Die kerk se verhouding met die Moslemgemeenskap

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die lyding van die Moslemgemeenskap in Christchurch as gevolg van die gewelddadige aanval op 15 Maart in ’n moskee, het Christene wêreldwyd en ook vir ons hier plaaslik, diep ontroer. Ons hart gaan uit na die families van diegene wat hulle lewe op so ’n onsinnige wyse verloor het, asook dié wat nog herstel van hulle beserings.

Ons is bewus van ander plekke in die wêreld waar daar ook godsdienstige ekstremiste is wat op gewelddadige maniere ander hulle reg op hulle eie oortuigings en leefwyse ontneem. Ons vriende van die kerk wat destyds deur ons sendelinge in Nigerië geplant is, ly byvoorbeeld al die afgelope jare ernstig onder die brutale aanslae van die sogenaamde Fulani-herders. Ons is nie net sterk gekant teen alle geweld nie, maar ook teen enige persoon of organisasie wat mense hulle waardigheid en vryheid ontneem op grond van vooroordeel, onverdraagsaamheid en etikettering.

In Kaapstad en die Skiereiland leef mense van verskillende godsdienste baie naby aan mekaar. Die Groote Kerk, ons oudste gemeente, is binne loopafstand van die Bo-Kaap. Die geskiedenis van die mense van die Groote Kerk en dié van die Bo-Kaap is op punte nou verweef. Christene en Moslems in die Skiereiland is ook dikwels familielede van mekaar en woon in talle gevalle in dieselfde huis of buurt. Die Groote Kerk speel saam met ander geloofsgemeenskappe ’n groot rol in die handhawing van die respekvolle verhoudings wat daar tussen die onderskeie godsdienste in die Kaap bestaan. Dié respek bestaan ten spyte van die groot verskille tussen die oortuigings van die onderskeie godsdienste. Die NG Kerk in Wes-Kaapland is dankbaar teenoor die Groote Kerk, waarvan lidmate deelgeneem het aan ’n nagwaak wat gehou is by die Anglikaanse katedraal in Kaapstad na die Christchurch-tragedie. Binne die konteks van die Groote Kerk, maar ook van ons land, was dit ’n belangrike gebaar.

As kerk verstaan ons dat God in sy groot genade vir alle mense lief is en dat alle mense se lyding Hom diep raak. Ons verstaan ook dat die God waarin ons glo die Vader en Skepper van alles en almal is. Hierdie belydenis hef nie die diepgaande verskille tussen ons op nie, maar dit dui op ons menslike verbondenheid aan mekaar en dus ons verantwoordelikheid om mekaar te beskerm. In tye waarin mense mekaar doodmaak oor hulle godsdienstige en ideologiese verskille moet ons mekaar juis nou daaraan herinner dat ons aan God verantwoordbaar is wat ons almal geskape het en ons in vrede wil sien saamleef. As Christene is ons verbind aan Jesus Christus as Verlosser en Redder. Maar dit is juis in navolging van hierdie Christus dat ons die waardigheid van God se mense erken en met hulle in vrede saamleef.

In navolging van Christus reik ons ook uit na ons naaste in nood, ongeag die persoon se agtergrond, oortuigings, ekonomiese vermoë of watter eienskappe ookal. S het Jesus ons geleer. Sy vertelling van die verhaal oor die Barmhartige Samaritaan dui immers sterk op die werklikheid dat jy in tye van nood en bedreiging kan ontdek dat andersdenkendes jou naaste geword het. Ons het groot respek vir ons Moslem- en Joodse vriende en dié van ander godsdienste. Ons het oor die jare uitstekende verhoudings gehandhaaf en dien saam in godsdienstige forums wat onder meer die belange van die godsdiensgemeenskappe by die staat verteenwoordig. Ons is ondubbelsinnig en onvoorwaardelik verbind tot die beskerming van hulle Godgegewe menswaardigheid.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.