Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johan van Rensburg van Bloemfontein skryf: Geluk en dank aan Joernalis Jana Marx vir ʼn goeie verslag van die onderhoud met ds. Jan Lubbe.
Tóg lees ek wat ek nie regtig verstaan nie. Die opskrif van Netwerk24 (3/11/23) se berig verwys na ’n “Middelgrond-kerk” en ds. Jan word beskryf as ʼn middelgrond-ou. Dan word ds. Jan aangehaal met ʼn verwysing na Johannes Calvyn en die Gereformeerde tradisie van die N.G. Kerk. Wat ek nie begryp nie, is die begrip en betekenis van ʼn middelgrond kerk en geloof in dieselfde konteks as die Gereformeerde identiteit van die NG Kerk.
Nóg Calvyn, nóg die Gereformeerde tradisie, kan as middelgrond getipeer word. “Skrif alleen” en die Bybel maak inderdaad geen middelgrond-ruimte vir ander standpunte en interpretasies wat nie met die Gereformeerde verstaan van die Skrif ooreenstem nie.
Dit is immers juis die problematiek wat die skynbaar-onoorbrugbare verdeeldheid in die kerk veroorsaak. In só ʼn konteks val die vraag vreemd op die Gereformeerde oor: “En waarom dan die spanning oor homoseksualiteit as daar soveel groter dinge in die wêreld is waarop die N.G. Kerk kan fokus?” Groter dinge wat belangriker as die Skrif is?
Die antwoord van die gekose moderator haal die apartheidstryd aan en die feit dat ons agter die tyd is om oor die gay-vraagstuk te worstel. Dit word egter verswyg dat die Skrifverstaan die grootste rede vir die stryd is. En dit is in ʼn Gereformeerde tradisie geen geringe saak nie. Ons gaan geen middelgrond kry as ons mekaar nie rondom die belang van die Skrifinterpretasie vind nie. Daarby staan of val die Gereformeerde tradisie. Net terloops: Johannes Calvyn sou hom nooit met ʼn middelgrond-teologie kon vereenselwig nie.