Boervrou Surita Bruwer, 61, van Williston, stap met selfgemaakte ronde borsspeld waarop staan ‘Droogte het sy spore gelaat’.
Sy vertel sy stap die 166 km van die 2023 RSG Red ’n Plaas Camino van Williston tot Verneukpan om dankie te sê vir almal wat Karoodorpe soos hierdie gehelp het tydens die afgelope droogte van meer as 8 jaar. “Dit is om dankie te sê vir die engele oor die hele land wat die wind onder ons vlerke was”, sê sy.

Boer en veebemarker Hernus le Roux, 58, ook van Williston sê dit is ook hoekom hy stap. Saam met hulle stap oom Sarel Marais, 74, afgetrede boer.
Hy, soos vele ander 70-plussers onder die meer as 100 camino-stappers, stap om te vier dat hy nog kan stap “want dis lekker”, vertel hy vir Kerkbode terwyl ons stap op hierdie agt-dag-stapprojek vanaf sy grootworddorp langs stowwerige grondpaaie tot op Verneukpan.

Kerkbode is genooi om saam te kom op die epiese fondsinsameling- en bewusmaking inisiatief van die NG Kerk in Noord-Kaapland wat vir ’n tweede keer geskied in vennootskap met RSG radiopersoonlikheid Amore Bekker. Bekker stap vanjaar saam met nog ’n paar celebs, soos sanger Jak de Priester, aktrise-deesdae-drama-onderwyser Lindie Stander en skrywer / motiveringspreker Johannes de Villiers. Hulle het almal mense gevra om hul te borg om te help fondse insamel.
Ook SABC-joernalis Reginald Witbooi stap saam terwyl sanger Elvis Blue 600 km fietstrap vanuit George om op laaste stapdag Vrydag 21 April by die groep aan te sluit.
Daar is ook gemeentes en individue wat op hul dorpe en omgewing virtueel saamstap.
Die stap-ervaring saam met ’n groep mense van oral oor is ’n belewenis vir die stappers en die inwoners van Williston. Soos een stappers dit stel, “dis lekker al is ons voete en ons lywe seer want ons onthou waaroor dit gaan”.

Wat motiveer stappers?
Die “hoekom” is om fondse in te samel vir hierdie dorre streek waar die droogte dorpies se landbou-ekonomie geknou het. Winkels maak toe, vele plaaswerkers het hul werk verloor. Die Karoo gaan jare vat om weer op die been te kom. Só hoor mens in gesprekke met boere en predikante soos ds Deon van der Berg van naburige Van Wyksvlei wat ook saamstap.
Daar is nie meer geld op die dorp nie, sê hy. Skaapboer Dawid Louw (48) het een aand saam met die stappers kom braai. Hy vertel projekte soos hierdie maak hom emosioneel, want hy is een van die boere met kinders op koshuis wat ondersteuning geniet vanaf Caritas Gemeenskapfokus. Caritas is die NG Kerk se maatskaplike vennoot in die streek wat droogtehulp uitdeel aan in dorpe wat swaarkry. Dit sluit in geldelike hulp met skool-en koshuisuitgawes vir boergesinne met kinders.

Louw verduidelik meeste boere moes tydens die droogte hul skaapkuddes kleiner maak. Hy het net ’n derde van sy skape oor. Ander boere het hul plase verkoop. Vanjaar se somerreën is reeds laat en die veld se skaapbossies verskroei in temperature van tot 46 grade.
As hy kon, vertel Louw, het hy met ’n banier langs die stowwerige grondpad gestaan wanneer die Camino-stappers verby kom. Op die banier sal staan: “Dankie!”
Hou Kerkode se Facebookblad dop vir meer nuus en foto’s oor die stappers se ervarings.
Meer oor die veldtog:
- Die artikel is aangepas na publikasie.
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
