Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

BRIEF: ‘Knip en plak’ uit Skrif ‘ontnugter en skok’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Prof Johan Janse van Rensburg van Bloemfontein skryf:

Ek luister na ’n televisie-opname van ’n voordrag tydens die teologiese dag van die Fakulteit Teologie (UV) in 2022. Een van die voordragte het gehandel oor ’n kwesbare houding teenoor die LGBTQ-beweging.

Wat ontnugter en skok is die wyse waarop die Heilige Skrif gebruik word om die LGBTQ-beweging Skriftuurlik te regverdig. Ons ken almal die uitdrukking in die rekenaarwetenskap: “Cut and paste”. Josef word voorgehou as ’n “queer”-figuur omdat sy vader vir hom ’n veelkleurige jas gemaak het. Dié kleed word in verband gebring met ’n mantel wat dogters van die koning gedra het as hulle nog maagde was (2 Sam 13:18). Dat Josef “queer” was, word verder afgelei uit die feit dat sy broers in hom ’n afsku gehad het, soos dit ook vandag met die LGBTQ-beweging gebeur. Josef was sodoende ’n kwesbare (“vulnerable”) figuur wat as toonbeeld van die LGBTQ-beweging voorgehou word.

Alles wat in die hermeneutiek geskryf staan, skreeu teen só ’n knip-en-plak-gebruik van die Skrif. Die maagdekleed word sonder meer gekopieer en op die kleed wat Josef gedra het, oorgeplaas. Dit kan tog nie!

Josef was die eersgebore seun van Ragel, Jakob se tweede vrou. Josef het die eersgeboortereg gehad en het die veelkleurige kleed as geskenk ontvang (Gen 37:3). Boonop verwys 2 Samuel 13:18 na ’n monargiale tyd terwyl vader Jakob en Josef in ’n voor-monargiale tyd gelewe het.

Om die Bybel op so ’n manier in ’n “gay”-keurslyf in te forseer, gaan nie help om die groterwordende wig in die kerk te oorbrug nie. As die Bybel die hoogste norm is en die boodskap en bedoeling van die teks word doelbewus verdraai, gaan ons mekaar nie vind nie. Eenheid in die kerk is net in die waarheid van die Woord moontlik.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top