Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ds Van Rooyen Terblanche (1953 – 2022)


Van Rooyen Terblanche is op 18 Augustus 1953 gebore op Robertson. Sy vader was Gert Ignatius van Rooyen Terblanche, ’n boer en sakeman op die dorp. Sy moeder is Anna Dorethea Strydom. Van Rooyen begin sy skoolopleiding in 1960 aan die Laerskool Robertson en matrikuleer in 1971 aan die Hoërskool Robertson. Hy is ’n kringleier van die CSV in sy skooljare. Na matriek doen hy diensplig in 1972 en hy werk daarna tot in 1975 by Sanlam in Bellville.

Van Rooyen voel geroepe om predikant te word en begin in 1975 met die BA (Admissie) aan die Universiteit Stellenbosch  waar hy in 1977 sy graad verwerf. Hy is ’n inwoner en later primarius van Huis Majuba, kringleier en bestuurslid van die ACSV en voorsitter van die Junior Rapportryerskorps. Hy kry ook ’n beker vir die beste hoofspeler tydens die Dramafees aan die Universiteit Stellenbosch. In 1978 word hy student aan die Fakulteit Teologie op die walle van die Eersterivier, waar hy die BTh-graad verwerf en hy skryf ’n skripsie vir sy lisensiaat in die Teologie oor: “Andrew McGregor: van kindervriend tot redakteur van die Kindervriend”. Aan die einde van 1982 word hy as proponent gelegitimeer.

Prop Van Rooyen Terblanche word op 2 Februarie 1983 met handoplegging in die NG Gemeente Vasco ontvang en bevestig, ’n gemeente waar hy met oorgawe en entoesiasme werk tot hy in 2001 sy demissie ontvang nadat sy predikantspos weens finansiële oorwegings afgeskaf word. Hy word later leraar van die NG Gemeente Prieska op die walle van die Grootrivier, waar hy op 2 April 2005 ontvang en bevestig word. Hier emeriteer hy op 28 Februarie 2019 waar hy sulke gelukkige oomblikke beleef het. Hy was nooit getroud nie en sterf op 17 November 2022. ’n Troosdiens word in die NG kerkgebou van Prieska gehou waar sy besondere lewe gevier word.

Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.