Louis Leopold Branders is op 14 Mei 1927 gebore op Dewetsdorp in die Suidoos-Vrystaat. Sy vader is Leopold Karel Branders, ’n kontrakteur, en sy moeder is Martha Louisa Branders. Hy is die jongste van elf kinders wie se ouers deel is van ’n liefdesgemeenskap op die Vrystaatse dorp. Binne drie jaar word die land getref deur die verwoestende 1933-droogte wat die platteland laat ontvolk en boeremense na die goudstad Johannesburg laat stroom.
Soos baie mense van sy tyd het plattelandse mense na die Witwatersrand verhuis vir ’n beter toekoms. Louis begin sy skoolopleiding op Dewetsdorp en in 1933 word hy leerling aan die Laerskool Brakpan-Oos, waar hy reeds as storieverteller sy man staan tussen die skoliere. Brakpan het nog nie ’n hoërskool nie en hy word in 1941 leerling aan die Hoërskool Voortrekker te Boksburg. In dié tyd is hy ’n meelewende CSV-lid en in 1944 tydens ’n kamp in sy matriekjaar voel hy geroepe om predikant te word. Onder leiding van sy leraar dr LP Snyman, vertrek hy na die Universiteit van Pretoria waar hy die BA-graad verwerf. Hy neem aktief deel aan die studentelewe en blink uit as toneelspeler, verhoogkunstenaar en pensketskunstenaar. In 1948 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan die Universiteit van Pretoria waar hy die BD-graad verwerf en hy lewer sy proefpreek op 8 April 1951 in die NG Kerk Villieria in die Jakarandastad. Hy word op 1 Desember 1951 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer.
Vroeg in 1952 help hy as proponent in die NG Moedergemeente Delareyville in die Wes-Transvaal, waar hy bekendheid verwerf en met die stigting van die NG Gemeente Migdol word hy op 7 Desember 1952 met handoplegging in die gemeente ontvang en bevestig. As seun van die stad word hy lief vir boeremense en die platteland en ’n besonder geseënde dienstyd met groot geestelike seën is ’n kenmerk van sy tyd op Migdol. Dit was ’n droewige dag vir die pastoriegesin en gemeente toe ds Louis Branders in 1957 ’n beroep aanvaar na die NG Gemeente Benoni-Oos. In 1961 tree hy in diens van die Christelike Lektuurfonds en sy diensterrein is die gemeentes in Suid-Rhodesië (Zimbabwe) en Noord-Rhodesië (Zambië), ’n wyd uitgestrekte streek om te besoek. Intussen rysmier politieke onstabiliteit die streek en besoeke aan gemeentes word bemoeilik en ds Louis keer terug na Suid-Afrika. Hy begin met ’n doktorsgraad onder leiding van prof Willie Jonker, maar dit ly skipbreuk toe prof Willie ’n beroep aanvaar as teologiese professor in Nederland.
Intussen gebruik ds Louis Branders sy talent as pensketskunstenaar om ’n volkleuruitgawe te laat verskyn om sy standpunte oor illustrasies as hulpmiddel by godsdiensonderrig tasbaar te verduidelik. Die boek Die kategismus deur die oog na die hart word in 1957 gepubliseer en in 1963 herdruk. Sy seun Jan Branders skryf: “Wat hierdie werk ook vir die teologiese studente akademies van groot waarde maak is die sinoptiese weergawe van die Drie Formuliere van Enigheid. ’n Eerste in die ganse geskiedenis van die kerk.”
Nadat hy einde 1963 die diens van die Christelike Lektuurfonds verlaat, werk hy as spesiale verteenwoordiger van Sanlam in Johannesburg en ontvang in 1965 die gesogte toekenning as kampioenbemarker van die jaar. Die ondervinding wat hy in dié tyd in die sekulêre en korporatiewe wêreld opdoen, is vir hom van onskatbare waarde in sy voltydse bediening daarna.
Hy doen op 26 November 1968 sy Colloquium Doctum en keer terug na die aktiewe gemeentebediening en doen afloswerk in die NG Gemeente Horison in Roodepoort. Op 4 Oktober 1969 word ds Louis Branders bevestig as leraar van die NG Gemeente Boksburg- Wes waar hy 23 jaar lank werk tot met sy aftrede. Na ’n geseënde dienstyd van byna ’n kwarteeu aanvaar hy op 31 Maart 1991 sy emeritaat. Na sy aftrede het ds Louis op versoek gepreek, die sakramente bedien en huwelike bevestig in meer as twintig gemeentes aan die Oosrand. Hy het oor goeie menseverhoudinge beskik en sy Skrifgebonde prediking en sy deeglike voorbereiding en oorspronklike inkleding daarvan, het mense met aandag laat luister. Hy het ’n goeie humorsin besit en kon sy preke stigtend en boeiend voordra. Sy bediening was ’n getuienis van goeie menseverhoudings.
Sy seun Jan Branders getuig: “Hy was ’n begaafde pentekenaar, wat sedert sy skool- en studentedae talle publikasies en voorbladontwerpe gedoen het. As predikant veral met kinders in die gehoor, was hy ’n besondere en begaafde mens. Hy het die vermoë gehad om sy gehoor, klein en groot, deurgaans gebonde te hou. Vroeg in sy bediening was hy olie- en pastelkunstenaar waarmee hy later opgehou het, omdat die ontwerp en aanbieding van boodskapillustrasies en beelde vir kinders baie van sy tyd in beslag geneem het. ’n Permanente flenniebord is hiervoor aan die muur agter die kansel aangebring. Dit was baie gou vir gesinne en gemeentes ’n onontbeerlike deel van die erediens. Die gevolg was dat hy agt jaar lank twee oggenddienste moes hou om die groot getal kerkgangers te akkommodeer.”
Ds Louis Branders se merkwaardige drukkerstalent het hom in staat gestel om gemeenteblaaie uit te gee, Bybelstudieboeke en ook gemeentelike jaarprogramme te druk. Na sy aftrede het hy en sy vrou Frances die kerkalmanakke van 120 gemeentes gedruk, en hulle seun Francois wat sy vader se talente geërf het, het daarmee voortgegaan en ’n bekende diensleweraar geword in die korporatiewe wêreld. Ds Louis en sy vrou Frances, met wie hy 46 jaar lank getroud was, is ook bekend as bekwame gholfspelers. Hy was ’n bekende visserman en ’n kenner van haaispesies. Om dit te kroon was die egpaar se haaigeregte bekende seekos, twee mense wat oral geliefd was.
Hierdie geliefde leraar sterf op 9 Julie 2022 in die ouderdom van 95 jaar na ’n geseënde leeftyd.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM
