Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Brief: Beleef ‘iets wonderliks’ by seniorklub

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Hennie Boshoff van Kraaifontein skryf:

Dit is vir my en my vrou Rita, met wie ek 64 jaar getroud is, ’n jare lange voorreg om aan die NG Kerk te behoort. Ons is albei gedoop, het belydenis van geloof afgelê en ons twee kinders is ook gedoop. Ek het meer as 30 jaar op die kerkraad gedien en vir 57 jaar koor gesing. Deesdae lei ek en twee dames die voorafsang tydens die oggenddienste. Ons het al baie veranderinge beleef, party goed en party dalk nie.

Op 16 Februarie 2004 het iets wonderliks in ons gemeente, Kraaifontein-Noord, gebeur. ’n Groep seniors het bymekaar gekom en die Ken-Mekaar-Klub gestig. Dit sou tot goeie gevolge vir die gemeente lei. 

Ons hou drie Woensdae per maand Bybelstudie en elke derde week verkeer ons sosiaal. Hierdie saamkuier gaan soms gepaard met ’n spreker wat oor ’n onderwerp praat wat op seniors van toepassing is, bv. boedels en testamente. Ander kere tree daar kunstenaars op of ons reël ’n geleentheid met ’n tema soos Lente, Wilde Weste of sommer net saamkuier oor vis-en-skyfies in ’n “parcel”. Ons het ook al uitstappies na reservate en blommeskoue onderneem waar ons lekker gekuier het en saam eetgoed, koffie, tee of sap geniet het.

Tydens die week van 8 – 15 Oktober 2023 het ons programme aangebied met die oog op ’n seniorweek.  Die week het begin met ’n erediens met die tema “lag” met verwysing na Abraham en Sarai se reaksie op die nuus dat hulle ’n seun sou hê. Op 10 Oktober het ’n gaskunstenaar die seniors se litte lekker los gemaak en die lagspiere goeie oefening gegee. Die seniors van die gemeente en uit die gemeenskap asook die inwoners van Huis Ravenzicht en lede van Meals on Wheels is op 11 Oktober getrakteer op heerlike eetgoed sowel as die musiek van dieselfde gaskunstenaar met sy besonderse talent.

Ons seniorweek is afgesluit met nagmaal. Van ons senior dames het saam met ons altyd behulpsame (heelwat jonger) skriba aan die tafel gesit. Ons het “As Hy weer kom” saam met klavierbegeleiding gesing. Elkeen het ook ’n pragtige boekmerk vanaf die jeug ontvang as herinnering aan die week.

My droom sou wees dat elke gemeente wat hierdie brief lees, ook ’n seniorklub op die been sal bring. ’n Groep wat omgee en behulpsaam is by die bediening van seniors.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.