Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Ons bly NG Kerk,’ sê ds Helgard Janse van Rensburg (tweede van regs) oor besluite van leierskap van die ‘behoudende’ groepering gemeentes bekend as Koinonia Sinode om bande te breek met die Algemene Sinode. Regs van hom is prof Hoffie Hofmeyr en op links sit ds Theo Danzfuss met verder weg ook sittend, ds Dubois du Toit van Kestell in gesprek met ds PC Pretorius van Moreletapark. Foto's: Heléne Meissenheimer

Koinonia Sinode hou saamtrek by Kaapse gemeente

Die leierskap van ’n groepering “behoudende” gemeentes sê hulle bly deel van die NG Kerk al sou hulle besluit om alle bande op te skort met die Algemene Sinode.

“Ons bly NG Kerk en ons wil die slegte naam wat deur vrysinnigheid ingesluip het van binne af herstel. Ons uiteindelike mikpunt is bekering,” het ds Helgard Janse van Rensburg Vrydag op 24 November tydens ’n halfdag-“terugvoersessie” in die Strand oor die Algemene Sinode 2023 gesê.

Lees ook: Elders gesien: Herderlike brief van die Algemene Sinode 2023: ‘Gaan voor ons uit, Here’ 

Dié Vrystaatse gemeenteleraar en oud-moderator is een van die leiers van Koinonia Sinode (KS), ’n groepering van 56 gemeentes wat in Mei vanjaar gevorm is. Hy is ook deel van die Kairos Netwerk wat hierdie saamtrek gereël het en sê hulle wil die kerk van binne reformeer.

Die byeenkoms in die Strand is deur sowat 100 mense bygewoon.

Die Koinonia Sinode Diensgroep (KSD), die naam van KS se verkose leierskap, het op 1 November vergader om na afloop van die afgelope Algemene Sinode te “besin oor die pad vorentoe vir Skrifgetroue NG gemeentes en lidmate”, luidens ’n inligtingstuk wat by die oggendsessie versprei is. Daarin staan ook dat KSD alle bande opskort met die Algemene Sinode (AS) maar verband behou met ringe en gemeentes “wat getrou is aan ons lidmaat-, legitimasie- en ampsbeloftes en hulle openlik distansieer van die dwalinge van die Algemene Sinode en die teologiese fakulteite”.

Lees ook: Elders gelees | Die Koinonia-Sinode van die Kairosbeweging: Algemene Taakspan Regte adviseer

Die byeenkoms is deur sowat 100 mense van gemeentes in Kaapse voorstede asook die Overberg, selfs Fraserburg in die Karoo en Jeffreysbaai in die Oos-Kaap bygewoon en is deel van ’n reeks sulke ontmoetings wat ook in ander provinsies plaasvind.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top