Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die stories van gewone mense “wat getuig van hoe God hulle deur swaarkry en pyn gedra het, is dié stories wat die meeste harte raak”, vertel Conette le Roux. Foto: YouTube-skermgreep

LiG skep nuwe YouTube-kanaal in vennootskap met VIA


  • Teken in via hierdie SKAKEL om ingelig te bly oor nuwe getuienisvideo’s. 
  • Só deel jy jou getuienis: Stuur ’n e-pos na getuig@lig.co.za en vertel van God se krag in jou krisis.

LiG het op 1 November ’n nuwe YouTube-kanaal Lig: God se krag in my krisis bekendgestel. Dit is gedoen in vennootskap met VIA, een van die grootste TV-kanale in die land.

Dr Nico Simpson, hoof- uitvoerende beampte van Bybel-Media, uitgewer van beide LiG en Kerkbode het by navraag gesê dat hy hierdie verwikkeling hartlik verwelkom. Hy verduidelik meer: “LiG is vir amper 90 jaar ’n inspirasievennoot vir mense op hulle geloofspad. Ons deel hierdie geloofsreis deur te praat daaroor, te getuig van ons ervarings. Dit is opwindend dat ons nou ’n mediavennoot gekry het wat hierdie inspirende stories van volharding en genade nog wyer uitdra.”

Conette le Roux was as LiG se webredakteur nou betrokke by hierdie proses. Sy vertel hulle het ’n paar jaar terug besef die stories van gewone mense “wat getuig van hoe God hulle deur swaarkry en pyn gedra het, is dié stories wat die meeste harte raak”, soos sy dit verwoord.

Toe raak sy in haar eie woorde ’n “getuienisspeurder”. Sy het oral via vriende, familie en sosiale media na sulke getuienisse begin soek. Die stories het haar as mens ook diep geraak … “jy besef skielik meer as ooit dat ons geliefdes en ons kinders net vir ons geleen is,” vertel sy.

Stories soos dié van die 10-jarige Zara wat kanker het en haar getuienis wou deel, Ilse Verster wat ’n nuwe lewe kon bou na 40 jaar van narsistiese geweld en Lize van der Walt wie se vierjarige seuntjie Lukas onlangs aan ’n rare siekte oorlede is en wou deel watter ewigheidslesse sy te midde van hierdie pyn geleer het.

Le Roux vertel sy hoor byna daagliks van lesers wat laat weet “hoe hierdie getuienisse hulle werklik bemoedig”. Sy sê sy kan amper nie meer voorbly soos mense haar kontak om hulle verhale te deel nie.

Soos ’n mens ook sien in die nuutste statistiek oor webverkeer op LiG se webwerf. Vanjaar het byna 800 000 unieke gebruikers reeds meer as 2 miljoen keer gekliek op stories op LiG se webwerf. In 2020 het dieselfde webblad sowat 81 000 unieke gebruikers gehad wat gemiddeld ongeveer 130 000 keer op hulle stories gekliek het.

In die lig van hierdie toename in webverkeer, sê Le Roux, is die stap geneem om saam met VIA in vennootskap te gaan. As deel van hierdie ooreenkoms word nuwe video-opnames gemaak van getuienisse wat reeds op LiG se webwerf verskyn het sowel as van nuwe verhale wat steeds bly inkom.

’n Vars getuienisvideo verskyn elke dag op LiG se nuwe YouTube-kanaal, LiG: God se krag in jou krisis. Oor die naamkeuse vir LiG se videoreeks sê Le Roux: “Ek dink die naam “God se krag” is so gepas, want al hierdie mense wat hulle getuienisse met ons deel het een ding gemeen en dit is hoe God se krag hulle deur krisisse dra.”

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.