Die moderator van die Sinode van Wes-Kaapland sit kruisbeen langs die Eersterivier op Stellenbosch. Voor hom, op die gras, rus ’n Cortado-koffie wat hy pas by ’n mobiele koffiestasie in die Laan gekoop het.
Ds Marinus Theron hou vanoggend op letterlike wyse by sy voorneme van verlede jaar om nie sy voorganger se skoene te dra nie. Hy sit hier in ’n paar stowwerige Mizuno-tekkies met sy stapstok wat eenkant lê en die sweet wat sy hemp teen sy rug pleister op ’n warm weeksdag in die Boland.
Die gadget op sy horlosie sê ons het vandag reeds 11 184 “steps” agter die blad. “Maar ek het in die huis ook gestap … Kom ons sê 11 000 treë,” verduidelik Theron meer eksak wanneer ek hom uitvra oor presies hoe ver die pas afgelope stap-en-gesels-onderhoud met Kerkbode was – berg op en af vanaf Coetzenburg-sportgrond.
Theron is ’n sportiewe 56. Gebore op Nelspruit, toe na Tsitsikamma – “drie en half jaar van paradys op ’n plaasskool”, toe van St 3 tot matriek in Rustenburg, ’n dorp wat die jong politiek-nuuskierige Theron in die laat sewentigs en begin 80s iets van verdeeldheid geleer het. “Die splitsing in ’n gemeenskap waar mense vriendskappe beëindig,” merk hy op oor gebeure ná die stigting van die Konserwatiewe Party as opposisie tot die heersende Nasionale Party.
Theron het aan die Universiteit van Pretoria gaan teologie studeer ná ’n roepingsbesef, aanmoediging deur ’n plaaslike dominee “om bevestiging te kry” en toe ’n deurslaggewende gesprek met sy pa, wat intussen oorlede is. Eerste gemeente was in die Kaapse noordelike voorstede. Goodwoodpark, wat die parlementêre behuisingsgebied Akasiapark ingesluit het en politici soos Andries Treurnicht op die jong dominee uit die noorde se huisbesoeklysie gesit het. Vandaar is hy en sy vrou Gesie na Saldanha. En daarna Caledon in die Overberg. “Nou het ek die voorreg om my laaste tien jaar op hierdie pragtige plek (Stellenbosch) te wees,” vertel Theron soos hy verby die Ertjieskloofdam bo Coetzenburg se groen rugbyvelde haas en die berghang opskuif teen ’n tempo wat ’n mens se asem laat jaag en jou vergeefs vir ’n tiptol of glasogie laat uitkyk soos die fynbostakke verbyswiep!
Die Therons het twee dogters, Gita en Nina, maar dit is veral sy pa waarna dié leraar ’n paar maal in ’n wydlopende gesprek, wat meer gesels as onderhoud is, terugkeer. Sy ma was ’n huishoudkunde-onderwyseres “in ’n tyd toe jy nie mag kos mors nie en alles in jou bord moes opeet.” Sy pa, een van vier kinders, het ’n passie vir landbou gehad, maar kon nie op die familieplaas gaan boer nie. Hy’t as boekhouer die korporatiewe leer geklim, vertel Theron. “Sonder om ooit bitter te wees,” sê Theron meer as een keer oor daardie ongeleefde lewe-aspek van sy vader se verhaal wat by dié toehoorder iets van die Amerikaner Robert Bly se versreël aanroer, “a restaurant cook who painted at night”, uit sy gedig Finding the Father.
Theron het beide sy ouers se gedenkdienste behartig.
En toe word Stellenbosch-Wes se dominee in 2023 moderator (voorsitter) van een van die NG Kerk se tien streeksinodes, die rykste aan lidmate binne die denominasie. Voorheen was Theron as skriba ook in die sinodale leierskap (hy sê dit pas sy “lysie-mens”-aard). Moderatorskap is nie iets waarvoor hy hom beywer het nie. “Dit het my seker ses maande gevat om gemaklik te raak in my eie vel,” sê Theron. Sy voorganger was ds Nelis Janse van Rensburg. Dié was tegelyk moderator van dié streeksinode, én voorsitter van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Dit als in ’n spanningsvolle tydperk in die kerk. “Ek gaan nie Nelis se skoene by hom leen nie,” was die frase waarmee Theron in Mei verlede jaar ’n bietjie verwagtingbestuur toegepas het ná sinodegangers hom op Goudini verkies het. Die kieswerk word gedoen deur verteenwoordigers van dié streeksinode se 224 NG gemeentes. En hoewel dit kwalik moontlik is om by al dié gemeentes uit te kom in sy termyn is die tweede beste opsie wel eerste op sy agenda: “Die volgende twee jaar wil ons by ringe uitkom. Aan die een kant om te luister. Wat het gemeentes nodig? Moet ons aanpassings maak? Wat moet diensgroepe doen sodat gemeentes weet, ons word gehelp om te floreer,” verduidelik Theron dié kerndeel van die moderatuur se prioriteitelys. “Op skrif is daar 25 ringe, maar eintlik moet die twee kleinstes (Kuilsrivier en Brackenfell, op vier gemeentes elk) saamsmelt en een word. So ons beplan so 12 besoeke per jaar.”
