Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2023

Maartje van der Westhuizen en haar man, Zander, se positiewe ingesteldheid tot die kerk gee hom hoop sê Jaco Strydom tydens die podsending waar hulle gesels ondermeer oor Maartje se nuwe rol as assessor van die Algemene Sinode en hierdie twee se passie vir die kerk. Foto: Verskaf

Jaco Strydom gesels met Maartje en Zander van der Westhuizen: twee besige mense, vol positiewe energie en drome


Maartje van der Westhuizen is pas verkies as assessor van die Algemene Sinode (AS). Sy is  predikant by NG kerk Elarduspark. Zander is predikant by NG Gemeente Tygerpoort;  hy is ’n dominee, radio-omroeper by Groot FM, musikant, skrywer en dien op die Oostelike Sinode se SDR. Om net ’n paar dinge te noem . . .

Maartje oor haar nuwe rol as assessor van die AS: “Ek is baie opgewonde oor my verkiesing as assessor van die AS en om op hierdie manier diensbaar te wees in die kerk. Ek besef die uitdagings is baie, maar die verhoudings wat ’n mens bou en die opwindende dinge waarmee die kerk besig is, maak dit die moeite werd. Ek het maar nog altyd ’n passie vir die sinodestrukture. Vergaderings put my nie rêrig uit nie, ek weet dit klink vreemd, maar dis altyd vir my lekker om al die mense te ontmoet en saam te werk,” sê sy.

Maartje kom ’n lang pad met sinodale strukture, sy was voorheen ook in die leierskapstukture van die Noordelike en Oostelike sinodes betrokke. Sy vertel van die moeite wat mense soos wyle dr Kobus Gerber, wat destyds die algemene sekretaris was, met haar gedoen het om haar voor te berei.

Geborg

Die ander persoon wat ’n groot invloed op haar geestelike pad het, is haar man Zander. Sy en Zander het ontmoet toe sy ’n vierdejaar teologiestudent was. Hy was ’n jong dominee betrokke by die kerkeie opleiding se mentorsprogram vir teologiestudente. Maartje was op Deo Gloria by Tuks se HK en hulle het saamgewerk aan ’n klomp reëlings – one thing led to another … Vandag het hulle twee kinders, Inge en Alex, en binnekort vier hulle hulle sestiende huweliksherdenking.

Lees ook: Fokus op Algemene Sinode | Oor verslae, afgevaardigdes, misverstande en vreugde

“Ons is ’n baie hegte gesin en ons leef baie naby aan mekaar. Ek en Zander verdeel al die verantwoordelikhede. Dit maak dat albei van ons ons gawes ook gemaklik buite en binne die huis kan uitleef. Dit is vir ons belangrik om mekaar nie te wil verander nie, maar eerder die mooi van elkeen op te bou. Zander het my blootgestel aan soveel nuwe dinge, die kunste, musiek, teater, leierskap, nuwe kosse en soveel meer,” sê Maartje.

Zander is predikant by NG Gemeente Tygerpoort: ‘Leraar/kultuurargitek’ sê die kennisgewing langs sy naam. Hy is ’n dominee, radio-omroeper by Groot FM, musikant, skrywer en dien op die Oostelike Sinode se SDR. Om net ’n paar dinge te noem.

Zander was ook in beheer van die musiek en lofprysing by die onlangse Algemene Sinodesitting. (hy het die sinodelied gekomponeer en getoonset. Die teks en musiek kan HIER afgelaai word.

Dr Zander van der Westhuizen (agter klawerbord) en sy musiekspan tydens lofprysing by die onlangse Algemene Sinode. Foto: Skermgreep

“Ek is bevoorreg om in ’n wonderlike gemeente te werk. Ek het wonderlike kollegas, inspirerende leiers en lidmate om my. Dit maak dat ek myself kan uitleef en dat mense saam droom. Daar is nie ‘red tape’ en ’n onwilligheid by ons nie. Ons het ’n ongelooflike vriendekring en gemeenskap. Dit is ’n voorreg,” sê Zander.

