Jaco Strydom, mistikus en aktivis, loop in sy nuutste boek Alle sondaars welkom: Gedagtes oor God en die grense van mense in die voetspore van die Moeilikheidmaker van Nasaret. Hy ontwrig lesers se werklikheid. Sy woorde sukkel met jou, torring en krap ook waar dit nie noodwendig gejeuk het nie. Moeilikheid is regtig die dominee se besigheid en Alle sondaars welkom staan in hierdie tradisie, skryf Cas Wepener.
Die essays en gedigte in hierdie bundel gebruik hy soos ’n draadtang waarmee hy grensdrade wat voortdurend in kerk en samelewing gespan word knip en wat enigeen met ’n sin vir orde en beheer kan laat frons. En die “kaggelkakkies” wat telkens op die boodskap van die evangelie gepak word en die eenvoud daarvan verduister, pak hy af. Wat ons onder alles aantref in hierdie bundel is dit – die Christelike godsdiens se boodskap is een van oorrompelende insluitende liefde wat vra om geleef te word.
e-Winkel: Koop die boek hier
Dikwels word daar in teologiese tekste ’n groot klem op veral die betekenis van die krip en die kruis geplaas. Jaco verken ook die tyd tussenin, naamlik Jesus se lewe op aarde. Kyk hoe Jesus geleef het, wat Hy gedoen het, en sy boodskap is glashelder uitgebeeld in dade. En dit is deur hierdie doen-kant van die Christelike geloof uit te wys, dat die skrywer sy lesers uitdaag. Die presiese betekenis van sekere godsdienstige tekste en dogmas is nie altyd voor die hand liggend nie, maar wat gedoen moet word, is eintlik heel verstaanbaar. Daarom het hierdie bundel die potensiaal om gemaklike lewens, gesus in onsekerhede, te ontwrig. Dit erken misterie, maar waag om tóg ook te weet; te weet dat die ou-ou tyding een van oorrompelende insluitende liefde is. Dit is liefde wat geleef moet word. So kan onsekerheid oor wat geloof van my vra verander in sekerheid. En dit is ontwrigtend.

Die skrywer is nie prekerig nie, glad nie, maar hy doen wat ’n goeie prediker veronderstel is om te doen – hy sê nooit “julle” nie, hy sê altyd “ons”. Hy staan saam met sy lesers en nie teenoor hulle nie. Sy hart lê by diegene wat nie na die Fariseër se tafel genooi is nie, maar hy sluit nie die Fariseër uit nie, ook hy is welkom. Dit is seker daarom dat ek met Jaco se gedagtes kan assosieer, want soms is ek een van die laastes wat nie na die fees genooi is nie, maar meer dikwels is ek die gasheer wat nie die laastes nooi nie.
Lees ook: Jaco Strydom gesels met André Bartlett (Julie, 2021)
Jaco die aktivis is ook mistikus, en nog ’n visie wat hy met hierdie bundel oopmaak, is ’n sakramentele wêreldbeeld. Ja, ons word omring deur nood en lyding, maar ook deur wonder en misterie. Jy hoef nie nood mis te kyk om wonder raak te sien nie. Dikwels is die misterie en die wonder juis daar waar ons dit nie verwag nie, maar ons kan dit beter deur die bril van paradoks eien. Deur paradoks te omhels en skynbaar onversoenbare pole – twyfel en sekerheid, geluk en pyn, gemak en ongemak, ordentlikheid en wildheid – nie te skei nie, verskyn paaie en blomme in die woestyn. So laat die skrywer lesers na die wêreld vanuit ’n ander hoek kyk, veral ook die hoek waaruit kinders kyk. So is die slotte telkens sleutels, en hy plant hulle trefseker, maar nie as houe in die maag nie, eerder as handopleggings.
As geheel, die lekker mengsel van genres wat ingesluit is in hierdie bundel én die deurlopende temas, is Alle sondaars welkom ’n spesifieke tipe postkoloniale teks. Hoekom? Omrede die bundel as geheel die werklikheid van lesers, hoe ek die wêreld en my plek daarin sien, bewustelik ontwrig. Dit disoriënteer en daag uit, maar nie om my daar te los nie. Inteendeel, dit word gedoen sodat ’n ander visie in die plek van die bestaande kan kom. Hy help lesers om ook nuwe scenario’s vir optrede te verbeel. En tog is hierdie ander visie en nuwe scenario’s wat na die ontwrigting begin deurskemer, eintlik net die ou-ou storie, of in die taal van die Hallelujalied is dit “die ou-ou tyding”, spesifiek “van Jesus sondaarsliefde” en Jaco Strydom “bring dit eenvoudig.” Dit is egter daardie eenvoud, daardie helder verstaanbare kant van die ou-ou tyding wat, nadat jy eintlik enige boek of rubriek van Jaco klaar gelees het, soos ’n dekselse duwweltjie in jou sandaal bly.
- Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.