Dana Snyman | Daardie gevoel dat alles en almal op aarde verbind is

Op Verdun-sur-le-Doubs, ’n dorpie oos van Parys, kom roep Charles my waar ek in ’n Franse kafee ’n Belgiese bier sit en drink. Buite is dit ongemaklik warm.

“Het jy tyd?” vra hy. “Ek wil jou iets gaan wys.”

Natuurlik het ek tyd. Ons het mekaar twee dae gelede ontmoet, ek en Charles. Ons vaar saam met ’n groep Suid-Afrikaners in rivierbote op die Saône-rivier, meer by dorpies vas, stap in die smal strate en stegies, verken hierdie ou leefwyse, wat vaagweg bekend voel.

Ons stap die hitte in. Aan die onderpunt van die straat is ’n kerk. Of is dit ’n katedraal? ’n Waardige gebou met ’n skuins teeldak. Die horlosie in die kloktoring loop op tyd. ’n Beeld van ’n vrou op die gewel se bopunt. Rooms. 1734, staan teen die muur.

Die swaar voordeur is toe, maar ’n entjie verder staan ’n kleiner deur oop. Eers is jy in ’n leë vertrek, met nóg ’n deur. Charles, ’n boer en sakeman van Heidelberg in die ou Transvaal, swaai dit oop en stap in. Ek volg hom.

My hand vat byna instinktief na my sonhoed en haal dit van my kop af.

Nou staan ons agter in hierdie ou kerkgebou met die hoë dak. En dis skemer. En dit is stil en koel. En alles ruik na ou gebede en genade en iets wat ek nie ken nie.

“Kyk net,” fluister Charles. “Kyk.”

Die rye regop houtbankies tot naby die altaar daar voor. Sewe kandelare op die altaar. Teen een muur ’n beeld van Jesus aan die kruis. By die voordeur ’n bieghokkie: eenkant ’n smal ruimte waar die priester agter ’n gordyntjie kan sit; aan die ander kant ’n bankie waarop die een wat wil kom bieg, kan kniel.

Baie anders as die kerke in Suid-Afrika waarin ons gedoop en in middeljarig geword het. Ons kerke, só voel dit wanneer jy hier staan, is Sondagkerke.

In die hoek is iets wat lyk na ’n tafeltjie by ’n kleiner altaar. Ons voete stap met ons lyf soontoe. Op die tafeltjie is drie kerse. Net een van die drie brand.

As kind is ek geleer om die Rooms-Katolieke Kerk te wantrou. Party mense het gepraat van die Roomse Gevaar in ’n tyd toe ook gepraat is van die Swart Gevaar en die Rooi Gevaar. Die Katolieke aanbid Maria, is ons geleer. Asof dit so eenvoudig is.

By die drie kerse op die tafeltjie lê ’n dosie vuurhoutjies. In die tyd van die Roomse Gevaar, anders as nou, sou ’n NG predikant nie eens ’n kers tydens ’n erediens op ’n Sondagoggend aansteek nie. Te Rooms.

Ek haal ’n vuurhoutjie uit die dosie, glip dit oor die dosie se skurwe kant en hou dit bokant een van die twee kerse wat nie brand nie. Die kers is al vantevore aangesteek, tog is dit asof dit nie weer wil brand nie. Flou gloei die vlammetjie. Flou, nes my geloof is.

Charles neem die dosie vuurhoutjies by my. Die ander kers – ook een wat al voorheen aangesteek is – wil ook nie brand nie. Die brandende vuurhoutjie word al korter in Charles se vingers, maar die kers bly dood.

“Asseblief, Here,” fluister Charles en haal nog ’n vuurhoutjie uit die dosie.

Dan vrek my kers se vlammetjie ook.

Dit is asof ’n mens so-iets persoonlik opneem, asof die kers wat nie wil brand nie iets tussen jou en God is. Asof God vir jou daarmee iets wil sê.

Charles steek een van die nuwe kerse aan wat toe helder brand. Foto: Dana Snyman

Charles stap na die voorkant van die kerk. Ons is nie meer twee mans op vakansie nie, ons is besig om in die stilte te verdwaal. Ons gaan sit ’n ent van mekaar af op een van die voorste banke. Die stilte. Die stilte. En daar is sy: ’n beeld van Maria, die uitdrukking op haar gesig iets tussen ekstase en medelye.

Hoe beskryf ’n mens daardie gevoel wat jy soms in sulke stil oomblikke kry dat alles en almal op aarde aan mekaar verbind is en dat jy intiem deel daarvan is? Dat die lewe ’n Misterie is en sin het al voel dit dikwels nie so nie.

Op pad by die kerk uit, sien ons dit: In ’n houtkassie teen die muur is nuwe kerse wat nog nie aangesteek is nie. Eers haal Charles een uit die kassie, dan ek. Ons maak dit op die tafeltjie by die twee dooie kerse staan.

Die nuwe kers se pit brand maklik. Dapper brand die vlammetjie.

Buite skyn die son steeds warm. Die eerste keer het ek dit gemerk, maar eers nou sien ek hoe afgeleef die kerkgebou van buite lyk. Het een van óns kerke só gelyk, is lankal basaar gehou en geld ingesamel. Dit is baie jare laas geverf en die teeldak is aangepak met mos. Maar daar is iets eerlik aan alles. Dit lyk of die ou gebou asemhaal.

“Kom, ons is laat,” sê Charles langs my. “Ek dink die ander wag al vir ons by die boot.”