Behalwe vir haar rol as assessor by die Algemene Sinode, is Maartje ook voltydse leraar by NG Kerk Elarduspark. Sy het hierdie jaar opleiding as Enneagram Professional Narrative Trainer voltooi, iets waaroor sy baie passievol is en sy glo ’n klomp mense in die land en kerk kan help. “Assessor-wees by die Algemene Sinode is iets deeltyds, waarvoor jy nie betaal word nie,” sê sy en voeg dan by: “Ek doen dit uit die liefde van my hart.”

Geborg

Ons gesels oor die uitdagings in die kerk en die land.

“Die verdeeldheid ontstel my en dit is sleg as ’n mens soms voel die kerk is nie besig om op grondvlak die goeie nuus van Jesus Christus te verkondig nie. Dit is ook vir my sleg wanneer ’n gemeente nie sy eie potensiaal raaksien nie,” sê Maartje.

“Die ego-gedrewendheid wat ’n mens soms by sommige individue in die kerk optel, pla my,” sê Zander. “Die fokus op debatte en tegniese beredenering eerder as om te fokus op gemeentes en gemeenskappe. Ek dink as ’n mens werklik in jou gemeenskap en gemeente besig is met bediening, dissipelskap en koninkrykswerk, sal jy nie tyd hê vir negatiwiteit en besware nie. Die kerk moet op grondvlak die koninkryk laat kom. Punt. Dit is vir my ontstellend as dit nie gebeur nie.”

Lees en luister ook: Jaco Strydom gesels met Marietjie en Niel Steyn: ‘Dis noodsaaklik dat ons nie sal bydra tot die verdeeldheid nie, maar die eenheid bevorder’

Dié twee is besige mense, vol positiewe energie en drome. Hulle reis graag, hou van kuier, oefen, die buitelewe en musiek. Hulle beleef hulle gesinslewe, veral om tyd saam met hulle kinders te spandeer, as iets wat hulle geestelike batterye herlaai.

Hoe lyk die Van Der Westhuizens se pad vorentoe?

Maartje en Zander ervaar dat hulle tans besig is met betekenisvolle dinge in hulle gemeentes en in die groter kerk, hulle sal graag hierop wil voortbou. “Ek hou baie van werk,” lag Maartje. “Dis vir my lekker waarmee ek nóú besig is.”

Geborg

Zander sê hy sal graag in die toekoms meer tyd aan radio- en verhoogproduksies wou spandeer, en meer skryf. En hulle sal albei meer wil reis in die toekoms.

Wat maak dat julle aanhou as julle moeg of moedeloos raak? vra ek.

“Jesus gee my hoop!” sê Zander. “En die ‘gewone mense’ in ons land.” Hy het agtergekom dat ten spyte van die paar mense op die uiterstes wat dikwels die meeste praat, daar ’n groep middelgrondmense is; stiller mense wat hard werk om ’n positiewe verskil te maak. En dat hulle eintlik ver in die meerderheid is. “Hulle gee my hoop!” sê hy. “En daar is baie meer van hierdie inspirerende mense in Suid-Afrika as wat ons dikwels besef.”

Maartje sê mense wat vanuit hulle roeping leef, gee haar hoop. “Mense wat inisiatief neem en help. ’n Bord kos uitdeel, vir iemand anders ’n drukkie uitdeel of as mense mekaar vergewe. As iemand jou manier van kyk na die wêreld om jou verander, dan gaan jou oë oop vir al hierdie Godsoomblikke om jou, en dit gee hoop. Ek is elke dag diep bewus van God se Gees wat in my werk, en ek glo dat dit ook is waar ek my krag kry. Dit is moeilik om dit te beskryf, maar dit voel amper soos ’n vuur wat in jou hart brand en nie uitgeblus kan word nie,” sê Maartje.

  • Die podsending is ook beskikbaar op Podbean en Apple.com

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand