dit is hoekom sy so bly is om te sien dat soveel gemeentes moeite gedoen het om nie net hulle eie jeug nie, maar ook jongmense in hulle gemeenskappe die kans te gee om te kan gaan, selfs al is hulle nie lidmate by hulle kerk nie en het nie die geld om te betaal vir die kamp nie.

Al is dit net R500 per kind, dieselfde prys as in 2019, kan baie kinders se ouers dit nie bekostig nie. Party gemeentes het groter busse gehuur sodat meer jongmense uit hulle gemeenskap kan gaan en ander het kinders geborg om te kan gaan.
Op die dorpie Gouritzmond het ’n groepie van vier lidmate genoeg fondse bymekaar gemaak om ’n groep van 28 tieners uit die arm naburige gemeenskap van Bietouville die ervaring van ’n leeftyd te gee.
Ook die NG Kerk het kinders geborg en selfs tente en matrasse bygehuur. Daar kort inderwaarheid nog fondse vir sowat 400 kinders se kampgelde.
Anriëtte voeg by daar is ook baie mooi stories oor kinders wie se mense hard gewerk het om die R500 in te samel sodat hulle kon saamgaan.
Gou is ons uur om en roep volgende afsprake, maar een ding is duidelik: Hierdie drie glo in dit waarvoor #imagine staan. In 2019 het Nico Smit dit as volg omskryf vir Kerkbode:
“#Imagine help tieners om deel van iets groter te wees. Dit inspireer tieners om ’n verskil te wil maak en brûe te bou oor ander kulture heen en so ook saam te kan aanbid. #Imagine wil ’n ekumeniese, inklusiewe netwerk van kerke skep en saam met dit ook volhoubaar wees vir die pad vorentoe. Hierdie inisiatief was ’n verbeeldingsreis van ’n klomp jongmense en vandag is dit nie net verbeelding nie, maar ’n werklikheid wat ’n verskil wil maak tussen jongmense oor grense heen.”
Lees meer: Verbeel jou dat ons grense kan afbreek en oorkom: #Imagine
