Die NG Gemeente Stilbaai wag om te hoor of dit veilig sal wees om komende Sondag saam te kom in hulle kerkgebou.
So vertel ds Vian Fourie, een van twee gemeenteleraars by hierdie Suid-Kaapse gemeente, by navraag aan Kerkbode. Hulle wag net vir die verslag van die ingenieur van die Amerikaanse maatskappy wat verlede November hulle nuwe kerktoring van 34 m opgerig het. Fourie glo die diens sal wel voortgaan. Die toring is op Saterdag 29 Julie so deur stormwind verrinneweer dat die omliggende strate vir verkeer gesluit is. Fourie vertel stukke van die toring is sover as 50 m gewaai.
Hy voeg by dat van hulle gemeentelede verbygery het toe dit gebeur het. “Gelukkig is hulle ongedeerd. Ons is baie dankbaar niemand het seergekry nie,” sê Fourie wat binne sigafstand van die kerk bly.
Die gebeure het glad wye nuusdekking gehad.

Die gemeente het vir jare nie ’n kerktoring gehad nie nadat die vorige een in 2015 weens slytasie vir veiligheidsredes afgebreek is. Soos hy vir Kerkbode verduidelik wou die gemeente eerder hulle beskikbare finansies gebruik vir die verkondiging van die evangelie as die herbou van ’n kerktoring.
Verlede jaar het hierdie toringmaatskappy wat torings aan selfoonmaatskappye verhuur aangebied om op eie koste ’n nuwe kerktoring te bou. Fourie sê dit was vir hulle ’n goeie besluit om die aanbod te aanvaar, want dit sou vir die gemeente ’n ekstra inkomste inbring en “bonus, dan het die kerk ook weer ’n toring”.

Hy voeg by hulle eiendomsvoorsitter Gys Hofmeyr noem hierdie maatskappy het goeie versekering wat alle herstelonkoste sal dek om alles weer netjies te herstel.
- Berig aangepas na publikasie.
Het jy nuus? Kontak ons gerus per WhatsApp by 072 149 1969 of e-pos aan kerkbode@tydskrifte.co.za.
