Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Theo Danzfuss skryf: Moenie beplande Koinonia Sinode verkeerd verstaan nie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: As daar een ding is wat ek in my bediening van meer as 40 jaar in die NG Kerk geleer het, dan is dit hoe belangrik korrekte en duidelike formulering is. Een van die grootste skeurings in die kerkgeskiedenis was ’n skeuring tussen kerke van die Ooste en die Weste.

Die belangrikste verskil was oor die een Latynse woordjie, filioque (“en die seun”). Westerse kerke bely dat die Heilige Gees uitgaan van die Vader “en die seun” terwyl Oosterse kerke nie die “filioque” wou aanvaar nie. Behalwe skeuring het dit ook gelei tot uiteenlopende spiritualiteite. Volgens Oosterse kerke lei die Gees ons direk op mistieke wyse, maar volgens Westerse kerke is daar ’n onlosmaaklike band tussen die Woord en die leiding van die Gees.

Vandag kos dubbelsinnige besluite die kerk baie geld, tyd en lidmate.

’n Bejaarde het eendag vir my gevra: Waarom mors predikante so met woorde? Die sinodes gebruik soms doelbewus omslagtige en dubbelsinnige woorde. Na so ’n vergadering weet niemand wat hulle regtig besluit het nie. Hierin is die Algemene Sinodes (AS) al bekend as meesters van dubbelsinnige besluite. Iets daarvan sien ons ook in die Vrystaat se besluite. Hulle goedkeuring van Bylaag 19 is ’n bevestiging van byna al die AS se omstrede besluite. Hulle gespeel met baie woorde maak egter dat lidmate dink Vrystaat het die behoudendes se standpunte aanvaar. Intussen is die teendeel waar. Dit bevorder nie Bybelse eenheid nie, maar eerder ’n soort skyneenheid ten koste van die waarheid. Hierdie tendens is in lyn met die tydsgees wat anti-dogmaties is. Vir die moderne mens bestaan daar in godsdiens en etiek geen vaste waarhede meer nie. Calvin Robinson is ’n bekende predikant van die Anglikaanse kerk wat dieselfde stryd as ons in die Church of England voer. Toe hulle hom onlangs in ’n TV-onderhoud konfronteer oor kerkeenheid was sy antwoord: “How can you walk together when you are walking in opposite directions?”

Wat die beplande Koinonia Sinode betref is daar ook baie misverstande weens onakkuraat geformuleerde berigte. Koinonia Sinode word nie, soos die koerante skryf, beplan om as ’n elfde sinode deel van die AS-struktuur te word nie. Dan sou ons moes saamloop op hulle pad na die “2030 Droomscenario”. Behoudende gemeentes sal beslis nie daardie pad saam met die AS loop nie. Inteendeel, die AS se rakleeftyd is verby. In die NG Kerk is daar nie meer plek vir ’n topstruktuur wat sonder hulle inspraak namens gemeentes besluite neem nie. Die AS moet spoedig ontbind of vervang word met ’n federale kerkverband. Die gedagte dat die AS in sy samestelling moet ruimte maak vir ’n elfde sinode as kategoriale lid, kan hoogstens ’n tydelike reëling wees om ’n sinode te kry wat uit AS-verband kan tree. Een ding is egter seker: Daar is nie ’n manier wat die behoudende gemeentes gaan saamreis na die afgrond van die AS se 2030-scenario van die NG Kerk as inklusiewe ruim-huis nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top