Klein Liliana van der Merwe loer grootoog terwyl haar Oupa Wietse sy oë toemaak om saam met nog sowat 80 voornemende Comradesatlete te bid tydens ’n spesiale erediens by die NG Kerk Parowvallei-Oos.
Wietse van der Westhuizen hoop om weereens hierdie naweek tussen medehardlopers by die wegspringpunt te wees wanneer die 96ste Comrades Maraton vanjaar op 11 Junie in KwaZulu-Natal plaasvind.
Vir Wietse (65) sal dit sy 44ste wedloop wees.

Dis vir die afgelope 11 jaar tradisie dat deelnemers van dié ultramarathon na hierdie klein gemeente in een van die Kaap se noordelike voorstede kom waarheen Kerkbode ook genooi is.
Op hierdie koue Kaapse wintersoggend merk lidmate op hoe lekker dit is om soveel mense in die kerk te sien wat ‘n paar weke terug hul 70ste bestaansjaar gevier het.

Ds Theo Swart, hul leraar, dra vir die geleentheid sy ou groen Comrades-top (gekoop in 1988 met sy 10de wedloop) en tekkies. G’n pak of das nie. Langs hom is ’n hout mannekynpop aangetrek soos ’n Comrades-atleet.
Hy lees voor uit Prediker 3 wat sê elke seisoen of belewenis het sy tyd. In plaas van die gebruiklike koor speel Swart ’n video-opname waar die 60s popgroep The Byrds hul treffer-beryming van hierdie teks sing. Swart sê dis hoe deelname aan ’n ultra-marathon soos Comrades ook is. Daar is tye wat jy swaar kry en wat jy lekker hardloop. Tye wat jy saam met ander in kameraderie hardloop en tye van alleenwees in jou gedagtes. Dit geld ook vir die lewe. Wat dit nie is nie, is maklik soos vandag se tema lui, ‘Aikona! Dis nie so maklik nie’.
Hy verduidelik dat of dit die swaarkry of die lekkerkry is, dit gaan verby en om dit te illustreer vertel hy ook ’n storie van ’n mitiese ring met drie Hebreeuse woorde daarop gegraveer wat gefonetiseer word as “Gam Zeh Yavoor” en glo losweg vertaal kan word as “Ook dit sal verbygaan, gaan net aan!”.
Al is dit vanjaar 45 jaar gelede sedert Swart sy eerste Comrades gehardloop het onthou hy goed hoe styf sy bene na die tyd was, te seer om terug te ry huistoe na Brakpan. Sy meisie, nou vir 43 jaar sy vrou, moes meeste van die afstand ry. Hy hardloop nie meer die Comrades nie, maar hy mis dit. Selfs die limp of pride na die tyd.

“My wens vir julle is dat julle die Here se genade om die lewe geniet sal beleef en weet om te kan hardloop is ’n seën”, sê hierdie veteraan met 27 voltooide Comrades-wedlope (en twee silwer medaljes) agter sy naam.
Elkeen in die diens wat aan vanjaar se Comrades deelneem het ook ’n klein groen kruisie gekry om aan hul tekkies se veters vas te maak. ’n Sigbare herinnering aan hulle Bron van krag sê Swart.
- Kerkbode verneem elders in die land is soortgelyke Comradesdienste gehou. E-pos gerus foto’s met ’n kort beskrywing na helene@bmedia.co.za.
- Die berig is aangepas na publikasie.
