Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johann Theron van Kraaifontein skryf**: In 1855 in die NG Gemeente Stockenström was daar lidmate wat nie ’n aptyt vir eenheid gehad het nie. Hulle wou nie saam met die bruin lidmate nagmaal hou nie. Die Ring van Albanie het aanbeveel om, “ter tegemoetkoming van vooroordele en swakhede, nadat die Nagmaal bedien is aan die ou lede van die gemeente een of meerdere tafels te bedien vir die nuwe of blanke lede”. Hierdie tegemoetkoming is in die “swakheid van sommige” besluit in die Sinode van 1857 bevestig. Hierdie vooroordele is struktureel vasgelê in aparte rassekerke. Hierdie geskeidenheid het tot ’n leerstelling in die kerk verhard saam met die struktuur. In die kerkordes van Natal, Vrystaat en Transvaal is voor die vorming van die Algemene Sinode gespesifiseer dat lidmaatskap vir blanke persone is (Art. 2,3).
Met die vorming van die Algemene Sinode is hierdie struktuur en leerstelling vasgelê in Artikel 44 van die kerkorde, omdat dit vetoreg aan Sinodes gee. In die huidige situasie funksioneer hierdie artikel as kerkgebiedewet, omdat die vooroordeel verskans word daardeur.
Met die vorming van die Algemene Sinode in 1962, was daar ’n vereniging van vyf Sinodes; nl.: Kaap, Vrystaat, Natal, Transvaal en Suidwes-Afrika. Reeds in 1907 het vier van die Sinodes (uitgesonder Suid Wes Afrika),’n Federale Raad van Ned. Geref. Kerke gevorm wat die eenheid van die Sinodes/kerke voor oë gehad het. Die enigste reg sekere weg om een kerk te word, was as ’n spesiale wet, die verenigingsakte, deur die Volksraad aanvaar word. Die akte is aanvaar deur die Volksraad en het vereis dat 75% van die kerkrade en Sinodes vir hierdie eenheid stem. Dit het ook bepaal dat bruin lidmate uit die Kaap nie lidmaatskap in die ander Sinodes kon verkry nie. Die vereiste 75% stem kon nie verkry word nie.
Voor die vorming van die Algemene Sinode is daar nie weer gestem soos die wet vereis nie. Die Algemene Sinode bestaan dus regstegnies slegs op grond van ’n gedeelde kerkorde. Hierdie kerkorde bepaal dat Belydenisvorming van die onderskeie Sinodes geveto kan word deur enige van die ander Sinodes, bloot op grond van Artikel 44. Die Algemene Sinode bestaan dus eintlik slegs as ’n Federale verbintenis en nie as een kerk voor die wet nie. Dit beteken sekerlik ook dat die eenheid met die Sendingkerke, wat in die onderskeie Sinodes gevorm het, dan ook regstegnies sterker is as die eenheid van die Algemene Sinode en dat die skeiding met die Sendingkerke slegs a.g.v. tegemoetkoming van vooroordeel plaasgevind het.
Die Gees getuig deur die Woord: “Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk” (1 Kor. 12:13). Petrus se tegemoetkoming van Jakobus se mense in Gal. 2 noem Paulus die afwyk van die reguit pad van die evangelie, want dit verbreek die eenheid van die Gees.
Soek ons as kerke ’n eenheid van die Gees of ’n eenheid van die vlees?
** Hierdie afdeling is in ’n toetsfase in die sin dat dié betrokke bydrae hierbo nie voor publikasie deur Kerkbode se proefleser versorg is nie. Ons het wel die skrywe voor publikasie aan ons gespreksriglyne getoets.
Met lesersbydraes wil Kerkbode ’n forum skep waar jy op respekvolle wyse jou geloof, kennis, insig, ervaring, belewenis, twyfel en hoop met lesers kan deel.