Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Koos Oosthuysen (1933 – 2021)

Jacobus Christiaan Oosthuysen (Koos) is op 5 Desember 1933 te Port St Johns in die Transkei gebore. Sy vader was Jacobus Christiaan Christoffel (Koot) Oosthuysen (1890-1971) en is later leraar van die NG Gemeentes Brakpan, Indwe en Bethulie. In 1932 versoek die Kaapse Kerk hom om met sendingwerk langs die kus van Pondoland naby Port St Johns te begin en hy word ’n baanbrekersendeling in die Transkei. Koot se moeder is Gertruida (Truida) Naude Schoon (1893-1971), een van veertien kinders van ds HF Schoon (1851-1930), ’n sleutelfiguur in die Natalse Kerk. Hy was van 1881 tot 1917 leraar van die NG Gemeente Ladysmith in Natal.

Dr Koos Oosthuysen skryf oor sy oupa Schoon: “As goeie Hollander was oupa lief vir sy pyp en tabak. Eendag kry hy op huisbesoek ’n groot droë blaar pyptabak present en hy stap daarmee huis toe. ’n Ouderling, wat op sy huis se stoep sit, sien die dominee verbykom met die tabak onder sy arm. “Dominee gaan tog seker nie daardie afgod dien nie,” sê hy. Maar Oupa stel hom gerus: “Broer, ek verseker jou, ek sal die laaste krieseltjie daarvan verbrand.”

Ds Koos Oosthuysen ontmoet sy vrou Truida toe hy leraar was in die NG Gemeente Brakpan waar sy ’n onderwyseres was. Hulle is op 30 Maart 1920 in die NG Kerk Ladysmith in Natal getroud. Uit die huwelik is vyf kinders gebore, van wie een jonk gesterf het. Die oudste dogter is Helene, wat later trou met ds JL de Villiers, later die bekende prof Koekjan de Villiers van die kweekskool op Stellenbosch. Die jongste is Koos, wat in die voetspore van sy vader loop en NGKA-sendingleraar word in King Williams Town.

Koos word groot in die pragtige Transkei op die sendingstasie Isilimela in Pondoland, ongeveer 60 kilometer van Port St Johns, waar sy ouers as sendelingspaar werksaam was. Hier op Isilimela word hy gedoop deur ds OA Cloete, toe ’n jong leraar van die gemeente Umtata/Kokstad, met wie se dogter Lucie hy in 1960 trou. Koos beleef onbesorgde kaalvoetkinderjare met sy isiXhosa-sprekende speelmaats. Hy het van kleintyd af homself gesien as Umfundisi en homself voorgestel as Jacobus Christiaan Dominee Oosthuysen. Die daaglikse saamspeel met sy maMpondo-maatjies het isiXhosa sy tweede moedertaal gemaak.

Koos begin sy skooljare deur saam met sy maMpondo-maatjies met ’n griffel op ’n lei te leer skryf en te klank sa se si so su. As die maatjies na skool buite baljaar, roep sy ma hom om Afrikaans te leer lees en skryf. In 1942 verhuis die gesin na die Decolignysendingstasie in die Mthatha-distrik waar hy in Afrikaans skoolgaan. Met sy ouers se verhuising na die Rietvleisendingstasie, word hy leerling aan die Kokstad High School waar hy matrikuleer en as hoofseun leiding gee. Hy kry spesiaal toestemming van die skoolhoof om sy veldhoed met kleureband in plaas van die Engelse strooihoed, dorp toe te dra.

Na matrikulasie vertrek hy na die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA-graad verwerf en aanvanklik ’n inwoner is van Huis Marais. Intussen verhuis sy ouers na Stellenbosch en hy woon by hulle in Victoriastaat. Hy verwerf ’n honneursgraad in filosofie en prof Johan Degenaar se kritiese benadering ten opsigte van politiek en teologie steek by hom vas. Ook professor Willem Kempen se kritiese benadering aangaande grammatika het ’n lewenslange invloed op hom, wat sou uitmond in sy doktorale proefskrif “The grammar of isiXhosa”. Hy is voorsitter van die Stellenbosse BTK (Berg- en Toerklub), sekretaris van die studenteraad en ook redakteur van die jaarblad, Die Student. In 1956 word hy student aan die Teologiese Seminarium langs die Eerstervier, speel in die kweekskool se rugbyspan en bou ook aan ’n liefdesverhouding met Lucia in die Eikestad.

