Ek wonder al lank of ek iets moet skryf oor my twee gunsteling dominees, Marietjie en Niel Steyn. Elke keer as ek die twee sien, kry ek nuwe hoop vir die kerk en die land. Dit is asof hulle vir die res van ons wys wat moontlik is. Marietjie is ’n dominee by die oudste kerk in die land en Niel die leier van een van die jongste geloofsgemeenskappe genaamd, Isibindi.
Die middel van paradoks is ’n spanningsvolle plek, maar ook ’n opwindende plek vol kreatiewe energie. En dít is iets waarvan die Steyns kan getuig.
Hulle bedienings verskil erg, maar deurentyd is daar hierdie beautiful onderliggende harmonie te bespeur. Dit is asof hulle saamwees te midde van uiteenlopende maniere van kerkwees sê: Verskeidenheid kan ’n seën wees; die oue en die nuwe het mekaar nodig; die kerk en die gemeenskap kan saam loop tot voordeel van almal.
Marietjie wou destyds medies studeer en Niel het aanvanklik ingenieurswese oorweeg, maar die Here het ander planne gehad. Hoor jy hulle storie, besef jy, dit is nie net húlle wat die kerk gekies het nie, maar ook die kerk wat hulle gekies het; eintlik reeds van kleins af.
Die twee is dalk vandag dominees op van die mees uiteenlopende uiterstes in die Suid-Afrikaanse gemeenskap, maar hulle het van jongs af eintlik baie in gemeen. Niel en Marietjie het altwee grootgeword in pastorieë in die Kaap, albei het na skool teologie gaan swot op Stellenbosch, en beide het ’n horde NG dominees in hulle familie.
“As ons twee families saam kuier kan ons amper ’n sinodebesluit neem,” lag Niel.
Groote Kerk in Kaapstad, waar Marietjie vandag medeleraar is, is hierdie jaar 358 jaar oud. Sy preek, lei Bybelstudies, doen admin, skryf kategeselesse, begelei jeuggroepe, reël kampe, bid, beraad … al daai goed wat gewone dominees doen. “Maar my bediening is wyer as net die gemeente,” sê sy. “Ons is ook betrokke in die gemeenskap, veral by skole en projekte in en om die stad. Die gemeente se visie is om vredemakers te wees wat Jesus volg maar ook die stad omhels met hoop, hulp en heling.”
Lees ook: Die kerk se verhouding met die Moslemgemeenskap
Niel is gekoppel as predikant by NG Table View en Bloubergstrand as missionale leraar by Isibindi, ’n multikulturele geloofgemeenskap wat daarop fokus om ’n familie te wees vir jongmense in nood.
Die Isibindi-gemeenskap het onlangs hulle tiende verjaarsdag gevier. Die viering was – baie gepas – in die kerksaal by Table View, een van die plekke van hoop waar uiteenlopende jongmense deesdae saam woon en waar hulle weekliks ’n saameet-geleentheid skep vir haweloses, Isibindi-inwoners en “gewone gemeentelede”.
Isibindi het ook ander soortgelyke gemeenskappe en projekte, onder andere in Ysterplaat, ’n huis op Stellenbosch en ’n projek op Calitzdorp.
Lees ook: VIDEO: Klein gemeente met oop arms kort ’n sterker heining
Die Isibindi-gemeenskap is deel van ons groter Echo-familie waarvan ek ook deel is, so ek besef ek is waarskynlik nie nie mees objektiewe persoon nie, maar gun my ’n oomblik om te sê dat Niel, Scherlize van der Merwe, Hendrico Ockhuys, Renchia Rosné Rhyn en ’n lot ander mense betrokke, van die mees passievolle omgeewesens is wat ek ken. Compassion is contagious, en min dinge het al my geestelike batterye gelaai soos om tyd saam met die klomp te spandeer. Én saam met die mense van Groote Kerk in Kaapstad.
Die sinergie tussen die ou Groote Kerk en die nuwe Isibindi is ’n demonstrasie van dit wat die Belhar-belydenis verwoord: dat die nood in die gemeenskap ’n ontmoetingsplek kan wees waar ons nuwe harmonie met mekaar en God ontdek.
Niel en Marietjie is hierdie jaar twaalf jaar getroud. Vandag is hulle huis teen die hang van Tafelberg ook ’n plek van hoop. Dis nie vervelig by die Steyns nie!
Moenie ’n fout maak nie, dié twee dominees het elkeen al hulle deel frustrasies en uitdagings in die kerkomgewing beleef – dit was geen Sondagskoolpiekniek tot hier nie – maar gesels jy met hulle hoor jy ook verhale van hoop vol avontuur, opwinding en nuwe ontdekkings.
Lees ook: Jaco Strydom gesels met Nadia en DJ Muller: Dominees in die gemeente en die gemeenskap
Wat ontstel julle van die kerk vandag? vra ek.
“Onnodige strukture en red tape,” sê Marietjie, “en dit pla my wanneer mense kies wat hulle in die Bybel wil raaklees en wat nie. Niemand van ons kan alles altyd reg doen nie, maar dan moet ons ten minste eerlik daaroor wees.”
Niel sê dit frustreer hom dat te min van die mooi dinge wat kerkmense graag op Sondae sing, deur die week grondvat, veral as dit by belangrike sake kom, soos die nood in die gemeenskap.
Wat sien hulle raak wat mooi is?
“Daar is wonderlike mense in die kerk. Kollegas en lidmate. Mense wat steeds kies om ’n verskil te maak binne en deur die kerk. Mense wat seergemaak is, maar steeds deel bly van die kerk. Mense wat kwaad is vir die kerk, maar aanbly. Mense wat nêrens anders tuisvoel as binne die kerk nie. Mense wat God diep lief het en tot die beste van hulle vermoë probeer om Jesus na te volg,” sê Marietjie.
“Dit is wonderlik om dit te sien wanneer mense van verskillende agtergronde ’n familie vorm. Passie en liefde is aansteeklik. Daar is toenemend mense uit verskeie gemeentes wat betrokke raak by ons gemeenskap en wat Jesus se liefde prakties sigbaar maak,” sê Niel en vertel hoe meer as een gemeente die laaste tyd hulle geboue oopgemaak het om ruimtes te skep waar jongmense in nood kan woon.
Watter rol behoort die kerk te speel in ’n land soos hierdie in ’n tyd soos die? vra ek.
“Dit is noodsaaklik dat ons nie sal bydra tot die verdeeldheid nie, maar die eenheid bevorder. Ons kan nie altyd die slow-adaptors wees wat laaste in die kraal kom nie. As ons sien hoe die verdeeldheid lyk, is dit ons verantwoordelikheid om die eerstes te wees wat die eenheid bevorder. As NG Kerk gaan ons nie daardie eenheid alleen regkry nie. Ons het ons ander familie nodig. Ek dink nie ons besef hoe nodig ons hulle het nie,” sê Marietjie.
“Caring is sharing,” sê Niel.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.
