Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Alf Olivier van Pretoria skryf: Die Nederlandse Geloofsbelydenis is al van 1567 af met ons. Duisende Protestantse voorvaders het vir hulle geloof – en hierdie belydenis gesterf.
Die aanhef begin met die stelling: “Die regsinnige Christelike belydenis van die Nederlandse kerke wat die hoofinhoud van die leer in verband met God en die ewige saligheid van siele insluit.”
Dit is juis dan interessant dat daar nou ’n debat oor regsinnigheid en vrysinnigheid heers.
Vir my is veral artikel 29 insiggewend – gelees met die oë op die opbou na die Algemene Sinode in Oktober. Die artikel sluit af met die woorde: “Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.”
Dit stel dat die ware kerk aan die volgende kenmerke uitgeken kan word:
“Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.”
Dan kontrasteer dit die valse kerk as volg hiermee:
“Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.”
Wanneer ons die lywige agenda van die komende sinode lees, moet ons onsself ’n paar vrae afvra om meer duidelikheid te bekom, soos byvoorbeeld:
- Wat sê die Algemene Sinode (gemeet teenoor die Woord) oor
- selfdegeslagverhoudings (Romeine 1:26-32, 1 Korintiërs 6:9-10)
- saamwoon voor die huwelik (1 Korintiërs 6:18, Hebreërs 13:4)
- die bestaan van die duiwel (Matteus 4:1-11, Efesiërs 6:12)
- intergodsdiensverhoudings (2 Korintiërs 6:14-16, Johannes 14:6)
- aborsie (Deuteronomium 30:19-20, Psalm 139:13-16)?
2. Wie staan die Algemene Sinode se standpunte hieroor teë?
3. Hoekom vervolg die Algemene Sinode die dolerendes oor hulle regsinnige standpunte?
Artikel 29 herinner ons ook (Soos in 1 Johannes 1) dat: “Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.”
Mag ons onsself altyd herinner daaraan dat ons nie al die antwoorde het nie, en dat ons ook kan fouteer. Sal jy na jou broer se regstelling luister – of het jy reeds besluit jy wil hom nie eens aanhoor nie?