Dawid Willem de Villiers is op 23 Mei 1955 gebore in die Mowbray-hospitaal in Kaapstad. Hy is vernoem na sy vader dr Dawid Willem de Villiers, ’n boorling van Villiersdorp, wat diep spore as NG leraar en professor in die kerklike lewe trap. In sy studentedae op Stellenbosch word na hom verwys as “Heilige Dawid”, ’n naam wat hy ’n leeftyd lank dra en kenmerkend is van ’n besondere lewe in koninkryksdiens. Dawie se moeder is Anna Swart, ’n boorling van De Rust in die Groot-Karoo waar haar vader as skoolhoof en gemeenskapsleier ’n groot rol speel. Anna gee later onderwys aan die skool vir Dowes op Worcester. Hulle is ’n dinamiese leraarspaar in die NG gemeentes Wellington, Mosselbaai, Strooidakkerk in die Paarl en Burgerspark in Pretoria. Later word hy professor aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en tree af aan die einde van 1987 as dekaan en dosent aan die Profeteskool op die walle van die Eersterivier.
Dawie se vrou dr Gerda skryf: “Hulle was baie gesteld daarop dat dinge ‘reg’ gedoen moes word, en dat alles ‘reg’ moet vertoon. Sover ek weet was Dawid se ouers die enigste wat daarop aangedring het dat kinders en skoonkinders hulle as ‘Vader’ en ‘Moeder’ aanspreek. Skoonpa baie gesteld op die ‘Viljee’-uitspraak van sy van.” As ’n intieme vriend van die gesin sedert 1971, het ons interessante belewenisse en tye met prof Dawid en Anna de Villiers en hulle drie seuns Ettienne, Pierre en Dawie beleef.
Dawie begin sy skoolopleiding in 1961 aan die Laerskool Stellenbosch en is ’n enkele jaar ook leerling aan die Laerskool Port Natal, want terwyl sy ouers ’n jaar lank in Nederland was tydens dr Dawid se studieverlof, het hy by sy moeder se suster en haar man op Amanzimtoti gebly. Hy is ook later leerling aan die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch en in Hoërskool Durbanville.
Hy was toe reeds lief vir Afrikaanse Letterkunde en twee van sy beste skoolvriende was Etienne van Heerden en Koos Kombuis, met wie hy tot sy dood kontak hou.
Dawie studeer aan die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA- en Honneursgrade verwerf. Tydens Dawie se jong dae word hy ernstig siek aan depressie en die worsteling bring ’n diepte en insig in sy jong lewe, wat ten goede meewerk omdat hy ’n geestelike rykdom verwerf wat hom iemand besonders maak. Hy behaal ’n MAgraad in Afrikaanse Letterkunde by Maties oor “Die saak vuur by Sheila Cussons”. In 1980 vul Dawie de Villiers ’n jaar lank ’n aflospos in die plek van prof Jakes Gerwel as dosent in Afrikaans- Nederlands by Universiteit van Wes-Kaapland.
Op 5 Julie 1980 trou Dawid met mej Gerda Cilliers, ’n boorling van Natal waar haar vader die Here dien as mediese dokter. Sy was die regte medisyne vir die jong Dawie en saam kap hulle ’n wonderlike lewenspad uit tot eer van die Here. Voor sy troue is hy bekend as Dawie, maar na sy troue noem sy hom Dawid en hulle gesamentlike vriende en kennise volhard met Dawid. Dr Gerda de Villiers is ’n teoloog in eie reg en doseer aan die Fakulteit Teologie in Pretoria tot met haar aftrede in 2021. Uit hulle huwelik is twee kinders gebore. Dawid Willem de Villiers, ’n prokureur by Webber Wentzel in Johannesburg, wat spesialiseer in internasionale bankwese. Hy is getroud met Christelle, ’n argitek wat vir haarself werk. Hulle het twee kinders: Willem (7) en Ben (5). Dr Dawid en Gerda se jongste seun is Abraham Albertus de Villiers, wat in Australië woon en werk by Riverinakonservatorium, waar Braam as musikus blaasinstrumente met saksofoon s hoofinstrument bemeester. Hulle het een seuntjie Jess en ook vir Leon in pleegsorg.
Aan die einde van 1980 maak Dawie bekend dat hy geroepe voel om predikant te word en begin met sy teologiese studie. Op ’n besondere wyse word die jong Dawie toegerus vir die bediening tydens sy studie aan die Fakulteit Teologie in die Eikestad waar hy in 1981 met sy studie begin. Dit is ’n voorreg om saam met ander studente aan die voete van sy vader en naamgenoot te sit, waar hy aan die einde van 1984 as proponent gelegitimeer word. Prop DW de Villiers ontvang ’n beroep na die NG Gemeente Waverley-Oos in Pretoria, waar hy op 14 Februarie 1985 as leraar bevestig word. In sy dienstyd word ’n groter kerksaal en kategeselokale gebou waarby Dawie intens betrokke is.
In 1988 verwerf ds Dawie sy doktorsgraad in Ou Testament aan die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria. Sy proefskrif handel oor die besweringsrefrein in Hooglied, seker die mooiste gedig in die Bybel. Sy liefde vir letterkunde speel ’n rol in sy keuse vir die studie oor Hooglied. In die jare ná 1993 is regstellende aksie aan die orde van die dag en mense verloor hulle werk en dit stel hoë eise aan die leraars en gemeente wat barmhartigheidsdiens betref. Hy en sy vrou Gerda is tussen 2006 en 2009 medewerkers om liturgiese materiaal gereed te maak vir die destydse Sinode van Oos-Transvaal.
Weens ’n gebrek aan fondse in die gemeente moet dr Dawie de Villiers na 13 jaar sy emeritaat aanvaar en hy word op 1 November 1997 bestuurder van die aftreeoord Huis Vergenoeg in Villieria in Pretoria. Dit is ’n moeilike en veeleisende pos, maar hy gee daaraan nuwe inhoud en bekwaam homself akademies met ’n MA-graad in Bedryfsielkunde. Hy verwerf in 2004 ook die Magister Commercii in Menslike Hulpbronbestuur, met die titel “Die verband tussen werknemerdiefstal en etiese werksklimaat in ’n versorgingsoord”.
Dr Dawie de Villiers studeer verder aan die Universiteit van Suid-Afrika en bekwaam hom as prokureur en is sedert 2014 betrokke by twee regspraktyke en praktiseer later op sy eie. Hy sterf weens lewersirrose, pas na middernag op 19 Mei 2022. Dr Dawie de Villiers se herinneringsdiens vind plaas op 23 Mei 2022, die dag waarop hy sy 67ste verjaarsdag sou vier. Sy vrou dr Gerda de Villiers hou ’n kort diens en hulle seun Dawid de Villiers lewer ’n treffende groetewoord en prof Ettienne de Villiers ’n huldeblyk met die afsterwe van sy broer. So word die lewenseinde van dr Dawie de Villiers beskryf.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM
