Proponent Herman Nieuwoudt (59) van Ceres was iemand wat mensgerig was, wat uit sy pad gegaan het ander te help.
Dit is die beeld wat ontvou oor ’n beminde geestelike leier van die Wes-Kaapse dorp wat die afgelope naweek na berig word, in sy bakkie gekaap en vermoor is.
Sy suster, Wilma Groenewald, skryf op Facebook: “My liewe boetie, jy is op ’n wrede manier van ons af weggeneem. Tog laat jy ons met onskatbare herinneringe. Jy het jou alles vir mense gegee. Letterlik en figuurlik. Jou opdrag as dominee maar ook jou liefdestaak aan jou familie en vriende het jy ten volle uitgeleef.”

Du Toit Conradie, ’n oud-dominee wat nou boer en ’n jarelange vriend was, beaam hy ken Nieuwoudt sedert hulle teologiese studiejare op Stellenbosch as iemand met “absoluut ’n passie vir die Here en vir mense … daar was nie vir hom onderskeid van ras of stand nie”.
Oor sy dood sê hy dit laat ’n “uitsonderlike leemte … daar is ’n verslaenheid”.
Conradie vertel Nieuwoudt, hoewel ’n gelegitimeerde NG dominee, het gekies om nie as vaste leraar in ’n gemeente te dien nie – daarom dat hy die status van proponent behou het. Sy vrou, Marta, het skoolgehou op Citrusdal en Ceres, die twee dorpe waar hulle gewoon en hulle twee seuns, Adriaan en Hendrik, grootgeword het. Hendrik is bekend as akteur vir rolle in onder meer die film Moffie en die kykNET-reekse Fynskrif en Tydelik Terminaal.

Nieuwoudt was vir jare nou betrokke by die VGK-gemeente op Ceres. Hulle het hom dan ook geken as “proponent”, soos Venessa Manuel op Facebook skryf: “Ek sal proponent nooit vergeet nie. Hy was ’n goeie vriend van my ouers en het gereeld huisbesoeke gedoen.. sy hart het uitgegaan vir ons plaasmense en vir die wyk waar hy gedien het”.
Ds Pierre Marais van Ceres Moedergemeente vertel dit was nie ongewoon vir Nieuwoudt om saans laat uit te wees nie. “Hy het ’n verskriklike gerigtheid op mense gehad,” vertel hy en voeg by daarom was dit nie vir Nieuwoudt se vrou vreemd toe hy Vrydagaand laat nog nie tuis was nie.
Nieuwoudt se wit dubbelkajuitbakkie is later op ’n plaas naby Worcester gekry. Netwerk24 het berig Worcester-polisie het twee 19-jarige mans in verband met Nieuwoudt se moord in hegtenis geneem. ’n Klag van moord en voertuigdiefstal word ondersoek.
Die reëlings rondom Nieuwoudt se roudiens sal nog bevestig word.