Die doel klink eenvoudig. Theron verwag dat ringe, hierdie kerkeie struktuur met die naam wat dalk effens vreemd op die oor val maar eeue oue wortels het en uiters effektiewe hefbome vir samewerking vorm, die NG Kerk se toekoms sal help rig. “Ringe moet nuwe leiers geleenthede gee. Jy kan dit nie vanuit ’n Bellville-kantoor of sinodale struktuur doen nie.” Later voeg Theron by: “Die sinodale sisteem het sy bestaansreg te danke aan gemeentes. Die sinodale diensgroepe is daar om ondersteuning aan gemeentes te bied tot voordeel van gemeenskappe.”
Wat verander as ’n mens moderator word? “Ek beleef skielik ’n bietjie agterdog teen power … Ek vat dit egter nie so persoonlik nie,” antwoord Theron. “Almal het mag. Die vraag is of ’n mens dit ten goede gebruik,” meen hy.
Hy weet daar lê op hierdie einste ringsbesoeke waarskynlik ook vir hom ontmoetings voor wat dalk moeilike gesprekke oor verskille sal insluit. “Ek sien uit na ontmoetings, want ek sal vir die (persoon) eers wil vertel van my persoonlike stiltetyd van die oggend. En vir die persoon wil vra, wat was jou ontmoeting met Jesus vanoggend? Dan praat ons ’n bietjie daaroor.”
Theron is ’n ontspanne en innemende gespreksgenoot – asook iemand wat meer as een keer sal opmerk dat hy “nie vroom wil klink nie”. Voorbeeld: Wat is die belangrikste wat jy nou (in jou werk) moet doen? Antwoord: “Johannes 15 … Bly in my, bly in my liefde. Dit klink na ’n vroom sinnetjie maar ek is 100% ernstig daaroor. Ek nooi nie Christus saam op my reis nie. Ek sluit aan by Hom.”
Vroom of te not, hy is gemaklik met die feit dat hy nie “een van hierdie omstrede ouens” is nie. “Aktivisme help my nie, want ek dink hulle raak soms die vyand teen wie hulle baklei. Ek hou van ’n gebalanseerde beskouing van die lewe.”
Tesame met die ander lede van die moderatuur was Theron onlangs op ’n retraite. “Hoe sou ons in 2027 (einde van die termyn) wil terugkyk?” was een van die vrae waaroor moderatuurslede gesels het. “Ons sal wil hê gemeenteleiers moet kan sê, ons is ondersteun en ons is gehelp om ons roeping uit te leef,” vertel Theron.
Wat beteken roeping? “As ’n mens vanuit roeping begin dink dan moet gemeentes anders kyk na hulle identiteit op ’n plek,” meen Theron. “Dan moet gemeentes hulle oog op ’n gemeenskap hou en sê maar, ons kan tog nie net ’n eksklusiewe groepie wees vir een taalgroepering, een bevolkingsgroep ensovoorts nie … Ons moet ’n voetspoor in die gemeenskap hê … ons sukkel daarmee,” sê dié moderator wat nie gemik het vir moderatorskap nie.
“My pa het vir my gesê toe ek koshuis toe is, as almal van jou hou is daar fout. En dis ’n vreemde uitdrukking, maar dit het so waar geword. Jy moet vanuit die staanspoor weet jy gaan nie aan al die verwagtings voldoen nie. Die oomblik wat jy aan al die verwagtings voldoen moet ’n ou pasop. Dan’s jy by jou vals self. Dan leef jy in jou ego in.”
Theron se spiritualiteit hang saam met die idee van geloof as praktyk. “Ek vat Jesus baie ernstig op.” En dan doen hy goed wat lekker is. Maak tuin, sing koor (“’n Koor skep die ruimte vir beperkte talente om ’n plek te hê!” skerts hy), gereelde oefening en bergfietsry. Hy haal die teoloog Richard Rohr aan en sê “ons bestem vir vreugde en dit begin nie eers met die wederkoms van Jesus nie. “Nee, nou reeeds.”
Dié uitkyk moedig hy wyd aan en hy glo mense vind aanklank daarby. “Mense sense, ons moet tog lekker goed doen. Heerlikheid, dit help nie ons het ’n moderatuur wat kromruggies loop en lyk asof hulle die flippen wêreld se probleme op hulle agenda het nie … As ons nie nou al kan fun hê nie … Fun laat die temperatuur afkom. Fun is stap, gholf speel, ’n glas wyn drink, shows kyk … Ja, en nie heeltyd oor die kerk te praat nie”.