Toe ek jonk was het die kerkmense altyd gesê, jy praat nie politiek by die kerk nie. Nou blyk dit, dit was dalk ’n fout?
Die kerk was nog nooit goed met mag nie, en politici het ’n manier om godsdiens tot voordeel van hulle eie groep te manipuleer. Ek voel effe deurmekaar oor die saak en besluit om raad te vra by dié een ou wat ek ken wat die meeste van sulke dinge weet.
Ruhan Fourie, is ’n historikus in Bloemfontein wat al heelwat geskryf het oor die geskiedenis van die NG Kerk en die politiek in Suid-Afrika. Hy is tans juis besig met die skryf van ’n boek oor die NG Kerk en die Rooi Gevaar. ’n Artikel op sy blog oor hedendaagse politici se verhouding met kerkgroepe het onlangs weer gesprekke op RSG en ander plekke ontketen.
“Wel, of dit nou destyds was om apartheid of kolonialisme ’n morele legitimiteit te gee, of later om teen onreg te praat, soos byvoorbeeld by mense soos Beyers Naudé, die kerk en politiek in Suid-Afrika is nog altyd diep verweef met mekaar,” sê hy.
Eintlik praat ons nog altyd politiek in die kerk, en godsdiens in die politiek, of ons dit nou in die verlede wou erken of nie – en of ons dit op die naam genoem het of nie. Maar dit is tog effe anders vandag as in die verlede.
“Waar die kerk en politiek se saamwees in die bed, destyds meer institusioneel was, is dit vandag meer opportunisties,” verduidelik Ruhan.
“Konserwatiewe antwoordgedrewe teologie werk op ’n manier goed vir politici in ’n land soos Suid-Afrika, waar mense antwoorde soek en al meer hopeloos is en waar 84% van die bevolking hulleself vereenselwig met die Christelike geloof. So, die politici weet hier is ’n kieserskorps. En as jy vaagweg genoeg met God werk met daai kieserskorps, dan kan jy stemme kry!” meen hy.
Maar dit help nie ’n mens kyk net na die politici se verhouding met die kerk vandag nie, jy moet ook na die geskiedenis kyk én dan na die gewone goed wat op die grond gebeur.
Broederbond, die NGK en Beyers Naudé
Ons gesels oor Beyers Naudé; dis Ruhan se droom om binnekort ’n deeglik nagevorste biografie te skryf oor sy lewe.
“Ek dink dis die ding wat Beyers Naudé vir my as biograaf so aantreklik maak, uit die eerste helfte van sy lewe, leer ken jy die Afrikaner-Nasionalisme, die instellings daarvan, die broederbond, die NGK … en dan daarna leer jy iets van ’n plaaslike anti-apartheidsbeweging, en dan weer iets van die Europese anti-apartheidsbeweging, want hy raak ook daar betrokke. En dit is al hierdie stories rondom hierdie één enkele oom, en hy’s eintlik ’n baie basiese ou. En dit is wat ek van hom hou, hy was na alles maar net ’n oom!” sê hy.
Ons kan baie leer uit die geskiedenis, by mense soos Beyers Naudé, Bram Fischer en ander, maar as ons nie die paradoks van hulle kompleksiteite én eenvoud verken nie, en ook nie die konteks van hulle tyd nie, leer ons eintlik min.
Ek het baie vrae, wil onder andere by hom hoor vir wie ek in die volgende verkiesing moet stem, want ek het nie ’n idee nie – en ons mag mos politiek in die kerk praat – en ek wil veral weet hoe ’n kerk met ons geskiedenis dan tog ’n rol kan speel in die politieke omgewing in ’n land soos hierdie, in ’n tyd soos dié?
Maar Ruhan wil eers vertel van ’n interessante reis waarop hy onlangs saam met ’n joernalisvriend was. Hulle was onder andere in Vanwyksvlei en Orania. Hy is duidelik iemand wat met nuuskierigheid kyk, eerder as oordeel – ’n gawe in ons tyd.
Hy vertel van Vanwyksvlei United, die plaaslike rugbyspan van die afgeleë dorpie in die Noord-Kaap, waar daar nie ’n enkele kolletjie gras op die rugbyveld is nie. Die plaaslike dominee, Deon van der Berg, is die beskermheer van die rugbyspan, al is hulle nie mense van sy gemeente nie.

