Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Mias Nortier van Jacobsdal skryf:
Auguste Escoffier, wat wyd beskou word as die bekendste en invloedrykste Franse sjef en in die 19de eeu sy impak gehad het op die kulinêre wêreld, het die bekende gesegde gehad: “La bonne cuisine est la base du véritable bonheur” (Goeie kos is die fondasie van ware geluk). Hierdie uitspraak is gedeeltelik korrek, want daar is min dinge wat so universeel is oor alle grense, soos ’n lekker bord kos. By hierdie gesegde sou ek dit anderste verwoord: “Goeie kos met die samesyn van gelowiges, is die fondasie van ware geluk”.
Die idee van ’n spys-, drank- en evangelie-paring klink aanvanklik vreemd op die oor. Die Bybel (Ou en Nuwe Testament) is egter vol voorbeelde waar God spreek deur middel van die kombinasie van wonderwerke, spys en drank. Hierdie kombinasie maak die ervaring en boodskap sóveel dieper. Die verhale getuig van persone wat met behulp van al hulle sintuie die evangelie ervaar het. Daarom dan dat die idee van ’n spys-, drank- en evangelie-paring nie so onbybels of vreemd is nie. Dit is ’n wyse waardeur ’n mens ten volle die evangelie kan ervaar met smaak, reuk, hoor, proe en voel.
Die afgelope naweek het ons so ’n aand gehou vir Jacobsdal se gemeenskap. Die 42 gaste is begelei deur ’n driegangmaaltyd, getiteld “Offer”. Die aand het begin met vars gebakte potbrood en ’n kelkie glühwein. In hierdie geregte se diepe speseryaromas is vasgevang die nostalgie van tuis wees in ’n plaaskombuis, wat ’n warmte in ’n mens laat kom.
Ons het Matteus 6:9-13 voorgelees wat ons herinner aan die eenvoud van God se fisiese en geestelike brood waarmee Hy die gelowige voed.
Die hoofgangete was gemsbokfillet met béarnaise sous en pomme rösti (aartappelkoekie). Hierdie is bedien saam met Calitzdorp se Pinotagewyn. Die vlamme waarmee die fillet gaargemaak is, het simbolies aangesluit by die manier waarop diereoffers in die Ou Testament gebring is. Hebreërs 10 is voorgelees wat aansluit by die tema dat Jesus die perfekte offer was en vir ons sondes gesterf het. Om so die verhouding tussen God en mens te herstel, en die mens tot bekering en dankbaarheid te bring.
Die driegangete-ervaring is afgerond met ’n poeding en nageregwyn. Rooi turksvystroop met panna cotta (gestolde room) saam met Oranjerivier Wynkelders se Hanepoot. Die eenvoud van God se genade en sameloop van als was die fokus. Romeine 6 is voorgelees om die proses van eenwording met God en sterwe in jouself vir die sonde te simboliseer met die smelt van die sjokolade. Die Hanepoot se eenvoudige dog afgeronde note dui op God se sondeoffer wat voltooi is in Jesus se kruisiging en opstanding.
