Johan Labuschagne is op 25 Maart 1965 gebore op Bothaville. Sy grootouers aan vaderskant was Cornelis Johannes Labuschagne (Oupa Kerneels) en Amelia Matilda Labuschagne (Ouma Matilda), wat naby Amalia geboer het. Sy grootouers aan moederskant was Casparus Cornelis van Zyl en Elizabeth Johanna van Zyl. Lappies se vader is Cornelius Johannes Labuschagne, ’n boer in die distrik Bothaville. Sy moeder is Gideona Jacoba van Zyl en Lappies word sterk deur sy moeder ondersteun.
Lappies begin in 1972 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Eben Donges en is daar op skool tot 1978. In 1979 word hy leerling aan die Hoërskool Gimnasium te Potchefstroom. Hy dien op die leerlingraad, is voorsitter van die CSV en sing ook in die Wes-Transvaalse Jeugkoor. Johan voel van kindsbeen af geroepe om predikant te word, waarin sy ouers hom met oorgawe gesteun het.
Aan die begin van 1984 word Lappies student aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein en is ’n inwoner van Reitz-kamerwonings. Hy verwerf in 1986 die BA (Teologie) en word student aan die Fakulteit Teologie waar hy in 1992 die BTh-graad verwerf en op 2 Desember 1992 as proponent gelegitimeer word. Die tema van sy skripsie is: “Die Charismatiese-Pentekostalisitiese beskouing van lyding”. Lappies is baie lief vir musiek en sang en is deel van die Pro Ecclesia koor, Shimvaria Revuegroep en Admuovs Revuegroep. Hierna doen die jong proponent twee jaar lank sy militêre diensplig. Hy beklee ’n proponentspos in die NG Gemeentes Melmoth en Richardsbaai in Natal in 1993. Hy trou in die lente van 1990 met mej Erika Labuschagne in NG Moedergemeente Kroonstad. Erika is ’n gekwalifiseerde radiografis van beroep. Uit hulle huwelik is twee kinders gebore.
Na sy diensplig word hy vroeg in 1994 proponent in die NG Gemeente Ventersburg en word op 9 September 1994 voltydse leraar van die NG Gemeente Virginia-Oos. Na vier besondere jare neem hy ’n beroep aan as leraar van die NG Moedergemeente Oos-Londen in Mei 2000. Hier beleef ds Johan ’n besondere tyd van vreugde en geestelike seën. Ds Johan Labuschagne sterf op 21 September 2023 na ’n lyding van agt jaar aan kolonkanker.
Sy vrou Erika skryf: “Johan was ’n mense-mens, hy het gehou van gesels en sy hoogste prioriteit was om elke mens waarmee hy te doen kry, belangrik en spesiaal te laat voel. Hy was ’n plat op die aarde mens en was passievol oor mense se stories, hulle swaarkry, hulle lyding, hulle vreugde en trane. Hy was altyd reg om te luister of te vertroos, en was baie lief vir bejaardes en dan ook die klein kindertjies”.
– Dr Gerdrie van der Merwe VDM