In sy finalejaar ontvang Koos ’n beurs om aan die Divinity School van die Yale Universiteit te New Haven in die Verenigde State van Amerika te gaan studeer in Politieke Teorie, Sendingwetenskap, Etiek en Dogmageskiedenis. Hierna word die STMmeestersgraad aan hom toegeken en aan die einde van 1959 word hy as proponent gelegitimeer, die eeufeesjaar van die profeteskool op Stellenbosch. Ds Koos trou op 17 Desember 1960 met mej Lucia Cloete, dogter van die geliefde ds OA Cloete, geliefde leraar van die NG Kerk.

Lucia is ’n gekwalifiseerde onderwyseres en was later lektrise by die Onderwyskollege Lennox Sebe, waar sy baanbrekerswerk verrig deur jong swart studente aan te raak met begripvolle omgee. By geleentheid verleen sy studiehulp aan die struggle-aktivis Steve Biko. Sal ons ooit kan begroot watter invloed ten goede ds Koos en Lucia Oosthuisen se opregtheid en hulp aan hom was wat hy baie waardeer het?

Op 24 April 1969 word hy leraar van die gemeente Drakenstein by die Paarl, as sendeling in die NG Kerk in Afrika. Hy word op 9 Desember 1973 leraar van die NGKA-gemeente King Williams Town, en op 3 Februarie 1974 word hy leraar van Qonce in King Williams Town. Weens sy bekwaamheid word hy ’n natuurlike raadgewer van verskeie isiXhosasprekende gemeentes in die NG Kerk in Afrika en in 1994 moderator van die Kaaplandse sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika.

As ’n vlot Xhosaspreker met enorme natuurlike aanleg in tale, is dr Koos Oosthuysen bestem vir groot werk om die isiXhos -Bybel toeganklik te maak vir die mense wie se harttaal en menswees hy verstaan. Vanaf 1974 tot 1995 was hy projekkoördineerder in diens van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Hy was behulpsaam met die publikasie van die destydse vertaling in hersiene standaard-ortografie, waarna ’n eietydse isiXhosa-vertaling onder sy leiding gevolg het.

In die plek van die vroeëre letterlike vertaling is nou gesoek na eietydse uitdrukkings om die gedagtes van die Bybelskrywers weer te gee. Ons volstaan met een voorbeeld. In plaas van die leenwoord ankile (anker) in Hebreërs 6:19 om “hoop” te beskryf, staan daar nou intsika (die steunpaal van ’n hut). Dr Koos Oosthuysen is met die vertaalwerk onder andere deur twee Xhosaleraars, moruti EH Dike en moruti ZWN Nkuhlu, bygestaan. Hy het as Bybelvertaler en kerkleier/fasiliteerder in ’n oorgangstyd merkwaardige werk gelewer.

Aan die einde van 1999 tree dr Koos Oosthuysen amptelik af, maar sy hart bly kleef aan sy roeping en taak as Bybelvertaler. Sy afskeid in 2003 te Mbekweni en sy verblyf in Noordhoek raak baie mense se lewe aan. In 2012 ontvang dr Koos van die Andrew Murray-prysfonds ’n spesiale toekenning om erkenning te gee aan sy meesterlike bydrae tot Bybelvertalingswerk. Hierdie werkolis hou nie op studeer nie en kort voor sy 80ste verjaarsdag in 2013 ontvang hy ’n doktorsgraad aan
die Rhodes-universiteit met die verhandeling: “A critical analysis of the grammar of isiXhosa as used in the Revised Union Version of the Bible (1942/1975).”

Hy vertel op 3 Mei 2013 aan Kerkbode: “Ek beplan nou om ’n ou isiXhosa-handleiding in Engels te hersien. Daarna sal ek kyk waarmee ek my gaan besig hou. Ek het al ’n hartomleiding gehad en my kanker is in remissie. Ek dink dus daar wag nog so ’n paar dinge op my.”

Dr Koos en Lucia Oosthuysen het vier kinders: Erika is ’n uitgewer, wat in Vredehoek, Kaapstad woon, Christoff is betrokke by kleinsake-opleiding en woon in Rondebosch. Gerda is ’n onderwyseres in Johannesburg. Ilse is ’n sielkundige en woon te Reinou in Switserland. Hierdie Afrikaanse seun wat isiXhosa meesterlik kon hanteer soos sy eie moedertaal, sterf op 21 Augustus 2021 in die Covid-19-tyd met geen formele begrafnis nie. Net sy naby mense hou ’n huisafskeid met sy oorstap na die Hemelstad.

– Dr Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top