In ’n tyd waar data uit die NG Kerk dikwels op die teenoorgestelde dui, vind Erick Zulch stories van hoop in ’n onlangse ondersoek na gemeentes wat nuut dink oor wat dit beteken om ’n geloofsgemeenskap in Suid-Afrika te wees.
“Ons is in die moeilikheid.”
Dit is dikwels die woorde wat gepaard gaan met data in die kerk. Dit is egter nie die geval met die onlangse ondersoek na gemeentes wat reeds iets beliggaam van die ‘2030-Droomscenario’, oorspronklik geformuleer tydens die Algemene Sinode in 2019, nie.
Soos ’n koel windjie op ’n warm somersdag, is hierdie gemeentes se stories verfrissend vol hoop in ’n tyd waar grafieke, statistieke en persentasies dikwels die teenoorgestelde emosies oproep. Hulle stories, soos vervat in die verslag ‘Nodusse van uitnemendheid’ wat gaan dien by die Algemene Sinode (AS) in Oktober, rig ’n uitnodiging aan gemeentes om nuut te dink oor wat dit beteken om ’n geloofsgemeenskap in Suid-Afrika te wees.
Dr Marelize Maritz van die Taakspan Navorsing het ’n verdere 21 gemeentes bestudeer wat soortgelyke verhale van hoop het en deel gaan vorm van die finale verslag aan die AS. Sy verduidelik hierdie ondersoek “gaan oor die raakpunte tussen konteks, roeping en hulpbronne – natuurlik nie net geboue nie, maar veral menslike hulpbronne”.
Lees ook: Slypskool 2023: Sterwende Oos-Kaapse stadsgemeente vind nuwe lewe
Die gevaar bestaan natuurlik dat ons vashaak by ’n resep – as ek A en B en C bymekaarvoeg, dan sal die spreekwoordelike ‘koek’ gebak kan word. So ’n benadering neem nie die veranderlikes rondom konteks, nood en hulpbronne in ag nie. In sommige gevalle mag die bestanddele dalk dieselfde wees, maar die hitte van die oond, die honger van die mense (dalk vir iets meer sout as soet!), en die hande van die bakker, mag alles verskil.
Die funksie van die ondersoek is dus nie om ’n eenvoudige resep te bied wat bloot nageboots kan word nie, maar eerder om tendense en patrone te identifiseer. Om hierdie rede is dit nodig om weg te beweeg van ’n resep en eerder te leer om na hierdie vernuwende proses te kyk as ’n reis.
Uit die bevindings van die verslag is dit duidelik dat verskeie stereotipiese gedagtes rondom kerkvernuwing nie staande bly nie. Van die stories oor die leidende rol van veral senior lidmate tot een oor ’n ongewone verhouding tussen ’n kerk en ’n drankwinkel (met die doel om minderjarige drankgebruik te bestry), daag ons uit om nuut te dink oor nuutdink. Vernuwing is altyd gelokaliseer – dit vind plaas op grondvlak, dit geskied altyd kontekstueel.
Uiteindelik vra die stories in die verslag ons om na ons eie stories te kyk, ons eie verbeelding te verbreed en ’n stem te gee aan die volgende gespreksgenote wat uit die verslag as belangrik na vore gekom het: samewerking, inklusiwiteit, plaaslike betrokkenheid op voetsoolvlak, roepingsbewustheid, en diensbaarheid. Hierdie stemme probeer nie ’n resep voorskryf nie, maar dien eenvoudig as gespreksgenote, oftewel reisgenote.
- Erich Zulch is ’n teologiestudent wat sy gemeentejaar by NG gemeente Drieankerbaai doen.
Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.