Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

BRIEF: ’n Alternatiewe kerk binne die kerk?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Albert Alberts van Knysna skryf: Ek het met belangstelling geluister na die insiggewende onderhoud wat Mia Spies op Netwerk24 met Laurie Gaum oor die afgelope sinode gevoer het. Laurie het gese dat hy droom oor ’n alternatiewe kerk waarin gay mense hulleself ten volle kan uitlewe. Hy het gesê dat dit veral op ’n gemeentevlak kan plaasvind.

Ek deel Laurie se droom, alhoewel kritici sal sê dat ons maar voort kan droom. In die afgelope 10 jaar was ek lidmaat van drie NG gemeentes waarin hierdie droom waar geword het. In hierdie gemeentes het dit nie oor die seksuele oriëntasie van die gemeentelid gegaan nie, veel eerder het dit het gegaan oor Jesus, en hoe elke gemeentelid sy liefde kan uitdra na die gemeenskap. Daar is nog veelvuldige soortgelyke gemeentes, en die hoop is dat dit mettertyd waar van alle gemeentes sal word.

Laurie het tog gevoel dat daar nie veel vordering was in die afgelope sinode nie. Ek voel daar was ’n reuse-sprong. Die sinode het bevestig dat die 2019-besluit staan, en na my wete is dit die enigste gereformeerde kerk wêreldwyd wat gay mense in hulle totaliteit aanvaar, burgerlike verbintenisse kan doen, en gay predikante kan beroep. Die bevestiging van die 2019-besluit is nou vas en onherroeplik.

Geborg

Verdere besluite wat vir ondersoek verwys is, is dat gemeentes wat nie gemaklik is met die 2019-besluit nie, na ander streeksinodes kan skuif wat soortgelyk is. Dit is ’n kompromis, noodsaaklik vir die NG Kerk se eenheid. Dit is ook nie vreemd in die kerk nie. Die eerste sinode in Handelinge het die kompromis getref dat bekeerdes nie besnydenis hoef te ondergaan nie, maar dat hulle nie vleis mag eet wat aan afgode geoffer is nie. Vir my sou die kompromis slegs ’n verskil maak op voorwaarde dat ons met mekaar in gesprek bly oor waaroor ons saamstem en waaroor ons verskil. So het die kerk destyds ’n eenheid gebly, ten spyte van baie sterk gevoelens oor die aspekte destyds. Die wetlike aspekte van die trouformulier is ook verwys vir uitklaring.

Die pyn wat die kerk aan gay mense toegedien het, sal seker nooit heeltemal verdwyn nie. Daar is al onvoorwaardelik om verskoning gevra, maar ons sal ook in die proses onvoorwaardelik mekaar se andersheid moet leer waardeer en respekteer, sodat dit nie net ’n klompie mooi woorde is wat iewers geskryf staan nie. Die alternatiewe kerk mag nooit ’n kerk binne ’n kerk of ten koste van die kerk word nie. Hierdie mooi woorde het egter prakties begin gestalte kry in die afgelope sinode. Die alternatiewe kerk is in wese die huidige NG Kerk.


Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand