Dankbaar, verlig, bly… Vir ‘n hele klompie stappers was dit ‘n emosionele ervaring om op Verneukpan aan te kom op Vrydag 21 April, die laaste dag van die 2023 RSG Red ‘n Plaas Camino waartydens meer as 100 stappers sowat 166 km in die Karoo en Boesmanland gestap het.
Die sanger Elvis Blue en sy span is hartlik verwelkom deur van die stappers en RSG radiopersoonlikheid Amore Bekker. Hy en ‘n paar vriende het sowat 600 km op hul fietse gery vanaf George, waar hy bly, tot op Verneukpan.
Brandvlei, Kenhardt en Zwartkop se boeremense het die aand vir die Camino-stappers kom braai. Voor ete het landbouorganisasie Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, vertel dat net oor R800 000 alreeds deur vanjaar se inisiatief gebring is… “Só daai seer voete en blase is absoluut die moeite werd,” het hy gesê.
Maandag laat weet ds Kobus van Tonder op die stapgroep se Whatsapp-groep dié bedrag staan nou op meer as R924 000. Hy skryf: “Aan al die stappers wat die RSG Red ‘n Plaas-projek ondersteun het… baie baie dankie vir julle vasbyt ten spyte van moë lywe en seer voete tot by Verneukpan”.
Die NG Kerk in Noord-Kaapland se Droogtehulpfonds gebruik hierdie fondse om humanitêre hulp te verleen aan landbougemeenskappe in die Noord-Kaap, ondermeer deur skoolfondse en koshuisgelde te help betaal vir kinders van boere wat dit nie meer kan bekostig nie.
Hou Kerkbode dop vir meer nuus oor hoe hierdie inisiatief mense help wat swaarkry in die nadraai van die afgelope droogte. Ondersteun die projek deur Caritas Gemeenskapfokus se webblad te besoek. Kliek HIER.