“Dis thriving! Daar’s nie werk nie, maar daar is ’n rugbyspan en die hele dorp was daar toe hulle nou die dag teen ’n span van Prieska speel,” vertel Ruhan. “En Deon, die NG dominee, is só lief vir daai span. Dis soos ’n pilaar in daai gemeenskap, waar dit soms op die oppervlak kan lyk of daar nie altyd baie hoop is nie.”
Watter rol moet die kerk dan speel?
Vandaar is hulle na Orania.
“Ek en my joernalispel het opgeloop teen die koppie waar die oud-apartheidspresidente se kopstukke is. Dit was nogal snaaks, want toe ons daar op stap, en die Orania-vlag wapper so, is daar drie tieners wat baie duidelik nou net dagga sit en rook het. En net daar besef ek, dit is eintlik hierdie heel normale plattelandse dorpie, al word dit soms verkoop as iets anders.”
Ek kry hom weer aan die praat oor die kerk en politiek en hy vertel van ’n vreemde bekommernis en ’n bietjie hoop.
Ruhan sê hy is soms bekommerd oor die groeiende ‘ons sal self’ idee by mense; by dinge soos sekuriteit en ander goed wat die regering afskeep.
“Ek verstaan ons moet maar iets doen. Maar dit is gewoonlik ’n baie beperkte groep mense wat daai alternatiewe dienste kan bekostig en hierdie mense se eie veiligheid kom eerste. So ek het ’n idee dat daai teenreaksie, teen ’n staat wat nie omsien na sy burgers nie, die middelklas al hoe meer kan verklein en selfs isoleer; ’n ander vorm van laer trek,” sê Ruhan.
’n Mens moet waak teen maklike antwoorde op komplekse uitdagings, waarsku hy meer as een keer.
Nou watter rol moet die kerk dan speel? vra ek.
“Ek dink die sterkpunt van die groter denominasies, soos die NG Kerk is, daar is ’n tak op elke dorp!” lag hy.
“Ons nasionaliseer ons politiek in Suid-Afrika, kyk na die parlement, maar dit is belangrik om op grondvlak goeie burgerskap uit te leef. En ek dink dis waar gemeentes ’n belangrike rol kan speel. Ons kan plaaslike regerings help, en ander kere ’n drukgroep vorm teen onreg en swak dienslewering.
Ek dink die plaaslike gemeente is belangriker as die rol van “die kerk”. Elke keer as ek hoor “die sinode” sê iets, weet ek nie of iemand luister nie. En tweedens, hulle praat nie namens almal nie, want dit reflekteer selde wat gewone gemeentelede voel. Dit is hierdie baie mooi PR, maar ek weet nie of dit lekker werk nie. Maar ek dink grondvlak, positiewe burgerskap is waar gemeentes ’n politiese invloed kan hê,” sê hy. “Aan die ander kant sien jy ook baie cool goed gebeur, soos ’n rugbyspan op Vanwyksvlei. As jy hoop wil sien, is dit in daai klein pockets!”
- Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo-Jeuggemeenskappe.

Geskiedskrywing is his-story en nie my-story nie. As jou onderhemp eers uitsteek met Beyers Naude se gesig op jou bors, het ek my reeds met iemand anders beklee sodat hy ek kan word. Dan is dit ook ek op die koppie in Orania wat my storie vertel, terwyl ek reeds die kritiese afstand verloor het tussen die hy en nie die ek om wie dit moet gaan. Wanneer die kyk deur my bril reeds die kyk deur sy bril vervang het, is dit nie meer his-story nie maar my-story. Die multiperspektiewe kyk deur al die multifokale lense van sy tyd, sal vir ons kan sê wie Beyers Naudé na eie aard was. En dit is nie die mooi oompie prentjie wat verteken word nie – Beyers Naudé het ‘n ander kant of twee wat nog nie vertel is nie, en daardie afdruk van sy gesig sal eerder versteek moet word. Ek vind die inhoud van die onderhoud erg tendensieus en nie eie aan wie en wat ‘n geskiedkundige vandag moet wees nie.
Johann, jou kennis oor Beyers Naudé se veelkantigheid sal ‘n groot hulp wees vir my navorsing! Sal jy groot asb vir my ‘n epos kan stuur met met meer inligting? Klink my die waarheid moet uit en jy hou die sleutel.
ruhan(dot)fourie(at)gmail(dot)com
Baie dankie!