“Om ’n erediens in Lydenstyd te hou wat drup van lament is hoop in aksie”.
Só sê prof Cas Wepener, die Stellenbosse teoloog en skrywer. Heléne Meissenheimer het met hom gesels oor ’n nuwe boek wat hy saam met sy kollega, dr Dawid Mouton van die VGK, saamgestel het. Met ’n titel soos Lamenting for change en die subtitel: Worship and preaching for social impact, Resources for a season of lament in service of hope mag dit klink of die boek ’n swaarmoedige ervaring bied, maar Wepener verskil. Hy omskryf dit as ’n hulpbron wat geloofsgemeenskappe kan help om tydens Lydenstyd op Bybelse wyse te kla juis om ons te help met die blues waarin ons is.
Die boek wil ook geloofsgemeenskappe help om mense in die land se pyn te sien en hoor. Hieroor sê hy, “Die boek se droom is dat ons anders kyk maar ons kan dit ook maak dat ons anders hoor. Dikwels hoor ek daar buitekant ’n lawaai. Ek hoor hoe mense betoog, protesoptogte byvoorbeeld en dit klink vir my of hulle vir my brul en asof hulle vir my wil byt, maar ek dink soms kan ons ’n tweede keer luister. En fyner luister. En dan hoor ons soos daai liedjie van Bright Blue tereg gesing het … ‘It wasn’t roaring, it was weeping’“.
Die boek bevat 14 preekvoorstelle deur 13 teoloë van die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch. Dit kos R240 en word uitgegee deur Bybel-Media.
Kerkbode is ’n Bybel-Media-publikasie.

