Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Doret Niemandt gesels met Stefan Roos | Hoe om ’n ‘goeie dood’ te sterf


Dood is deel van die lewe – van stof is ons gemaak en na stof sal ons terugkeer. Terwyl ons almal bewus is van ons sterflikheid, is dit egter iets wat ons liefs na die agtergrond toe skuif. Maar wanneer daar dan ’n pandemie of ’n oorlog uitbreek, kan ons dit nie langer vermy nie. Dit is dan juis met die aanslag van die Covid-19-pandemie dat Stefan Roos begin met sy navorsing oor “Cross-cultural spiritual needs for a ‘good’ death” en te midde van die oorlog in Oekraïne wat hy sy navorsingstuk ingee. Doret Niemandt vind meer uit.

Op een of ander vlak is ons almal bang vir die dood, sê Roos, ’n gemeentejaarstudent by NG Kerk Valleisig, wat sy miniskripsie aan die Universiteit van Pretoria gedoen het oor dié onderwerp.

Die meeste van ons ignoreer net hierdie sombere gedagtes en praat vir die meeste van ons lewe nie daaroor nie. Ander doen baie moeite met gesonde kos, fiksheidshorlosies en bloeddrukpille om dit so lank as moontlik uit te stel. Maar vir almal van ons kom daar ’n dag – jy kry skielik ’n terminale diagnose of jy word net eenvoudig ouer, stadiger, moeër. Ons lewe nie vir ewig nie. Of ten minste nie vir ewig hier op aarde nie.

Lees ook: Marileen Steyn in conversation with Dr Lynn Gibson | Death, where is your ritual?

Dit alles klink baie morbied, en dit is, maar Roos is oortuig dat sekere dinge ’n dood tog beter maak – en amper laat neig na iets so paradoksaal soos ’n “goeie dood”. Die dood werp ’n belangrike lig op dit wat betekenis het in die lewe. En ja, dit is toe nie jou strandhuis op Jeffreysbaai nie, maar jou geliefdes met wie jy gereeld vassit oor vuil klere wat op die vloer lê en wie vir wie wakker gesnork het gisteraand. Dit is wat sin en betekenis gee aan die lewe van ’n gelowige – jou verhouding met jou mense en jou verhouding met jou God. En dit is wat maak dat jy ’n “goeie dood” kan sterf. Die konsep van relasionaliteit, die manier waarop ons in verhoudings staan, is belangrik vir ’n “goeie dood”, vertel Roos.

’n Goeie lewe en ’n “goeie dood” begin en eindig by verhoudings. Roos se navorsing wys dat dit vir die meeste mense waar is, maar dit is interessant dat verskillende kultuurgroepe in Suid-Afrika die dood self verskillend ervaar.

Lees ook: Hoe rou ons nou? | Le Roux Schoeman gesels met Nicolaas Matthee

In die Westerse godsdienstige kultuur is die dood die einde van ’n lewe en die begin van ’n nuwe lewe (die ewige lewe). Die fokus is op die persoon wat afgesterf het. Daar word meestal ’n klein intieme begrafnis gehou om daardie persoon se lewe te vier. In tradisionele Afrikagodsdienste, waar voorvaders ’n belangrike rol speel, gaan ’n “goeie dood” veral oor die mense wat agterbly. Die dood is net die einde van jou biologiese lewe, maar jy verloor nie jou sosiale lewe nie. Die persoon wat afgesterf het se wese of gees het steeds ’n invloed op die mense wat agterbly. Dit is eerder ’n statusverandering, verduidelik Roos. Die begrafnis is daarom ’n groot affêre, die hele gemeenskap word uitgenooi en daar word van almal verwag om op te daag. Dit is ook belangrik om die oorsaak van die dood te bevestig om seker te maak dat daar nie enige vuilspel was nie. ’n “Goeie dood” beteken dat daar geen vlek van vuilspel of heksery agtergelaat moet word nie. Die fokus is op die welstand van die gemeenskap – ubuntu.

Party van ons huil saggies in ons binnekamer, party van ons huil hard en uitspattig sodat die hele wêreld dit kan sien, maar nie een van ons wíl met die dood gekonfronteer word nie. Ons wil nie doodgaan nie, en ons wil nie alleen doodgaan nie. Om waardig dood te gaan, om ’n “goeie dood” te sterf, het daarom baie te doen met die mense in ons lewe en hoe ons in hierdie verhoudings iets van God beleef. Dalk gaan die lewe nie daaroor om die dood ten alle koste te vermy nie, maar eerder om hierdie verhoudings te ontdek wat sin en betekenis aan dit alles gee.

Stefan Roos is oortuig dat sekere dinge ’n dood tog beter maak – en amper laat neig na iets so paradoksaal soos ’n “goeie dood”.

Die Covid-19-pandemie het baie by ons gevat. Almal het iets verloor – party hulle werk, party hulle gesondheid, party selfs hulle lewe. Sosioloë, wetenskaplikes en ekonome is steeds besig om die enorme kostes te bereken van dit wat verlore is. Teoloë, soos Roos, herinner ons aan die groot verlies van mense wat in afsondering en isolasie gesterf het. Ons is nie gemaak om alleen te wees nie. En ons is nie gemaak om alleen dood te gaan nie. In daardie laaste oomblik(ke) wil jy iemand by jou hê. ’n Hand in joune, ’n arm om jou skouer, die asemhaling en hartklop van ’n ander persoon. Hierdie fisiese aanraking en nabyheid van iemand – soms is dit al wat nodig is om ’n ‘goeie dood’ te sterf.


Dr Doret Niemandt is predikant van die NG Gemeente Valleisig.

  • Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.