Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Op Maryke Hansen (links) se vraag wat haar geheim is vir haar helder verstand en goeie gesondheid, antwoord die 100-jarige Hannah Gilliomee sy weet nie, buiten om te weet dat God goed is. Foto: Helene Meissenheimer

‘Wees lief vir almal, ongeag’ – 100-jarige Hannah Gilliomee van Bredasdorp deel lewensmotto

Sy moes vir drie dae met dieselfde rok aan skoolhou in haar eerste pos as kindertuinjuffrou. Haar tas en hoededoos het op die trein weggeraak.

“Ek was flou van skaamte,” onthou die 100-jarige Hannah Gilliomee (toe ’n nooi Cruywagen) klokhelder haar aankoms in 1946 op Bredasdorp, die Overbergse dorp waar sy vandag nog tuis is.

Die Kerkbode-span het by haar gaan tee drink kort na sy hierdie mylpaalverjaardag op 22 Julie gevier het. Meer as 150 mense was glo dié dag in en uit by haar tweeslaapkamerhuisie waarin sy al 16 jaar op haar eie woon. “Dit was ’n sirkus,” vertel haar jarelange vriendin Christine Britz, wat volgens tannie Hannah soos ’n aangenome dogter vir haar is.

Christine het sowat ’n maand gelede vir Kerkbode in ’n e-pos vertel van hierdie merkwaardige vriendin van haar. Sy skryf onder meer dat sy altyd vir haar die Kerkbode neem, “wat sy dan van hoek tot kant lees … sonder bril. Ek het gedink julle sal graag wil hoor oor een van julle oudste lesers, indien sy nie die oudste is nie”.

Die Kerkbode-span, van links Maryke Hansen, Helene Meissenheimer en voor Robert Cable, het by Hannah Gilliomee en haar vriendin Christine Britz (regs langs haar) gaan tee drink.

So is ’n besoek dan gereël en vat Kerkbode op ’n mooi sonnige wintersoggend die pad tussen kanariegeel canolavelde en grasgroen graanlande deur tot waar Hannah vir ons wag op haar geblomde rusbank met die blokkieskombers oor die rugleuning. Sy sit in haar sonnige sitkamer gevul met boeke, skilderye, prente en potplante.

Net ’n hanetreetjie straatop is die Suideroord-tehuis vir bejaardes. Ons hoor later heelparty van Hannah se eertydse leerlinge is inwoners hier en dat sy hulle by die naam ken, maar nie planne het om binnekort soontoe te verhuis nie. Sy maak nie meer tuin nie, want sy wil nie val nie, maar bak gereeld beskuit en kook haar eie etes.

Kyk ook: Video: Huisbesoek ná man deel van sy been verloor

Hannah lees ook graag. Sy vertel haar pad met Kerkbode kom al ver aan van haar kinderjare op die plaas by ouma en oupa waar hulle eers net die Môrester en later die Kerkbode op Sondae mag gelees het. Vandag lees sy graag die Amptelike nuus en vakatures in Kerkbode om te sien waarheen predikante skuif en ook van die rubrieke, maar sy is moeg om te lees van die ‘gay-debat’, vertel sy. Buiten die Kerkbode lees sy ook Die Burger. Sy gee altyd ’n pakkie van haar tuisgebakte beskuit vir die bode wat dit by haar huis aflewer. Op ’n ronde tafeltjie langs die rusbank lê haar nuutste leesboek, The tattooist of Auschwitz deur Heather Morris wat die eerste plek behaal het op die New York Times se besteverkoperlys in 2018.

Sy lees die Kerkbode van hoek tot kant, sonder bril. Foto: Robert Cable

Dit is gou duidelik. Hannah se oë en verstand is so helder soos die blou lug op die oggend van ons kuier.

Haar man Willem (hy was onder meer ook burgemeester op Bredasdorp) is sowat 20 jaar gelede oorlede en twee van hulle drie seuns leef ook nie meer nie. Nog net hulle middelkind Paul (nou in sy 70s) is oor saam met al die kleinkinders en ’n paar agterkleinkinders.

Die lewe het sy draaie geloop, maar sy het ’n vol lewe gehad. Die Here is goed vir haar, vertel Hannah.

Hanna vertel hierdie skildery van die huis waarin hulle as gesin soveel jare gewoon het is spesiaal vir haar.

 

Sy gaan nie meer baie uit nie, maar dit is min dat sy nie kuiermense het nie, voeg Christine by. Soveel mense op die dorp ken haar. Vir haar oud-leerlinge is sy nog steeds ‘Juffrou Hannah’. Sy onthou elkeen van hulle se naam en waar hulle gesit het. Of dit was op Bredasdorp, die buurdorp Napier of een van die plaasskole. Soos Hannah vir Kerkbode verduidelik, “ek vorm prentjies van waar hulle gesit het”.

Op die vraag wat haar geheim is vir haar helder verstand en goeie gesondheid (sy drink net bloeddrukpille), antwoord sy eerlik dat sy nie weet nie, buiten om te weet dat God goed is. Sy deel egter graag met Kerkbode se lesers haar eie drie lewensmotto’s wat sy onlangs ook met haar gemeente, die NG Gemeente Bredasdorp, tydens ’n oggenddiens gedeel het:

  • Bly naby die Here, want dit het haar deur moeilike tye gedra toe die lewe ook met haar draaie geloop het.
  • Vergewe ander maklik want dan is jy vry.
  • Maak jouself aanvaarbaar vir ander en aanvaar ander en wees lief vir hulle, ongeag.

Op pad terug, na tee, melktert en ’n ronde skinkbord vol toebroodjies, som een van ons kollegas die beste op wat ons almal voel: “Tannie Hannah is my hero”.

  • Maryke Hansen is projekbestuurder en Robert Cable videograaf van Bybel-Media se inhoudspan wat Kerkbode en LiG ondersteun.
  • Het jy ’n interessante storie oor iemand wat graag Kerkbode lees? Kontak ons gerus per WhatsApp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top