Hoewel daar vir die eerste keer sedert 1998 nie ’n toegewyde verslag is wat handel oor die ekologiese krisis nie, vind Dewald Hoffmann tog belangrike elemente in Taakspan Missionale Roeping se verslag oor rampverligting.
Die toename in ekologiese en sosiale rampe vul baie mense met onsekerheid en angs. In Suid-Afrika, soos elders in die wêreld, word ook meer ekstreme weerpatrone opgemerk wat ’n verwoestende impak het op mense se lewe. As gevolg van hierdie veranderinge geniet ekologiese kwessies meer aandag as ooit tevore. Vir baie is dit nie meer net ’n storie op die nuus nie, maar het nou ’n direkte impak op hulle lewe. Terwyl die onderwerp vir sommige nuut mag wees, geniet die ekologiese krisis al sedert 1998 aandag op die Algemene Sinode se agenda. Hierdie jaar val die ekologiese klem veral binne die konteks van rampverligting.
LEES OOK: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober
As deel van die verslag deur Taakspan Missionale Roeping word daar verwys na die impak van rampe op ons samelewing en besin oor die kerk se reaksie tot hierdie ontwrigtende gebeure. Die inleidende woorde van die verslag lees: “Suid-Afrika is geneë tot erge rampe wat wissel van ekologiese rampe tot sosiale rampe. Rampe skep dikwels die platform vir die kerk om dinamies deel te word van en selfs leiding te neem in die spasie van gemeenskapsreaksie.” Die integrasie van ekologiese en sosiale rampe is veral van belang in Suid-Afrika. In ’n land wat worstel met ongelykheid en werkloosheid, word die kerk se reaksie teenoor rampe gewortel in die egte ervarings van ons medemens. Dit is mense se verhale van pyn en verwoesting wat gelowiges konfronteer en uitnooi tot dieper empatie. Gebeure wat veral aangehaal word in die verslag is die onlangse vloede en onluste in KwaZulu-Natal, verlammende droogte in die Noord-Kaap en verwoestende brande in die Vrystaat en George. Daar is natuurlik talle ander, maar hierdie gebeure het op ’n baie besondere manier die kerk en lidmate beïnvloed.
Die oorsake en gevolge van rampe is kompleks. ’n Sleutelelement van die verslag is om erkenning te gee aan hierdie kompleksiteit deur beide ’n ekologiese en sosio-ekonomiese lens. Dr Marinda van Niekerk, die voorsitter van die taakspan, sê onder meer oor die impak van rampe op die meer kwesbare burgers van ons samelewing: “Ons is vir seker in ’n tyd waar mense wat minderbevoorreg is, meer uitgelewer is aan rampe. Dit maak dat ons wat in meer bevoorregte kerke is, baie keer toegang het tot meer hulpbronne.”
Lees ook: Slypskool 2023: Dié gemeentes se stories nooi uit om nuut te dink oor nuutdink
Dit is dan juis vanuit hierdie ekologiese en ekonomiese spanning, dat kerke dikwels ’n kritiese rol kan speel in die mobilisering en koördinering van rampverligting. Dit is hierdie betrokkenheid wat gelei het tot die voorstel deur die Taakspan Missionale Roeping en die Taakspan Missionale Diakonaat vir die vestiging van ’n nasionale kerklike rampreaksienetwerk. Die voorstel is om in vennootskap met die bestaande ekumeniese netwerk RESPOND te werk om ’n nasionale kerklike rampreaksienetwerk te ontwikkel “… met die oog op die bemagtiging van leiers ten opsigte van die unieke rol van ’n pastoraal-geroepe Christelike kerk …”
Alhoewel die ontwikkeling van so ’n raamwerk ’n baie klein gedeelte vorm van die taakspan se verslag, sluit dit tog aan by ander temas wat behandel word. Ons lewe in uitdagende en komplekse tye waar die kerk en samelewing deur baie veranderinge gaan. Al kan hierdie verandering soms oorweldigend wees, is die idee dat die kerk ’n verskil kan maak deur hande te vat met ander, nou meer waar as ooit. Om met groter sorg netwerke te bou op plaaslike en nasionale vlak, is ’n belangrike gedeelte van ons getuienis as dissipels van Christus.
Dit is opvallend dat die kerk nog steeds saamstaan in oomblikke van nood en dikwels dien as ’n baken van hoop in rampsgebiede. Dit is in tye van krisis wat gelowiges dikwels iets beliggaam van God se koninkryk. ’n Mens wonder egter of die vorming van ’n nasionale netwerk die potensiaal het om ’n bykomende doel te dien – een wat ’n meer aktiewe rol vertolk as net in tye van rampe en teëspoed?
Die groeiende ekologiese krisis is in baie opsigte minder tasbaar as die onmiddellike nood van mense. Die vorming van beter netwerke, sterker verhoudings en vennootskappe het ook die potensiaal om as breër gemeenskappe meer voorkomend te begin dink eerder as reaktief. Wanneer ons saam werk en saam droom, ontsluit dit ’n kreatiwiteit wat nie in isolasie floreer nie.
Is dit nie dalk tyd vir die kerk om te begin worstel met wat dit sou beteken om selfs meer proaktief en strategies te dink oor die ekologiese krisis en rampe nie? Dit is om hierdie rede tog teleurstellend dat ekologiese kwessies so min aandag geniet in die verslae wat by die Algemene Sinode behandel gaan word.
Dalk kan ’n nasionale netwerk soos wat voorgestel word ’n vonk wees wat lei tot ’n vars benadering wat die ekologiese krisis en rampe vanuit ’n nuwe perspektief sien.
- Nota: Vir leiding en hulpbronne aan plaaslike gemeentes oor rampondersteuning, besoek gerus die webwerf van die Algemene Sinode by: https://ngkerk.net/rampondersteuning/
- Ds Dewald Hoffmann is ondervoorsitter van die Getuienisaksie se Ekologie Taakspan en leraar by NG Kerk Gordonsbaai.
- Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.