Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting. Foto: Verskaf

Slypskool 2023: Sterwende Oos-Kaapse stadsgemeente vind nuwe lewe

Marelize Maritz vertel hoe dit gebeur het dat die gemeente Anchor of Hope (voorheen NG Kerk PE-Sentraal) wat die dood in die gesig gestaar het nou oplewing en nuwe lewe sien.

Die gemeente Anchor of Hope is geleë in die ou middestad van Gqeberha. Ongeveer twintig jaar gelede het die demografie van die middestad begin verander. Besighede en mense van verskillende kulturele agtergronde het begin inbeweeg. Gevolglik het wit lidmate die gebied begin verlaat. Dit het noodwendig finansiële uitdagings meegebring.

Die gemeente het dood in die gesig gestaar. Dit sou nie meer vir lank hulle eie Afrikaanse NG Kerk wees nie. Die leierskap het begin om ’n proses van “sterwensbegeleiding” in die gemeente te fasiliteer. Dit het, heeltemal onverwags, gelei tot ’n oplewing in aanbidding en nuwe lewe in die gemeente.

Lees ook: Slypskool 2023: Geloof, gemeenskappe en geloofsgemeenskappe

In 2007 word die evangelisasiegroep van die gemeente uitgedaag om buite die Afrikaanse gemeenskap in die omgewing uit te reik. Hierdie aksie het ingrypende insig en verandering onder lidmate teweeggebring.

Nege Nigeriese mans word deel van die gemeente. Dit open die gesprek na die behoefte vir ’n bediening in Engels. Zoeloes en Tswanas volg en word ook deel van die gemeente. Na verskeie pogings om tydens eredienste tolkdienste aan te bied, besluit die gemeente om die Afrikaanse naam van die gemeente te verander – PE-Sentraal word Anchor of Hope. Die Engelse naamsverandering het egter niks aan die verbintenis, belydenis en teologie van die gemeente verander nie. Dit het wel gelei tot ’n volledige bediening in Engels.

Hierdie veranderinge in die gemeente dwing die gemeente om te herbesin oor bedieningspraktyke. Dit het nuwe lewe in die bedieningspraktyk van die gemeente geblaas. Hulle het ontdek dat hulle nie finansies het om met ’n sopkombuis te begin nie, maar hulle het wel die regte vaardighede. ’n Argitek bied sy kundigheid aan vir die herontwerp van die binnekant van die kerkgebou en ander fasiliteite. Ander lidmate se vaardighede word ingespan en lei tot vaardigheidsontwikkelingsklasse vir ’n gemeenskapskool vir volwassenes. Dit sluit rekenaarklasse, Engelse klasse, bestuurslisensie-opleiding, naaldwerkklasse en kursusse in besigheidsentrepreneurskap vir volwassenes in. Terselfdertyd word die evangelie by hierdie klasse gedeel. Uiteindelik, ten einde die bediening finansieel volhoubaar te bedryf, kulmineer die gemeenskapskool vir vaardigheidsontwikkeling in die stig van ’n organisasie sonder winsbejag (NWO).

Lees ook: Slypskool 2023: Tree vir tree na saamwees en eensgesindheid

Die gemeente gaan steeds voort in die soeke na God se leiding. Die leierskap gaan elke jaar vir drie dae eenkant toe, sonder enige agenda. Tydens hierdie geleenthede word die eerste oggend van die byeenkoms net aan gebed gewy, waarna hulle ’n program vir die res van die tyd bepaal. So soek elkeen afsonderlik, en dan gesamentlik, na die wil van God vir die gemeente. Na afloop van hierdie stilwordgeleentheid, gaan die leiers dan terug na die gemeente met ’n oproep tot gehoorsaamheid aan God se roeping vir die gemeente.

Hierdie gemeente moes eers die einde in die gesig staar voordat hulle kon lewe en volhoubaar voortbestaan.

  • Dr Marelize Maritz is op die Taakspan Navorsing.
  • Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die Slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.

NOTA

Vir meer inligting en/of fotos: https://www.facebook.com/AnchorOfHopePE/photos

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top