David Magerman van Komaggas skryf: Jesméne Isaacs is nie meer nie. Sy het vertrek na haar hemelse huis. Ons sal haar met deernis en teerheid onthou, vir haar onwrikbare geloof in God, die getuienis van haar geloofsekerheid en haar geloofsvolharding en geloofsuithouvermoë, tot die bitter einde toe.
Sy het die geloof behou enduit…en in en deur haar siekte…die paar jaar…méér andere inspireer en bemoedig, in hulle lewensuitdagings en krisisse….sy was ’n ware Ambassadeur en Instrument en Spreekbuis vir die Here, ’n Kanaal van Hoop…wat haar siekte nie gebruik het tot selfbejammering nie, maar siele vir Christus te win en te help dat ’n mooier en beter wêreld ontwikkel en totstand kom dmv haar getuienisse en ervarings uit haar lewe…sy is nou by die Here, haar Verlosser en Saligmaker.” Dis die woorde van ds Pedro Aden Oktober van Vredendal.
Jesméne is van Namakwaland in die Noord Kaap. Sy het met haar lewe baie mense positief beïnvloed. Sy het inderdaad haar lig laat skyn. Mag haar sterwe, nuwe lewe vir baie mense bring…”Soms gooi die lewe ons nie waar ons wil wees, maar dan vra jy jouself af. “GAAN DIE LEWE DAN OOR MY?” Dan kom ek by die antwoord uit – NEE die lewe gaan nie oor jou.
Jy is God se instrument en daardeur sê God, my werk sal deur jou gedoen word. God is lewe. God is jou lewe. God is prioriteit.
Ons lewens – moet gaan oor ons God, en ons Verlosser, nie oor die wêreld. In die wêreld, maar nie van die wêreld – sodat ons alles hanteer in Gees en nie vlees.
Amen.”
Dis die woorde (aanhaling) van Jesmène Isaacs. Jesmène se dood het so baie mense geraak. Sy was inderdaad iemand wie so baie mense, hoop gegee het. Sy was ’n warrior. Sy laat dink my aan die vraag van Jesus: “Kan jy die beker drink?” Die vraag wat Jesus gevra het. Can you drink the cup. Nie enige beker nie, maar die lydensbeker. Daardie beker wat ons laat terugdeins. Daardie bitter beker, wat vrees by ons inboesem. Daardie beker wat Jesus gebid het – “Vader laat hierdie beker by my verbygaan, maar nie my wil nie, maar U wil.” Die beker van lyding wat ons nie wil drink nie. Maar Jessie het haar beker embrace, sy het ook haar beker gedrink. Sy het haar beker enduit – of leeg gedrink…
Jesméne was en is ’n kind van God. Haar lewe was ’n ope brief. Sy het mense geïnspireer, ja sy het mense hoop gegee. Sy was ’n ligtoring – wat lig gebring het in die donkerte. Ek saluut haar! Alhoewel die kanker haar liggaam gebreek het, was haar gees lewendig. Kanker kon nie haar gees gebreek het nie. Sy het getrou gebly, sy was gehoorsaam tot aan die einde. Jesmène het haar kruis gedra en die Here gevolg. Sy het my persoonlik so gestig, my aangeraak. Soos die dissipels van ouds, was sy gehoorsaam tot die dood. Sy is iemand van die Weg…soos die vroeë volgelinge van Jesus genoem was. Sy het die Weg, die Waarheid en die Lewe geken. Dis hoekom sy getrou kon bly deur al haar uitdagings…