Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Foto's: Le Roux Schoeman

‘SA kort ’n opvolg-wonderwerk’, pleit Storey by Teologiese Dag


Met groot, vinnige treë stap eerw Alan Storey tot vlak voor prof Robert Vosloo waar die oorblufde teoloog nes mededosente en studente by die Universiteit Stellenbosch se Teologiese Dag op 12 Februarie wonder wat op aarde dié begeesterde spreker en storieverteller besiel.

“As jy nie weet wáár jy is nie, gaan jy ander seermaak in die proses om by jou bestemming uit te kom,” vertel Storey, wat op die program as “Gospel storyteller” beskryf word en inderdaad die gehoor van sowat 300 geboei het.

Eerw Alan Storey

Sy tema – nes dié van drie medesprekers die oggend was rondom aktivisme. “On witnessing in public 30 years after the transition to democracy in South Africa,” het die uitnodiging tot hierdie geleentheid, wat Maties by die Kweekskool se akademiese jaar help afskop, gelui.

Geborg

Dit is leiers wat tipies sê waarheen volgelinge moet gaan, maar dit is ’n algemene leierskapleemte, meen Storey, dat leiers inderwaarheid nie weet waar ons onsself bevind nie. Hierdie einste leemte was by die onlangse Staatsrede op vertoon, meen Storey: die onvermoë van ons president om op waaragtige wyse te sê waar ons land tans is.

Studente en dosente by Universiteit Stellenbosch se Teologiese Dag op 12 Februarie 2024.

Studente en dosente by Universiteit Stellenbosch se Teologiese Dag op 12 Februarie 2024.

Die punt van sy energieke voordrag vir die diverse studentekorps voor hom: Ons benodig nog ’n wonderwerk om die “reeds wonderbaarlik getransformeerde” instelling en land te transformeer.

Storey, ’n Metodis en aktivis, het aan die hand van vlot Ou-Testamentiese beeldspraak gesê Suid-Afrika is uit die “land van die sweep” en onderweg na ’n beloofde land maar sonder twyfel tans in die woestyn. “Daar waar water min is, waar vleis nie gewaarborg is nie, waar hospitale vasdraai en tronke oorvol is … waar die regstelsel op Stalingrad-agtige wyse stagneer.”

Prof Juliana Claassens, een van die sprekers.

Storey was krities oor hede en verlede. Apartheid was nie ’n goeie sisteem wat misluk het nie, dit was ’n bose sisteem wat geslaag het; en steeds slaag waar ons geskei is en waar daar dan noodwendig wedersydse wantroue sal wees, het die spreker gesê. Oor korruptes wat ons instellings uithol: “Ons ontdek die pyn dat ons juis dit was ons haat kan word. Apartheid was korrup,” het Storey gesê.

Ander sprekers was dr Seelan Naidoo wat aktivisme soos ’n snoek oopgevlek het en die dele op die naam genoem het om te vermy wat hy die “patologie van gedeeltelike waarheidspraak” noem. Gelowiges kan ’n verwonde wêreld nie die rug keer nie, het Naidoo, verbonde aan Public Ethos Consulting, gesê. “Ons benodig aktiviste, maar ingeligte aktiviste,” het hy gesê, wat die milieu waarin hulle optree, verstaan.

Dr Seelan Naidoo, hoofspreker.

Sien die vier “soorte” aktivisme op die grafika hieronder.

Aan die hand van die grafika het Naidoo gepleit vir aktiviste wat hulleself bewustelik gedra op ’n spektrum wat kan vasval in ekstreme posisies soos “permanente verwondheid” of “nuwe-bladsy-idealisme”.

Geborg

Prof Juliana Claassens, ’n dosent aan die Teologiese Fakulteit, het oor die krag van poëtiese taal gepraat – die werk om weerloses met woorde “te bedek” en te beskerm en die profetiese taak om nie net pyn te verminder nie, maar die oorsaak aan te spreek. Sy het Bertolt Brecht aangehaal: “In the dark times, will there also be singing? Yes, there will also be singing. About the dark times.”


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.