Jaco Strydom gesels met Nadia en DJ Muller: Dominees in die gemeente en die gemeenskap

Nadia en DJ Muller is getroud. Albei is dominees, Nadia in ’n gemeente en DJ in die gemeenskap.

Tot redelik onlangs was DJ voltydse predikant op Prieska en Nadia deeltyds, maar die rolle het nou omgeruil. Nadia is vandag voltydse dominee by Simondium Familiekerk, ’n klein NG gemeente tussen die Paarl en Franschhoek. Hulle woon saam met hulle twee kinders in die pastorie op Vrede en Lust.

“Behalwe vir dominee-wees, preek en huisbesoek en so aan, is ek mamma van twee, rig ek netbal af, is geestelik betrokke by skoolaksies en mentor ek ’n teologiestudent,” vertel Nadia.

Sy is baie opgewonde oor wat gebeur by Simondium Familiekerk. Iets wat sy ontdek het, is die waarde van klein wees. Dinge moet party keer eers baie klein word, amper doodgaan, voordat ’n mens nuwe vryheid en potensiaal ontdek. “Ek dink dit is vir ’n gemeente baie goed om amper dood te gaan en dan weer op te staan,” sê sy.

DJ is mediabestuurder van die gemeente, maar dit is net ’n deeltydse pos. Hy is onlangs aangestel as pastor en bemarker (“storieverteller” in sy woorde) by Monte Christo Miqlat, ’n plaaslike nie-regeringsorganisasie (NRO) wat uitreik na veral jongmense in nood.

DJ is nog altyd bewus van sy roeping as musikant en kry toenemend die geleentheid om gemeentes in die omgewing met sang en musiek te bedien. Naweke is hy huweliksfotograaf. En hy vlieg. Praat van ’n allrounder!

Nie jou tipiese pastoriepaartjie nie – as daar vandag nog so iets bestaan.

LEES OOK: Dana Snyman | Daardie gevoel dat alles en almal op aarde verbind is

Nadia en DJ het destyds tydens hulle eerstejaar by die teologiefakulteit op Tuks ontmoet. Teen die einde van hulle studies was hulle vir ’n tyd lank betrokke by Rietfontein-Suid gemeente in Pretoria. Dit was in hierdie tydperk wat Nadia Gebaretaal aangeleer het en betrokke geraak het by die gemeente vir Dowes in die Moot. ’n Saak waaroor sy vandag steeds passievol is. Simondium Familiekerk het onlangs besluit om ten minste een Sondag per maand hulle eredienste in gebaretaal te tolk en dit ook so uit te saai op sosiale media.

“As ek preek kom ek agter ek sukkel om my hande stil te hou,” lag Nadia. Sy vertel hoe sy destyds kopgekrap het oor die besluit om teologie te gaan swot. “Die Here het een van die grootste introverte geroep om voor mense te praat,” sê sy.

Een van die groot draaipunte in haar lewe, waar sy van haar belangrikste lewenslesse geleer het, was haar ma se dood. “My ma se skielike dood in 2016 het my geleer om ’n besondere genuine verhouding met die Here te hê. Om al die bakstene waarmee enige verhouding gebou word, ook met die Here te hê, kwaad, verlief, vertroue, gesprekke ensovoorts,” sê sy. “My pa het my na my ma se dood emmers vol geleer oor vertroue in die Here. Die storms woed om hom, maar hy bly vertrou op God, en bly staan!”

DJ het destyds op ’n uitreik in ’n klein dorpie in Mosambiek, besef dat die Here hom roep om in die bediening te wees. Baie dinge het intussen gebeur. Daar was goeie en moeilike tye. Sy bedanking ’n paar jaar gelede as dominee van ’n gemeente was een van die moeilikste goed wat hy nog moes doen. “Ek moes op ’n baie seer manier ontdek dat my roeping dalk nie binne ’n tradisionele gemeente-opset lê nie,” sê hy.

LEES OOK: Jona vir jonges: Kinderteater vertel van God wat tweede kanse gee

Vandag maak alles meer sin. “’n Paar mense in die wynland het die afgelope jaar vir my gehelp om my eie roeping beter te verstaan. Mense soos Peet Bester, Fanie Kriel en Skillie Botha,” vertel DJ. “Daar is geen manier dat ek die Here kan ontken nie. Hy is vir my net só oneindig real. Ek voel slegs voltooid wanneer ek in sy skadu beweeg en met sy dinge besig is,” sê hy.

Ons gesels oor die uitdagings rondom kerkwees in Suid-Afrika vandag. Wat pla hulle en wat maak hulle opgewonde?

Volgens Nadia ontstaan daar allerhande probleme wanneer mense die kerk wil inrig as ’n tipe gemaksone. “Wanneer kerkmense hulleself nie meer wil toelaat om uitgedaag te word nie, word hulle bloot Sondag-Christene,” sê sy. DJ voel die kerk moet ’n rou, eerlike plek wees in die samelewing. “Ons kan doen met minder voorgee en meer egtheid,” sê hy.

Wat sien hulle raak wat werk?

Hulle glo dat die kerk die potensiaal het om juis dié plek van hoop te kan wees in ’n land soos Suid-Afrika. “Ons is in ’n amazing posisie ‘to love people back to life’. ’n Gemeenskap waar liefde altyd nog kan wen!” sê Nadia.

“Ek sien dat kerkmense ’n rustigheid, of dalk eerder ’n steadiness, in die samelewing inbring. Ek dink ons herinner die wêreld dat daar meer is as net ons,” sê DJ.

Nadia vertel hoe dit haar altyd inspireer wanneer sy kinders sien lag en speel, selfs in gemeenskappe waar dit moeilik gaan.

Hoe lyk hulle toekomsplanne?

“Ons is baie tevrede en content met waar ons nou is,” sê DJ. “Ons wil graag ons gemeente en gemeenskap help om liewer vir mekaar te wees en nader aan mekaar te beweeg. Ons kies ook om ons kinders doelbewus te shape op so ’n manier dat hulle glo dat hulle berge kan verskuif,” sê Nadia. “As ek nie die Here dien nie, wat bly oor? Net ekself? Dit is nie genoeg nie,” sê sy.

  • Ds Jaco Strydom is ’n rubriekskrywer vir Kerkbode. Lees HIER meer oor sy nuwe boek
Word 'n vriend van Kerkbode